Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Die voordele van kreatiewe speletjies

Die voordele van kreatiewe speletjies

 Die uitdrukking “kreatiewe spel” verwys na ontspanning wat kinders se nuuskierigheid en verbeelding stimuleer, en dit help hulle om te ontwikkel en leer hulle om met hulle hande te werk.

 Voorbeelde sluit in:

  •   Teken

  •   Bak

  •   Verbeeldingspeletjies

  •   Sing

  •   Gebruik van boublokke

  •   Speel met eenvoudige voorwerpe (selfs ’n kartonboks kan die verbeelding aanwakker)

 In baie lande is kreatiewe speletjies meestal vervang met passiewe vermaak en georganiseerde aktiwiteite.

 Moet jy bekommerd wees?

 Wat jy moet weet

  •   Kreatiewe speletjies kan ’n kind met sy of haar ontwikkeling help. Dit kan help met fisiese en verstandelike gesondheid, kreatiwiteit en sosiale vaardighede. Dit kan kinders ook leer om geduldig te wees, om beter besluite te maak, om hulle emosies te beheer en om goed oor die weg te kom met ander wanneer hulle in ’n groep speel. Om dit op te som, kreatiewe speletjies kan help om kinders vir die grootmenslewe voor te berei.

  •   Te veel blootstelling aan elektroniese media kan skadelik wees. Te veel blootstelling aan digitale media kan verslawend wees en daar is ook gevind dat dit tot vetsug en aggressiewe gedrag by kinders kan lei. Dit is ’n waarskuwing vir ouers wat elektroniese media as ’n babaoppasser vir hulle kleuters gebruik.

  •   Georganiseerde aktiwiteite is nie noodwendig altyd die beste opsie nie. Wanneer ouers te veel georganiseerde aktiwiteite vir hulle kinders reël, het die kinders nie tyd om dinge te doen wat hulle sal aanmoedig om nuuskierig en kreatief te wees nie. Maar kinders het hierdie soort vryspel nodig.

 Wat jy kan doen

  •   Skep geleenthede vir kreatiewe speletjies. Laat jou kinders buite speel sodat hulle die natuur kan leer ken, waar en wanneer omstandighede dit toelaat. Laat hulle toe om stokperdjies te hê en met speelgoed te speel wat kreatiwiteit ontwikkel. a

     Iets om oor te dink: Watter eienskappe en vaardighede kan my kind deur middel van kreatiewe speletjies ontwikkel, en hoe kan dit hom of haar later in die lewe help?

     Bybelwaarheid: “Fisiese oefening het . . . voordeel.” – 1 Timoteus 4:8.

  •   Beperk skermtyd. Dink baie mooi voordat jy probeer om jou kind besig te hou met ’n foon, tablet of TV. Volgens pediaters behoort kinders onder die ouderdom van twee glad nie skerms te gebruik nie, en kinders tussen die ouderdom van twee en vyf moenie meer as een uur per dag daarmee besig wees nie. b

     Iets om oor te dink: Watter beperkings kan ek vir my kind stel wanneer dit kom by skermtyd? Moet ek saam met my kind kyk? Watter goeie alternatiewe is daar vir elektroniese media?

     Bybelwaarheid: “Hou dus aan om noukeurig te let op hoe julle julle gedra, dat dit nie as onwyse persone is nie, maar as wyse persone, en maak die beste gebruik van julle tyd.” – Efesiërs 5:15, 16.

  •   Dink mooi na oor watter uitwerking georganiseerde aktiwiteite op jou kind sal hê. Georganiseerde aktiwiteite kan wel jou kind help om beter te word met ’n vaardigheid of ’n sport, maar baie keer kan te veel daarvan stres veroorsaak – nie net vir die kind nie, maar ook vir die ouer wat die kind dalk moet rondry. Die beginsel in Efesiërs 5:15, 16 is natuurlik ook hier van toepassing.

     Iets om oor te dink: Is my kinders se dagboek vol van georganiseerde aktiwiteite? As dit die geval is, wat kan ons daaromtrent doen?

     Bybelwaarheid: ‘Maak seker van die belangriker dinge.’ – Filippense 1:10.

a Baie speelgoed in die winkels gee nie veel kans vir kreatiwiteit nie. Aan die anderkant gee eenvoudige speelgoed of voorwerpe, soos boublokke of kartonbokse, ’n kind die geleentheid om sy of haar verbeelding te gebruik.

b “Skermtyd” verwys na vermaak, en nie na sulke dinge soos video-oproepe met geliefdes of geestelike programme wat saam met die gesin geniet word nie.