Spring na inhoud

Wat is die Bybel?

Wat is die Bybel?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel is ’n versameling van 66 heilige boeke. Dit is oor ’n tydperk van ongeveer 1 600 jaar geskryf. Die Bybel bevat God se boodskap – “die woord van God”. – 1 Tessalonisense 2:13.

In hierdie artikel

 Feite oor die Bybel

  •   Wie het die Bybel geskryf? God is die Skrywer van die Bybel, maar hy het omtrent 40 verskillende manne gebruik om dit te skryf. Party van hierdie manne was Moses, koning Dawid, Matteus, Markus, Lukas en Johannes. a God het sy gedagtes in die verstand van die skrywers gesit sodat hulle sy boodskap kon neerskryf. – 2 Timoteus 3:16.

     Om dit te illustreer: Ons kan dit vergelyk met ’n sakeman wat sy sekretaris vra om ’n brief of ’n e-pos namens hom te skryf. Al skryf hy nie self die brief nie en gee hy selfs net die hoofgedagte, kom die boodskap nog steeds van hom af. Op dieselfde manier het God manne gebruik om sy boodskap neer te skryf, maar hy is die regte Skrywer van die Bybel.

  •   Wat beteken die woord “Bybel”? Die woord “Bybel” kom van die Griekse woord biblia, wat “boekies” beteken. Mettertyd is biblia gebruik om die hele versameling boekies te beskryf wat saam die Bybel vorm.

  •   Wanneer is die Bybel geskryf? Daar is in 1513 VHJ begin om die Bybel te skryf, en dit is meer as 1 600 jaar later voltooi, in ongeveer 98 HJ.

  •   Waar is die oorspronklike Bybel? Sover ons weet, het geen oorspronklike geskrifte van die Bybel behoue gebly nie. Dit is omdat Bybelskrywers bederfbare materiale wat in daardie tyd beskikbaar was, soos papirus en perkament, gebruik het. Maar professionele kopiiste het noukeurig die geskrifte van die Bybel deur die eeue heen oor en oor gekopieer om die inhoud te bewaar sodat mense in die toekoms dit nog steeds kan lees.

  •   Wat is die “Ou Testament” en die “Nuwe Testament”? Wat oor die algemeen die Ou Testament genoem word, beskryf die deel van die Bybel wat hoofsaaklik in Hebreeus b geskryf is, wat ook as die Hebreeuse Geskrifte bekend staan. Die deel wat die Nuwe Testament genoem word, verwys na die deel wat in Grieks geskryf is, wat as die Christelike Griekse Geskrifte bekend staan. Die twee dele saam vorm een volledige boek, wat ook die Heilige Skrif genoem word. c

  •   Wat bevat die Bybel? Die verskillende dele van die Bybel bevat geskiedenis, wette, profesieë, gedigte, spreuke, liedere en briewe. – Sien die “ Lys van Bybelboeke”.

 Waaroor gaan die Bybel?

 Die Bybel begin met ’n kort oorsig van die skepping van die hemel en die aarde deur God die Almagtige. In die Bybel stel God homself voor deur middel van sy naam, Jehovah, en nooi hy mense om hom te leer ken. – Psalm 83:18.

 Die Bybel verduidelik dat God verkeerd voorgestel is, en dit wys hoe hy sy reputasie gaan herstel.

 Die Bybel wys wat God se doel vir die mens en die aarde is. Dit wys hoe God in die toekoms ’n einde gaan maak aan alles wat veroorsaak dat mense swaarkry.

 Die Bybel gee praktiese raad vir die daaglikse lewe. Byvoorbeeld:

  •   Hoe om goeie verhoudings te behou. “Alles wat julle dan wil hê dat mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” – Matteus 7:12.

     Betekenis: Ons moet ander mense behandel soos ons behandel wil word.

  •   Hoe om stres te hanteer. “Moet . . . nooit bekommerd wees oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie bekommernisse hê.” – Matteus 6:34.

     Betekenis: In plaas daarvan om jou te veel te bekommer oor wat in die toekoms sal gebeur, is dit beter om een dag op ’n slag te vat.

