Spring na inhoud

Wat gebeur by ’n troue van Jehovah se Getuies?

Wat gebeur by ’n troue van Jehovah se Getuies?

 Troues van Jehovah se Getuies bestaan dikwels uit ’n eenvoudige en waardige seremonie met ’n kort toespraak wat op die Bybel gebaseer is. Die seremonie kan gevolg word deur ’n sosiale geleentheid, of onthaal, wat dalk ’n maaltyd kan insluit. a Jesus het so ’n fees vroeg in sy bediening in die stad Kana bygewoon. – Johannes 2:1-11.

 Wat gebeur tydens die huwelikseremonie?

 Die troutoespraak is ’n baie belangrike deel van die huwelikseremonie. Dit is 30 minute lank en word deur ’n bedienaar van Jehovah se Getuies gegee. Die opbouende bespreking beklemtoon hoe die Bybel die paartjie kan help om ’n ewige, liefdevolle en gelukkige huwelik te hê. – Efesiërs 5:33.

 In baie lande gee die regering vir bedienaars van Jehovah se Getuies toestemming om die wetlike deel van die huwelik uit te voer. In so ’n geval, sal die paartjie aan die einde van die toespraak hulle huweliksgelofte aflê. Hulle sal dalk ook vir mekaar ringe gee. Dan sal daar aangekondig word dat hulle man en vrou is.

 In ander lande vereis die wet dat ’n regeringsamptenaar ’n paartjie trou. Dit gebeur net voor die troutoespraak. As die bruid en die bruidegom nie hulle huweliksgelofte tydens die wetlike seremonie afgelê het nie, kan hulle dit doen teen die einde van die toespraak. As hulle wel hulle huweliksgelofte afgelê het, kan hulle kies om dit te herhaal, maar dan moet hulle woorde in die verlede tyd wees. Die toespraak word met ’n gebed afgesluit waar God gevra word om die pasgetroude paartjie te seën.

 Waar word troues van Jehovah se Getuies gehou?

 Baie Getuies kies om hulle huwelikseremonie in ’n Koninkryksaal te hou, as een beskikbaar is. b As die paartjie daarna ’n onthaal wil hou, dan kies hulle ’n ander plek daarvoor.

 Wie kan dit bywoon?

 As die troue by ’n Koninkryksaal gehou word, is almal gewoonlik welkom – Getuies en nie-Getuies. As die paartjie ’n onthaal hou, kan hulle kies wie hulle wil nooi.

 Wat moet gaste aantrek?

 As ’n troue by ’n Koninkryksaal gehou word, is daar nie spesifieke klere wat aangetrek moet word nie. Maar Jehovah se Getuies probeer om volgens die Bybel te lewe, en daarom trek hulle op ’n manier aan wat nie te veel aandag trek nie en wat respek wys vir die belangrike geleentheid. Hulle waardeer dit as ander dieselfde doen (1 Timoteus 2:9). Dit geld natuurlik ook vir die onthaal, as die paartjie kies om een te hou.

 Sal daar trougeskenke wees?

 Die Bybel moedig ons aan om vrygewig te wees (Psalm 37:21). Dit maak Jehovah se Getuies bly om trougeskenke te gee en te ontvang (Lukas 6:38). Maar Getuies vra nie vir geskenke nie en kondig nie aan wie almal geskenke gegee het nie (Matteus 6:3, 4; 2 Korintiërs 9:7; 1 Petrus 3:8). Dit gaan ook teen wat die Bybel sê en kan ook die mense wat daar is, ongemaklik laat voel.

 Sal daar ’n heildronk wees?

 Nee. Jehovah se Getuies stel nie heildronke in nie omdat hierdie gebruik van valse godsdiens afkomstig is. c Getuies wens die pasgetroude paartjie ’n gelukkige huwelik toe, maar nie deur middel van ’n heildronk nie.

 Sal rys of konfetti gegooi word?

 Nee. In party plekke gooi mense rys, konfetti of iets soortgelyks op die pasgetroude paartjie. Hulle glo dat dit die paartjie geluk en ’n lang lewe sal bring. Maar Jehovah se Getuies vermy gebruike wat te doen het met bygelowe. Dit sluit die gebruik van enige gelukbringers in, want dit gaan teen wat die Bybel sê. – Jesaja 65:11.

 Sal daar kos en drank wees?

 Die huwelikseremonie by ’n Koninkryksaal sluit nie kos en drank in nie. Party paartjies kies om ’n onthaal daarna te hê, waar ’n maaltyd of drankies dalk bedien sal word (Prediker 9:7). As hulle besluit om alkohol te bedien, moet hulle seker maak dat dit in matige hoeveelhede beskikbaar is en net vir diegene bedien word wat volgens wet oud genoeg is om te drink. – Lukas 21:34; Romeine 13:1, 13.

 Sal daar musiek wees of gedans word?

 As die paartjie ’n onthaal hou, kan hulle kies dat daar musiek is en dat mense kan dans (Prediker 3:4). Die musiek wat hulle kies, sal afhang van hulle persoonlike smaak en wat aanvaarbaar is in hulle kultuur, maar hulle moet seker maak dat dit smaakvol is en dat dit ’n goeie uitwerking op hulle gaste het. Die huwelikseremonie by ’n Koninkryksaal sal dikwels musiek insluit wat oor Bybelonderwerpe handel.

 Vier Jehovah se Getuies huweliksherdenkings?

 Omdat die Bybel nie huweliksherdenkings goedkeur of verbied nie, moet Getuie-paartjies self besluit of hulle hulle herdenking wil vier of nie. As hulle kies om dit te doen, kan hulle dit net met hulle maat vier of saam met hulle vriende en familie.

a Spesifieke gewoontes, gebruike en wetlike vereistes kan van plek tot plek verskil.

b Die bedienaar wat die toespraak gee, word nie betaal vir die huwelikseremonie nie, en daar word ook nie geld betaal vir die gebruik van die Koninkryksaal nie.

c Vir ’n bespreking oor die heidense oorsprong van heildronke, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Februarie 2007.