Spring na inhoud

Wie was die Nefilim?

Wie was die Nefilim?

Die Bybel se antwoord

 Die Nefilim was reuse. Hulle was gewelddadige supermense wat afkomstig was van slegte engele wat seks gehad het met vrouens in die dae van Noag. a

 Die Bybelverslag sê: “Die seuns van die ware God [het] die dogters van die mense begin opmerk, dat hulle mooi is” (Genesis 6:2). Hierdie ‘seuns van God’ was eintlik geesskepsele wat teen God gerebelleer het. Hulle het “hulle eie gepaste woonplek verlaat” in die hemel, menseliggame aangeneem en “vir hulle vrouens geneem, naamlik almal wat hulle verkies het”. — Judas 6; Genesis 6:2.

 Die bastergeslag wat as gevolg van hierdie onnatuurlike verhoudings gebore is, was nie gewone kinders nie (Genesis 6:4). Die Nefilim was reuse-boelies, gewelddadige mans wat die aarde met geweld gevul het (Genesis 6:13). Die Bybel beskryf hulle as “die sterkes van die ou tyd, die manne van naam” (Genesis 6:4). Al wat mense van hulle onthou, is hoe gewelddadig hulle was en dat almal vir hulle bang was. — Genesis 6:5; Numeri 13:33. b

Wat mense dink oor die Nefilim

 Wat mense sê: Daar is vandag nog steeds Nefilim wat op die aarde lewe.

 Wat die Bybel sê: Jehovah het ’n wêreldwye vloed gebring om daardie gewelddadige wêreld te vernietig. Die Nefilim het saam met al die ander slegte mense doodgegaan. Maar Noag en sy gesin was die enigste mense wat deur Jehovah goedgekeur was en die vloed oorleef het. — Genesis 6:9; 7:12, 13, 23; 2 Petrus 2:5.

 Wat mense dink: Die Nefilim was kinders van mense.

 Wat die Bybel sê: Hulle pa’s word die “seuns van die ware God” genoem (Genesis 6:2). Die Bybel gebruik dieselfde woorde wanneer dit van engele praat (Job 1:6; 2:1; 38:7). Engele het die vermoë gehad om menseliggame aan te neem (Genesis 19:1-5; Josua 5:13-15). Die apostel Petrus het gepraat van “die geeste in die gevangenis . . . wat eens ongehoorsaam was toe die geduld van God in Noag se dae gewag het” (1 Petrus 3:19, 20). Die Bybelskrywer Judas het ook hiervan gepraat en verduidelik dat party engele “nie hulle oorspronklike posisie behou het nie, maar hulle eie gepaste woonplek verlaat het”. — Judas 6.

 Wat mense dink: Die Nefilim was eers engele.

 Wat die Bybel sê: Die konteks van Genesis 6:4 wys dat die Nefilim nie engele was nie. Hulle was die kinders wat gebore is nadat die engele wat menseliggame aangeneem het, seks gehad het met vrouens. Nadat die engele “almal wat hulle wou hê, as vrouens geneem” het, het Jehovah gesê dat hy oor 120 jaar daardie goddelose wêreld sou vernietig (Genesis 6:1-3). Die Bybel sê verder dat die engele wat menseliggame aangeneem het, “in daardie dae . . . voortgegaan het om met die dogters van die mense gemeenskap te hê” en hierdie vrouens het geboorte gegee aan “die sterkes van die ou tyd”, die Nefilim. — Genesis 6:4.

a Die Hebreeuse woord wat as “Nefilim” getranslitereer word, beteken moontlik “die Neervellers”. Wilson’s Old Testament Word Studies sê die woord verwys na diegene wat “mense gewelddadig aanval, hulle besittings afvat en hulle doodmaak”.

b Blykbaar het die Israelitiese spioene wat in Numeri 13:33 aangehaal word, mense gesien wat hulle laat dink het aan hoe groot die Nefilim, wat eeue vroeër gesterf het, was. — Genesis 7:21-23.