Spring na inhoud

Waarom het die Nazi-slagting plaasgevind? Waarom het God nie ’n einde daaraan gemaak nie?

Waarom het die Nazi-slagting plaasgevind? Waarom het God nie ’n einde daaraan gemaak nie?

 Baie mense wat hierdie vrae vra, het groot persoonlike verliese gely en soek nie net antwoorde nie, maar ook vertroosting. Ander beskou die Nazi-slagting as die hoogtepunt van boosheid deur mense, en dit is vir hulle moeilik om in God te glo.

Algemene wanopvattings oor God en die Nazi-slagting

 Mite: Dit is verkeerd om te vra waarom God die Nazi-slagting toegelaat het.

 Feit: Mense met groot geloof het al gevra waarom God boosheid toelaat. Die profeet Habakuk het God gevra: “Waarom laat u toe dat geweld, wetteloosheid, misdaad en wreedheid oral versprei?” (Habakuk 1:3, Contemporary English Version). God het Habakuk nie bestraf nie, maar het eerder sy vrae in die Bybel laat opteken sodat almal dit kan lees.

 Mite: God gee nie om dat mense ly nie.

 Feit: God haat goddeloosheid en die lyding wat dit veroorsaak (Spreuke 6:16-19). In Noag se dag het God “gekrenk gevoel in sy hart” oor die geweld wat op die aarde versprei het (Genesis 6:5, 6). God het ongetwyfeld ook diep bedroef gevoel oor die Nazi-slagting.—Maleagi 3:6.

 Mite: God het die Jode deur middel van die Nazi-slagting gestraf.

 Feit: God het wel in die eerste eeu toegelaat dat Jerusalem deur die Romeine vernietig word (Matteus 23:37–24:2). Maar sedertdien sonder God geen etniese groep uit vir spesiale guns of vir straf nie. In God se oë is daar “geen onderskeid tussen Jood en Griek nie”.—Romeine 10:12.

 Mite: As daar ’n liefdevolle en almagtige God was, sou hy die Nazi-slagting voorkom het.

 Feit: Hoewel God nooit lyding veroorsaak nie, laat hy dit soms tydelik toe.—Jakobus 1:13; 5:11.

Waarom het God die Nazi-slagting toegelaat?

 God het die Nazi-slagting toegelaat om dieselfde rede as wat hy alle menselyding toelaat: om sedelike geskille te besleg wat lank gelede geopper is. Die Bybel toon duidelik dat die Duiwel, nie God nie, nou oor die wêreld heers (Lukas 4:1, 2, 6; Johannes 12:31). Twee basiese feite uit die Bybel kan ons help om te sien waarom God die Nazi-slagting toegelaat het.

  1.   God het die mens met wilsvryheid geskep. God het vir die eerste mense, Adam en Eva, gesê wat hy van hulle verwag, maar hy het hulle nie gedwing om hom te gehoorsaam nie. Hulle het gekies om self te besluit wat goed en sleg is, en hulle slegte keuse—en soortgelyke keuses van mense deur die hele geskiedenis heen—het verskriklike gevolge vir die mensdom gehad (Genesis 2:17; 3:6; Romeine 5:12). Soos die boek Statement of Principles of Conservative Judaism sê: “Baie van die wêreld se lyding is ’n direkte gevolg van ons misbruik van die wilsvryheid wat ons gegee is.” In plaas daarvan om ons ons wilsvryheid te ontneem, het God mense tyd gegee om hulle aangeleenthede onafhanklik van hom te probeer bestuur.

  2.   God kan en sal al die leed ongedaan maak wat deur die Nazi-slagting aangerig is. God belowe om miljoene wat gesterf het, op te wek, insluitende slagoffers van die Nazi-slagting. Hy sal ook die pyn uitwis wat oorlewendes van die Nazi-slagting weens verskriklike herinneringe ervaar (Jesaja 65:17; Handelinge 24:15). God se liefde vir die mensdom bied ons die versekering dat hy hierdie beloftes sal vervul.—Johannes 3:16.

 Baie slagoffers en oorlewendes van die Nazi-slagting kon hulle geloof behou en ’n doel in die lewe vind danksy ’n begrip van waarom God boosheid toelaat en hoe hy van voorneme is om die gevolge daarvan ongedaan te maak.