Spring na inhoud

Waarom vier Jehovah se Getuies nie Kersfees nie?

Waarom vier Jehovah se Getuies nie Kersfees nie?

Algemene wanopvattings

 Mite: Jehovah se Getuies vier nie Kersfees nie, want hulle glo nie in Jesus nie.

 Feit: Ons is Christene. Ons glo dat redding slegs deur Jesus Christus kom.—Handelinge 4:12.

 Mite: Julle veroorsaak verdeeldheid in gesinne deur mense te leer om nie Kersfees te vier nie.

 Feit: Die gesin is vir ons baie belangrik, en ons gebruik die Bybel om sterker gesinne te bou.

 Mite: Julle openbaar nie die “Kersgees” van vrygewigheid, vrede op aarde en welwillendheid teenoor mense nie.

 Feit: Ons probeer om elke dag vrygewig en vreedsaam te wees (Spreuke 11:25; Romeine 12:18). Byvoorbeeld, die wyse waarop ons ons vergaderinge hou en die predikingswerk doen, is in ooreenstemming met Jesus se opdrag: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.” (Matteus 10:8). Daarbenewens vestig ons die aandag op God se Koninkryk as die ware hoop vir vrede op die aarde.—Matteus 10:7.

Waarom vier Jehovah se Getuies nie Kersfees nie?

  •   Jesus het beveel dat ons sy dood moet herdenk, nie sy geboorte nie.—Lukas 22:19, 20.

  •   Jesus se apostels en vroeë dissipels het nie Kersfees gevier nie. Die New Catholic Encyclopedia sê dat “die Kersverhaal nie voor 243 [HJ] ingestel is nie”, meer as ’n eeu nadat die laaste apostel gesterf het.

  •   Daar is geen bewys dat Jesus op 25 Desember gebore is nie; sy geboortedatum is nie in die Bybel opgeteken nie.

  •   Ons glo dat Kersfees nie deur God goedgekeur word nie omdat dit sy oorsprong in heidense gebruike en ritusse het.—2 Korintiërs 6:17.

Waarom maak Jehovah se Getuies ’n geskilpunt van Kersfees?

 Baie mense vier nietemin Kersfees al weet hulle dat dit sy oorsprong in heidense gebruike het en geen Bybelse grondslag het nie. Hulle vra dalk: Waarom moet Christene so ’n ongewilde standpunt inneem? Waarom moet hulle ’n geskilpunt daarvan maak?

 Die Bybel spoor ons aan om vir onsself te dink, om ons “denkvermoë” te gebruik (Romeine 12:1, 2). Dit leer ons om die waarheid te waardeer (Johannes 4:23, 24). Hoewel ons dus belangstel in wat mense van ons dink, bly ons by Bybelbeginsels selfs al beteken dit dat ons ongewild word.

 Hoewel ons kies om nie Kersfees te vier nie, respekteer ons elkeen se reg om self hieroor te besluit. Ons meng nie in met ander se Kersvieringe nie.