Spring na inhoud

Waarom is daar soveel Christelike denominasies?

Waarom is daar soveel Christelike denominasies?

Die Bybel se antwoord

 Mense het die leringe van Jesus Christus gebruik om verskillende “Christelike” denominasies te vorm. Maar die Bybel toon dat daar slegs een ware Christelike godsdiens is. Kyk na net drie redes waarom ons tot hierdie gevolgtrekking kan kom.

  1.   Jesus het gesê dat hy “die waarheid” leer, en vroeë Christene het na hulle godsdiens verwys as “die waarheid” (Johannes 8:32; 2 Petrus 2:2; 2 Johannes 4; 3 Johannes 3). Dit toon dat diegene wat leringe bevorder wat in stryd is met Jesus se leringe, nie die ware Christelike godsdiens beoefen nie.

  2.   Die Bybel leer dat Christene “almal eenstemmig moet praat” (1 Korintiërs 1:10). Maar baie Christelike denominasies stem nie eens saam oor sulke eenvoudige dinge soos wat dit beteken om ’n Christen te wees nie. Hierdie denominasies kan nie almal reg wees nie.—1 Petrus 2:21.

  3.   Jesus het voorspel dat baie mense sou beweer dat hulle Christene is, maar nie sy gebooie sou gehoorsaam nie en dat hy sulke mense sou verwerp (Matteus 7:21-23; Lukas 6:46). Party mense sou mislei word deur godsdiensleiers wat die ware aanbidding sou verderf om hulle eie belange te bevorder (Matteus 7:15). Maar ander mense sou in werklikheid ’n valse Christelike godsdiens verkies omdat hulle dan geleer sou word wat hulle wil hoor, nie die waarheid uit die Bybel nie.—2 Timoteus 4:3, 4.

 In sy illustrasie van die koring en die onkruid het Jesus ’n groot opstand (afvalligheid) teen die ware Christelike godsdiens voorspel (Matteus 13:24-30, 36-43). Die verskil tussen ware Christene en valse Christene sou lank onduidelik wees. Net soos Jesus voorspel het, het afvalligheid ná die dood van die apostels gefloreer (Handelinge 20:29, 30). Hoewel afvallige leringe moontlik van mekaar verskil, het die verskeie vorme van valse Christelike godsdiens almal “van die waarheid afgewyk”.—2 Timoteus 2:18.

 Jesus het ook voorspel dat die verskil tussen ware en valse Christene uiteindelik duidelik sou word. Dit het in ons tyd gebeur, gedurende die “voleinding van ’n stelsel van dinge”.—Matteus 13:30, 39.