Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Kinders en sosiale media – Deel 1: Moet my kind sosiale media gebruik?

Kinders en sosiale media – Deel 1: Moet my kind sosiale media gebruik?

 In ’n opname het 97 persent tieners gesê dat hulle sosiale media gebruik. Wil jou kind ook graag sosiale media gebruik? As dit die geval is, is daar ’n paar dinge wat jy in gedagte moet hou.

In hierdie artikel

 Hoeveel tyd sal my kind daaraan spandeer?

 Volgens die webwerf HelpGuide “is sosiale media ontwerp om jou aandag af te trek en om jou aanlyn te hou sodat jy die heeltyd jou toestel kan dophou om te kyk wat nuut is”.

 “Minute word ure wanneer ek sosiale media gebruik. Dit kan baie moeilik wees om die selfoon neer te sit en om iets anders te doen wat meer produktief is.” – Lynne, 20.

 Vra jou af: Sal my kind genoeg selfbeheersing hê om te bly by die tydsbeperking wat ek vir die gebruik van sosiale media gestel het? Is my kind volwasse genoeg om vir homself ’n tydsbeperking te stel en daarby te bly?

 Bybelwaarheid: ‘Hou aan om noukeurig te let op hoe julle julle gedra, dat dit as wyse persone is, en maak die beste gebruik van julle tyd.’ – Efesiërs 5:15, 16.

Om jou kind toe te laat om sosiale media te gebruik sonder enige reëls, is soos om jou kind op ’n perd te laat ry sonder die regte opleiding

 Hoe sal my kind vriendskappe beskou?

 “Sosiale media” is ontwerp om mense te laat voel dat hulle baie vriende het. Maar dikwels is hierdie vriendskappe oppervlakkig.

 “Ek het opgelet dat jongmense verkeerdelik dink dat as hulle meer ‘likes’ en ‘followers’ kry, dit beteken dat mense regtig vir hulle omgee, selfs al ken hulle nie eers daardie mense nie.” – Patricia, 17.

 Vra jou af: Is my kind volwasse genoeg om te weet dat dit nie belangrik is om aanlyn gewild te wees nie? Kan my kind maklik vriende maak as hy of sy nie aanlyn is nie?

 Bybelwaarheid: “’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17.

 Hoe sal dit my kind emosioneel affekteer?

 Navorsers sê dat wanneer mense sosiale media te veel gebruik, voel hulle dikwels eensaam, angstig en depressief.

 “Om foto’s te sien van wat jou vriende saam met jou ander vriende doen – sonder jou – is nooit ’n lekker gevoel nie.” – Serena, 19.

 Vra jou af: Sal my kind volwasse genoeg wees om nie net op hulleself te fokus nie en om nie kompeterend te word nie? En sal my kind negatief beïnvloed word deur wat hy of sy ander op sosiale media sien doen?

 Bybelwaarheid: “Laat ons nie te veel van onsself begin dink en met mekaar kompeteer en jaloers wees op mekaar nie.” – Galasiërs 5:26.

 Wat sal my kind aanlyn doen?

 Sosiale media kan veroorsaak dat mense betrokke raak by sexting, pornografie en dat hulle aanlyn geboelie word of ander boelie. Selfs al doen jou kind nie hierdie dinge nie, kan hy of sy blootgestel word daaraan.

 “Ek het opgelet dat hoewel iets op sosiale media onskuldig kan lyk, dit baie maklik lelik kan word. Daar is baie vuil taal en musiek wat slegte gedrag aanmoedig.” – Linda, 23.

 Vra jou af: Is my kind volwasse genoeg om die internet wyslik te gebruik? Sal my kind die moed hê om ongepaste materiaal te verwerp?

 Bybelwaarheid: “Laat seksuele onsedelikheid en elke soort onreinheid of gierigheid nie eers onder julle genoem word nie, . . . en ook nie skandelike gedrag of dwase praatjies of vuil grappe nie.” – Efesiërs 5:3, 4.

 Is dit nodig dat my kind sosiale media gebruik?

 ’n Persoon het nie sosiale media nodig om te lewe nie, selfs nie eers vir ’n gemaklike, gelukkige lewe nie. Baie jongmense is gelukkig sonder sosiale media, selfs party wat voorheen sosiale media gebruik het en besluit het om dit glad nie meer te gebruik nie.

 “Nadat ek gesien het hoe die gebruik van sosiale media my suster negatief beïnvloed het, het ek besluit om dit glad nie meer te gebruik nie. Vandat ek dit nie meer gebruik nie, is ek gelukkiger en is my lewe interessanter.” – Nathan, 17.

 Die slotsom: Voordat jy vir jou kind toestemming gee om sosiale media te gebruik, maak seker dat hy of sy volwasse genoeg is om by die tydsbeperking te bly, goeie vriendskappe te behou en ongepaste materiaal te vermy.

 Bybelwaarheid: “Die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” – Spreuke 14:15.