Spring na inhoud

Die dowes word gehelp in die “Gordel van Smarag”

Die dowes word gehelp in die “Gordel van Smarag”

Miljoene dowe en hardhorende mense woon in Indonesië, wat soms die “Gordel van Smarag” genoem word. Om hierdie mense te help voorsien Jehovah se Getuies ’n groot verskeidenheid Bybelmateriaal en onderrigtingsprogramme in Indonesiese Gebaretaal. Hierdie hulp word deur baie waardeer.

’n Streekbyeenkoms in gebaretaal

In 2016 het Jehovah se Getuies ’n streekbyeenkoms in Indonesiese Gebaretaal in Medan, Noord-Soematra, gehou. ’n Belangrike sekuriteitsbeampte in die gebied het na die byeenkoms toe gekom en die Getuies geprys omdat hulle gratis onderrigtingsprogramme aanbied. Hy was so beïndruk deur wat hy gesien het dat hy selfs probeer het om saam met die gehoor in gebaretaal te sing.

Die byeenkoms was “veilig en suksesvol”, het die fasiliteitsbestuurder gesê. “Ek hoop dat die Getuies sal aanhou om sulke nuttige aktiwiteite te reël om die dowes in ons gebied te help.” Hy het bygevoeg dat die eienaar van die fasiliteit, toe hy uitvind dat die byeenkoms vir dowe mense was, “iets goeds vir die Getuies wou doen. Daarom het hy vir my gesê om middagete te voorsien vir [al 300] mense wat by die byeenkoms was.”

Waardering vir video’s in gebaretaal

Jehovah se Getuies besoek ook dowe mense by hulle huise om die Bybel se boodskap met hulle te deel. Die Getuies gebruik dikwels video’s in Indonesiese Gebaretaal wat ontwerp is om mense te help om produktiewe en bevredigende lewens te geniet.

“Die werk wat julle doen om die dowes te help en in hulle behoeftes te voorsien, moet geprys word”, het Mahendra Teguh Priswanto gesê, streeks-adjunkdirekteur van die Indonesiese Vereniging vir die Welsyn van die Dowes (Indonesian Association for the Welfare of the Deaf) in die stad Semarang, Sentraal Java. “Die video Julle gesin kan gelukkig wees is byvoorbeeld baie nuttig. Ons sal dit waardeer as julle aanhou met hierdie werk.”

Hulle “betoon liefde”

Yanti, ’n dowe vrou, was diep geraak deur wat die Getuies gedoen het. Sy verduidelik: “Mense spot dikwels dowe mense, maar Jehovah se Getuies betoon liefde. Baie horende Getuies leer gebaretaal om dowe mense te help om die Skepper te leer ken en om die gehalte van hulle lewens te verbeter. Ek was diep geraak deur hulle opregte hulp.”

Yanti het op die ou ent een van Jehovah se Getuies geword en is nou deel van ’n vertaalspan wat video’s in Indonesiese Gebaretaal vervaardig. Sy sê: “Die materiaal wat ons vervaardig, help party wat nie so goed in gebaretaal is nie, om beter te word daarin. Maar dit leer mense ook hoe om gelukkige en betekenisvolle lewens te hê.”