Spring na inhoud

Waarom aanvaar Jehovah se Getuies nie bloedoortappings nie?

Waarom aanvaar Jehovah se Getuies nie bloedoortappings nie?

Algemene wanopvattings

 Mite: Jehovah se Getuies glo nie in geneesmiddels of mediese behandeling nie.

 Feit: Ons soek die beste mediese sorg moontlik vir ons en ons gesinne. Wanneer ons gesondheidsprobleme het, raadpleeg ons dokters wat die vaardigheid het om mediese en chirurgiese sorg sonder bloed te voorsien. Ons waardeer die vooruitgang wat op die mediese gebied gemaak is. Trouens, bloedlose behandelingsmetodes wat ontwikkel is om Getuiepasiënte te help, word nou tot voordeel van almal in die gemeenskap gebruik. In baie lande kan enige pasiënt nou kies om die risiko’s van bloedoortappings, soos bloedgedrae siektes, immuunreaksies en menslike foute, te vermy.

 Mite: Jehovah se Getuies glo dat geloof jou kwale sal genees.

 Feit: Ons beoefen nie geloofsgenesing nie.

 Mite: Dit is baie duur om bloedoortappings te vermy.

 Feit: Mediese behandelings wat bloedoortappings vermy, is koste-effektief. a

 Mite: Baie Getuies, insluitende kinders, sterf elke jaar omdat hulle bloedoortappings weier.

 Feit: Hierdie stelling is heeltemal ongegrond. Chirurge voer gereeld ingewikkelde prosedures uit, soos hartoperasies, ortopediese chirurgie en orgaanoorplantings, sonder om bloedoortappings te gebruik. b Pasiënte, insluitende kinders, wat nie bloedoortappings ontvang nie, vaar gewoonlik net so goed of beter as dié wat bloedoortappings aanvaar. c Hoe dit ook al sy, niemand kan met sekerheid sê dat ’n pasiënt sal sterf omdat hy bloed weier of sal lewe omdat hy dit aanvaar nie.

Waarom aanvaar Jehovah se Getuies nie bloedoortappings nie?

 Dit is ’n godsdienskwessie eerder as ’n mediese kwessie. Die Ou en die Nuwe Testament beveel uitdruklik dat ons ons van bloed moet onthou (Genesis 9:4; Levitikus 17:10; Deuteronomium 12:23; Handelinge 15:28, 29). En in God se oë verteenwoordig bloed lewe (Levitikus 17:14). Ons vermy bloed dus nie net uit gehoorsaamheid aan God nie, maar ook uit respek vir hom as die Gewer van lewe.

Veranderende beskouings

Ingewikkelde operasies kan met welslae uitgevoer word sonder bloedoortappings.

 Vroeër het die mediese gemeenskap oor die algemeen strategieë om bloedoortappings te vermy, sogenoemde bloedlose geneeskunde, as radikaal, selfs dodelik, beskou, maar dit het in onlangse jare verander. Byvoorbeeld, in 2004 het ’n artikel in ’n mediese opvoedkundige joernaal gesê dat “baie van die tegnieke wat ontwikkel is vir gebruik op pasiënte wat Jehovah se Getuies is, in die jare vorentoe standaardprosedure sal word”. d ’n Artikel in die joernaal Heart, Lung and Circulation het in 2010 gesê dat “‘bloedlose chirurgie’ nie tot J[ehovah] G[etuies] beperk moet word nie, maar ’n integrerende deel van alle operasies moet word”.

 Duisende dokters regoor die wêreld gebruik nou bloedbesparingstegnieke om ingewikkelde operasies sonder bloedoortappings uit te voer. Hierdie alternatiewe vir bloedoortappings word selfs in ontwikkelende lande gebruik en word deur baie pasiënte aangevra wat nie Jehovah se Getuies is nie.

a Sien Transfusion and Apheresis Science, Deel 33, Nr. 3, bl. 349.

b Sien The Journal of Thoracic and Cardiovascular Surgery, Deel 134, Nr. 2, bl. 287-288; Texas Heart Institute Journal, Deel 38, Nr. 5, bl. 563; Basics of Blood Management, bl. 2; en Continuing Education in Anaesthesia, Critical Care & Pain, Deel 4, Nr. 2, bl. 39.

c Sien The Journal of Thoracic and Cardiovascular Surgery, Deel 89, Nr. 6, bl. 918; en Heart, Lung and Circulation, Deel 19, bl. 658.

d Continuing Education in Anaesthesia, Critical Care & Pain, Deel 4, Nr. 2, bladsy 39.