Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe egskeiding kinders raak

Hoe egskeiding kinders raak

 Party huweliksmaats wat net nie oor die weg kan kom met mekaar nie, sê vir hulleself dat dit beter sal wees vir hulle kinders as hulle skei. Dit sal beslis beter wees as om saam met twee ouers wat die heeltyd stry, te bly. Wat wys die feite?

 Hoe raak egskeiding kinders?

 Navorsing wys dat die gevolge van egskeiding op kinders verwoestend kan wees. Kinders wie se ouers van mekaar geskei is, is meer geneig om:

  •   kwaad te word, angstig en depressief te wees

  •   op ’n manier op te tree wat hulle en ander kan benadeel

  •   agter te raak by die skool of op te hou skoolgaan

  •   maklik siek te word

 Baie kinders blameer ook hulleself vir die egskeiding en dink dat hulle dit veroorsaak het of dit kon verhoed het.

 Egskeidings maak dat die uitdagings wat kinders ervaar, aanhou selfs al is hulle volwassenes. Dit veroorsaak dat hulle ’n lae selfbeeld het en ander nie maklik kan vertrou nie. Hulle sal ook geneig wees om ’n egskeiding te kry wanneer hulle hulle eie huweliksprobleme het.

 Die slotsom: Alhoewel mense wat ’n egskeiding wil kry vir hulleself sê dat dit beter vir hulle kinders sal wees, stem dit nie ooreen met wat navorsing sê nie. Penelope Leach, ’n kenner in kindersorg, skryf: “Egskeiding maak kinders ongelukkig.” a

 Bybelwaarheid: “Terwyl julle nie net aan julle eie belange dink nie, maar ook aan die belange van ander.” – Filippense 2:4.

 Sal my kind gelukkiger wees as ek geskei is?

 Party mense sal ja sê. Maar hou in gedagte dat die behoeftes van die ouer en die behoeftes van die kind nie altyd dieselfde is nie. Die persoon wat daaraan dink om te skei, wil hê dat sy lewe moet verander. Maar gewoonlik wil die kind nie hê dat sy lewe moet verander nie, maar wil hê dat sy ouers bymekaar moet bly.

 Nadat navorsing op duisende egskeidings gedoen is, het die skrywers van die boek The Unexpected Legacy of Divorce geskryf: “Dit is baie duidelik: Die kinders sê nie dat hulle gelukkiger is nie. Hulle sê eerder reguit: ‘Die dag toe my ouers geskei het, is die dag toe my kinderjare geëindig het.’” Die boek sê verder dat die kinders nie meer die wêreld as “’n veilige plek beskou nie, maar as ’n gevaarlike plek omdat die verhoudings tussen die twee mense wat die naaste aan hulle is, nie meer stabiel is nie.”

 Die slotsom: Dit gebeur min dat kinders gelukkig is nadat hulle ouers geskei is.

 Bybelwaarheid: “’n Gebroke gees beroof jou van jou krag.” – Spreuke 17:22.

 Wat gebeur wanneer geskeide persone hulle kinders saam probeer grootmaak?

 Party geskeide ouers probeer die verantwoordelikheid om hulle kind groot te maak, te deel asof hulle nog getroud is. Maar dit is moeilik om as geskeide ouers kinders saam groot te maak. Navorsing wys dat geskeide ouers gewoonlik:

  •   minder tyd saam met hulle kinders spandeer

  •   nie saamstem oor hoe om hulle kinders groot te maak nie

  •   die kinders toelaat om te doen wat hulle wil omdat die ouer skuldig voel of baie moeg is

 Ná ’n egskeiding kan ’n kind voel dat hy nie na sy ouers hoef te luister nie. Sy of haar ouers het in elk geval nie gedoen wat reg is deur hulle belofte te hou om bymekaar te bly nie. Die kind mag dalk sê: “Hoekom moet ek na hulle luister?”

 Die slotsom: Dit is gewoonlik moeilik wanneer geskeide persone hulle kinders saam wil grootmaak. Maar dit is vir die kinders selfs nog moeiliker.

 Bybelwaarheid: “Moenie julle kinders irriteer nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.” – Kolossense 3:21.

 Is daar ’n beter manier om huweliksprobleme te hanteer?

 Dit is harde werk om ’n nuwe lewe te begin ná ’n egskeiding. Dit sou beter gewees het as die huweliksmaats eerder so hard gewerk het om getroud te bly. Die boek The Case for Marriage sê: “Net omdat dit sleg gaan in ’n huwelik, beteken dit nie dat dit altyd so sleg sal gaan nie. Met tyd kan ongelukkige paartjies wat getroud bly, weer gelukkig wees.” Oor die algemeen doen kinders baie beter wanneer hulle ouers bymekaar bly.

 Dit beteken nie dat egskeiding nooit ’n opsie is nie. Die Bybel laat egskeiding toe op grond van seksuele onsedelikheid (Matteus 19:9). Maar die Bybel sê ook “die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen” (Spreuke 14:15). Mans en vroue wat in ’n ongelukkige huwelik is, moet al die faktore in ag neem – insluitende hoe ’n egskeiding hulle kinders sal raak.

 Maar dit beteken natuurlik meer as om net uit te hou. Die Bybel gee die beste raad wat mans en vroue kan help om eienskappe te ontwikkel wat nodig is vir ’n lang en gelukkige huwelik. Dit is nie verbasend nie, want die Skrywer van die Bybel, Jehovah, het die huweliksreëling ingestel. – Matteus 19:4-6.

 Bybelwaarheid: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel.” – Jesaja 48:17.

a Uit die boek Your Growing Child—From Babyhood Through Adolescence.