Spring na inhoud

E+/IvanJekic via Getty Images

IS DIT ONTWERP?

Die vlug van die perdeblomsaad

Die vlug van die perdeblomsaad

 In die natuur is perdeblomsade een van die dinge wat die beste kan vlieg. Wanneer die wind deur ’n perdeblom waai, versprei talle klein saadjies in die lug, en lyk dit soos klein valskerms. Hoewel hulle naby die grond in die lug versprei, kan party tot ’n kilometer of meer saam met die wind beweeg. Wat maak dit vir hulle moontlik om so lank in die lug te bly? Wetenskaplikes het onlangs ontdek dat dit gebeur omdat hulle op ’n manier beweeg wat vier keer meer doeltreffend en meer stabiel is as ’n valskerm.

 Dink hieraan: Elke saad hang aan ’n steel wat vasgeheg is aan ’n pluis met fyn stekelrige haartjies, wat die saadpluis genoem word. Die saadpluis is soos ’n tipe valskerm wat die saad help om in die lug te bly.

Party navorsers sê dat die lug wat in ’n sirkel beweeg, of ’n draaikolk, keer dat die saadpluis vinnig na die grond toe val

 Maar die stekelrige haartjies van die saadpluis doen nog iets wat die saad help om in die lug te bly. Wanneer lug om en deur die haartjies beweeg, vorm ’n ronde draaikolkie in die lug bo dit. Die lug beweeg in ’n sirkel binne die draaikolkie en dit veroorsaak lae druk, wat keer dat die saadpluis vinnig na die grond toe val.

 Ons kan sê dat die goed gerangskikte haartjies dit moontlik maak vir die saadpluis om soos ’n valskerm te wees wat lug deurlaat, maar ’n valskerm wat doeltreffender en stabieler is. Wat meer is, die saadpluis bestaan uit 90 persent leë spasie! So dit bestaan uit baie min materiaal.

 Wetenskaplikes kyk na maniere om die vlug van die perdeblomsaad na te boots. Een manier hoe hulle hierdie inligting kan gebruik, is om ’n klein hommeltuig te ontwerp wat min of geen bykomende krag nodig het nie, en op hierdie manier minder energie gebruik. So ’n hommeltuig kan op verskillende maniere gebruik word, insluitende om die gehalte van die lug dop te hou.

 Kyk na hoe perdeblomsade in die lug beweeg

 Wat dink jy? Het die doeltreffende vlug van die perdeblomsaad deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?