  •   Hoe om ’n gelukkige huwelik te geniet. “Elkeen van julle moet sy vrou liefhê soos homself, en die vrou moet diep respek vir haar man hê.” – Efesiërs 5:33.

     Betekenis: Liefde en respek is noodsaaklik vir ’n suksesvolle huwelik.

 Is die Bybel verander?

 Nee. Geleerdes het noukeurig die eertydse Bybelmanuskripte met die Bybel van vandag vergelyk en gevind dat die Bybel se oorspronklike boodskap basies nie verander het nie. Dit maak sin. As God wil hê dat sy boodskap gelees en verstaan moet word, is dit nie redelik dat hy sou seker maak dat sy boodskap nie verander sou word nie? dJesaja 40:8.

 Hoekom is daar so baie verskillende vertalings van die Bybel?

 Vandag kan die meeste lesers nie die eertydse tale verstaan waarin die Bybel geskryf is nie. Maar die Bybel het “goeie nuus” vir “elke nasie en stam en taal” (Openbaring 14:6). Daarom het mense ’n vertaling van die Bybel nodig in ’n taal wat hulle verstaan sodat hulle dit kan lees en God se boodskap duidelik kan verstaan.

 Daar is drie soorte Bybelvertalings:

  •   ’n Woord-vir-woord-vertaling is so letterlik as moontlik.

  •   ’n Gedagte-vir-gedagte-vertaling gebruik woorde wat die betekenis van die teks in die oorspronklike taal oordra.

  •   ’n Geparafraseerde vertaling verander die bewoording van die teks vryelik sodat dit lekker is om te lees. Maar omdat geparafraseerde vertalings die teks soveel verander sodat dit lekker kan lees, verander dit soms die ware betekenis.

 ’n Goeie Bybelvertaling behou die balans tussen letterlike vertaling en moderne taal wat maklik is om te verstaan sodat God se boodskap akkuraat aan mense oorgedra word. e

 Wie het besluit wat in die Bybel ingesluit moet word?

 As die Skrywer van die Bybel het God besluit wat ingesluit moet word. Hy het “die heilige verklarings van God aan [die eertydse nasie Israel] gegee”, die volk wat hy hiervoor uitgekies het. Hulle het dus die bewaarders van die Hebreeuse Geskrifte geword. – Romeine 3:2.

 Is daar verlore boeke van die Bybel?

 Nee. Die Bybel is volledig – daar is geen “verlore” boeke nie. Party mense beweer dat sekere ou boeke wat lank verlore was, eintlik in die Bybel behoort. f Maar die Bybel bevat sy eie standaard van betroubaarheid (2 Timoteus 1:13). Deur hierdie standaard te gebruik, stem die Bybelboeke wat deur God geïnspireer is, heeltemal met mekaar ooreen. Dit kan nie gesê word van al die ou geskrifte wat volgens party in die Bybel behoort nie. g

 Hoe om Bybelverse te kry

  Lys van Bybelboeke

a Vir ’n volledige lys van al die Bybelboeke, wie dit geskryf het en wanneer dit geskryf is, sien asseblief die “Tabel van Bybelboeke”.

b Klein gedeeltes van die Bybel is geskryf in Aramees, ’n taal wat nou verwant is aan Hebreeus.

c Baie mense wat die Bybel lees, verkies die uitdrukkings “Hebreeuse Geskrifte” en “Christelike Griekse Geskrifte”. Hierdie uitdrukkings skep nie die indruk dat die “Ou Testament” verouderd is en deur die “Nuwe Testament” vervang is nie.

e Baie mense geniet dit om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel te lees omdat dit akkuraat vertaal is en maklik is om te lees. Sien “Is die Nuwe Wêreld-vertaling akkuraat?

f Hierdie geskrifte word gesamentlik die Apokriewe genoem. Volgens die Encyclopædia Britannica “[verwys hierdie term na] werke in Bybellektuur wat nie deel is van die aanvaarbare kanon van die skrif nie” – dit wil sê geskrifte wat nie deel is van die betroubare lys van erkende Bybelboeke nie.