Spring na inhoud

Vertaling sonder dat woorde neergeskryf word

Vertaling sonder dat woorde neergeskryf word

Jehovah se Getuies het al Bybellektuur uit Engels in 900 tale vertaal. Om geskrewe teks uit een taal in ’n ander taal te vertaal, is moeilik genoeg. Maar gebaretaal-vertaling behels ekstra werk. Baie dowe mense kommunikeer deur hulle hande en gesigsuitdrukkings te gebruik. Daarom vertaal gebaretaal-vertalers teks na video. Op hierdie manier het die Getuies publikasies in meer as 90 gebaretale vertaal.

Wie is die vertalers?

Soos alle Getuie-vertalers is diegene wat die vertaling in gebaretaal doen, goed bekend met die taal waarin hulle vertaal. Baie van hulle is doof en het met gebaretaal grootgeword of hulle kan hoor, maar hulle het met dowe familielede grootgeword. Die vertalers is ook ywerige studente van die Bybel.

Nuwe vertalers kry uitgebreide opleiding as dit kom by die beginsels van vertaling. Byvoorbeeld, Andrew sê: “Hoewel ek na ’n skool vir dowes gegaan het terwyl ek grootgeword het en gebaretaal gebruik het, het die opleiding as ’n vertaler my gehelp om die grammatiese struktuur van die taal te verstaan. Die ander vertalers het my geleer hoe om my gebruik van gebare, gesigsuitdrukkings en liggaamsbewegings te verbeter sodat ek idees akkuraat kan oordra.

Die gehalte van die vertaling word verseker

Vertalers werk saam as ’n span. Elke lid speel ’n spesifieke rol, of dit nou vertaling is, om die vertaling na te gaan of om dit te proeflees. Dan, waar dit ook al moontlik is, word die vertaling hersien deur ’n groep dowe mense uit verskillende plekke en agtergronde. Die groep se voorstelle word gebruik om die vertaling beter te maak. Hierdie stap verseker dat die gebare en uitdrukkings wat gebruik word, natuurlik is en dat die boodskap in die finale video akkuraat en duidelik is.

Die Finse Gebaretaal-vertalingspan bespreek die teks wat vertaal moet word

Gebaretaal-vertalers gaan gewoonlik na gemeentelike vergaderinge wat in gebaretaal gehou word. Hulle hou ook dikwels Bybelstudies met dowe mense wat nie Getuies is nie. Op hierdie maniere bly vertalers op hoogte met die taal.

’n Brasiliaanse Gebaretaal-vertaler neem ’n video van die vertaling op

Hoekom soveel moeite?

Die Bybel wys dat mense uit “alle nasies en stamme en volke en tale” sou reageer op die vertroostende boodskap wat hoop gee (Openbaring 7:9). Diegene wat gebaretaal gebruik om te kommunikeer, is natuurlik deel van hierdie mense.

Die vertalers is bly om hulle tyd en vaardighede te gebruik vir hierdie belangrike werk. ’n Vertaler met die naam Tony sê: “Omdat ek doof is, weet ek hoe moeilik dit vir dowe mense is. Dit was nog altyd my diepe begeerte om soveel dowe mense as moontlik te bereik en om die ware hoop uit die Bybel aan hulle oor te dra.”

Amanda, wat ook saam met ’n gebaretaal-vertalingspan werk, voeg by: “Ek voel meer produktief as wat ek by my vorige werk gevoel het omdat ek publikasies vertaal wat die Bybel se boodskap aan die dowes oordra.”

Hoe kan jy video’s in jou gebaretaal vind?

Die artikel “Vind inhoud in gebaretaal” op die webwerf jw.org sal jou help om video’s in gebaretaal te kry.