Spring na inhoud

Albert Wright/iStock via Getty Images

IS DIT ONTWERP?

Die nes van die malleehoender

Die nes van die malleehoender

 Die malleehoender kom voor in die suidelike binneland van Australië. Hierdie voël hou die temperatuur van sy nes so na as moontlik aan 34 grade Celsius. Hoe kan die voël die hele jaar lank dag en nag hierdie temperatuur behou?

 Elke winter grawe die voëls ’n groot gat wat omtrent een meter diep is en drie meter wyd is. Die mannetjie vul die gat met gras, blare en ander plantmateriaal. Nadat die hoop plantmateriaal laat in die winter deur die reën deurdrenk word, grawe hy nog ’n gat binne-in die groot gat en bedek hy die hele hoop met sanderige grond. Kort voor lank begin die plantmateriaal verrot en word dit warm, wat ’n natuurlike broeikas skep.

Om sy eiers (A) uit te broei, gebruik die malleehoender die hitte van die son en die hitte wat deur die verrottende plantmateriaal (B) afgegee word. Deur die dikte van die beskermende laag grond (C) te verander, hou hierdie voël die eiers maande lank teen ’n temperatuur van omtrent 34 grade Celsius. Om dit te doen, skuif die voël groot hoeveelhede grond heen en weer met sy pote (D)

 Elke keer wanneer die wyfie reg is om ’n eier te lê, verwyder die mannetjie die grond sodat sy die eier in die binneste gat kan lê. Dan maak hy dadelik weer die hoop met grond toe. Sy kan tot 35 eiers tussen September en Februarie lê. a

 Die voëls druk gereeld hulle bekke in die sand om seker te maak dat die temperatuur reg is. Dan maak hulle veranderinge aan die hoop afhangende van die seisoen. Byvoorbeeld:

  •   In die lente wanneer die verrottende plantmateriaal veroorsaak dat die temperatuur in die nes styg, verwyder die mannetjie van die grond bo-op die binneste gat om die hitte vry te laat. Later maak hy die nes weer toe met die afgekoelde grond.

  •    Gedurende die somer sit die mannetjie nog grond bo-op die hoop om die eiers teen die son te beskerm. Maar vroeg elke oggend krap hy die grond af en vervang hy dit nadat die nes en die sand afgekoel het.

  •   In die herfs wanneer die plantmateriaal heeltemal verrot is, verwyder die mannetjie amper al die grond sodat die warm son die eiers en die uitgespreide grond warm kan maak. Later maak hy die hoop weer toe met die warm grond om hitte gedurende die nag te voorsien.

 Elke dag werk die mannetjie gemiddeld meer as vyf ure lank om amper 850 kilogram grond rond te skuif. Omdat die grond die heeltyd beweeg word, is daar nog ’n voordeel: Dit hou die grond los, wat die kuikens help om hulleself uit die hoop te grawe wanneer hulle uitbroei.

 Kyk na hoe malleehoenders grond van hulle nes afkrap

 Wat dink jy? Het die malleehoender se vermoë om die temperatuur van sy nes te beheer deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?

a Dit vat sewe tot agt weke vir die eiers om uit te broei, wat beteken dat hy tot in April moet aanhou werk aan die hoop.