Spring na inhoud

Hoe beskou Jehovah se Getuies begrafnisse?

Hoe beskou Jehovah se Getuies begrafnisse?

 Ons baseer ons beskouings en gebruike wat met begrafnisse verband hou, op Bybelleringe. Dit sluit die volgende in:

  •   Dit is normaal om oor die dood van ’n geliefde te treur. Jesus se dissipels het oor die dood van geliefdes getreur (Johannes 11:33-35, 38; Handelinge 8:2; 9:39). Daarom beskou ons nie ’n begrafnis as ’n tyd om fees te vier nie (Prediker 3:1, 4; 7:1-4). Ons beskou dit eerder as ’n tyd om empatie te toon.—Romeine 12:15.

  •   Die dooies is van niks bewus nie. Ongeag ons etniese en kulturele agtergrond, ons vermy gebruike en gewoontes wat gebaseer is op die onskriftuurlike opvatting dat die dooies ’n bewuste bestaan voer en die lewendes kan beïnvloed (Prediker 9:5, 6, 10). Dit sluit gebruike in soos lykwake, uitspattige begrafnisvierings en begrafnisherdenkings, offerandes vir die dooies, om met die dooies te praat en versoeke tot hulle te rig en ritusse vir weduwees. Ons vermy al hierdie gebruike en gewoontes omdat ons gehoorsaam is aan die Bybel se bevel: “Sonder julle af ... en hou op om wat onrein is, aan te raak.”—2 Korintiërs 6:17.

  •   Daar is hoop vir die dooies. Die Bybel leer dat daar ’n opstanding sal wees en dat daar ’n tyd sal wees wanneer die dood nie meer daar sal wees nie (Handelinge 24:15; Openbaring 21:4). Hierdie hoop help ons om nie in ’n oordrewe mate te treur nie, net soos dit die vroeë Christene gehelp het.—1 Tessalonisense 4:13.

  •   Die Bybel sê dat ons beskeie moet wees (Spreuke 11:2). Ons glo nie dat ’n begrafnis ’n geleentheid moet wees om ’n “spoggerige vertoon” van ’n persoon se sosiale of ekonomiese status te maak nie (1 Johannes 2:16). Ons hou nie uitspattige begrafnisse bloot met die doel om mense te vermaak nie. Ons gebruik ook nie baie duur kiste of gaan tot die uiterstes met ons kleredrag om ander te beïndruk nie.

  •   Ons probeer nie ons oortuigings in verband met begrafnisse op ander afdwing nie. In hierdie opsig volg ons die volgende beginsel: “Elkeen van ons [sal] dan vir homself aan God rekenskap gee” (Romeine 14:12). Maar ons probeer wel ons oortuigings “met sagmoedigheid en diep respek” verduidelik wanneer ons die geleentheid het.—1 Petrus 3:15.

Wat gebeur by ’n Getuie-begrafnis?

 Plek: As ’n familie besluit om ’n begrafnis te hou, kan dit gehou word waar die familie dit verkies, soos by ’n Koninkryksaal, ’n roukamer, ’n huis, ’n krematorium of ’n graf.

 Diens: ’n Toespraak word gehou om die bedroefdes te vertroos deur te verduidelik wat die Bybel sê oor die dood en die hoop op ’n opstanding (Johannes 11:25; Romeine 5:12; 2 Petrus 3:13). Die begrafnisprogram herinner almal dalk aan die persoon wat gesterf het se goeie eienskappe en beklemtoon dalk bemoedigende lesse uit die persoon se getroue voorbeeld.—2 Samuel 1:17-27.

 ’n Lied wat op die Bybel gebaseer is, kan gesing word (Kolossense 3:16). Die diens word afgesluit met ’n vertroostende gebed.—Filippense 4:6, 7.

 Fooie of kollektes: Ons vra nie geld vir enige diens nie, insluitende begrafnisse, en ons neem nie kollektes op by ons vergaderinge nie.—Matteus 10:8.

 Bywoning: Mense wat nie Getuies is nie, is welkom om ’n begrafnis by te woon wat by ’n Koninkryksaal gehou word, net soos in die geval van ons ander vergaderinge.

Woon Getuies begrafnisse by wat deur ander godsdienste gehou word?

 Elke Getuie moet self hieroor besluit en deur sy Bybelopgeleide gewete gelei word. Maar ons neem nie deel aan godsdiensseremonies wat ons meen in stryd is met die Bybel nie.—2 Korintiërs 6:14-17.