Spring na inhoud

VOLG HULLE GELOOF NA | JOB

Jehovah het sy pyn weggeneem

Jehovah het sy pyn weggeneem

 Die klein groepie mans het uiteindelik stilgebly. Dalk kon hulle net die sagte warm wind van die Arabiese woestyn hoor. Job het niks meer te sê gehad nie. Hy was uitgeput ná hierdie lang gesprek. Verbeel jou hoe hy sy drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar, vies aankyk. Dit is amper asof hy hulle uitdaag om meer te sê. Maar hulle wil nie eers na hom kyk nie. Hulle was gefrustreerd dat hulle slim redenasies, hulle “winderige woorde” en die wrede goed wat hulle oor Job gesê het, misluk het (Job 16:3). Maar Job was meer vasbeslote as ooit tevore om lojaal aan Jehovah te bly.

 Dalk het Job gevoel dat hy net sy lojaliteit aan Jehovah oorgehad het. Hy het sy rykdom, sy tien kinders, die ondersteuning en respek van sy vriende en bure en uiteindelik sy eie gesondheid verloor. Sy vel was vrot van die siekte, vol rowe en wurms. Selfs sy asem het gevrot (Job 7:5; 19:17; 30:30). Nogtans het die wrede goed wat hierdie drie mans gesê het, Job baie kwaad gemaak. Hy was vasbeslote om hulle verkeerd te bewys. Die laaste woorde wat Job gesê het, het hulle stilgemaak. Nadat hulle soveel wrede goed vir Job gesê het, het hulle nie meer iets leliks gehad om vir hom te sê nie. Maar Job het nog steeds die pyn gevoel. Hy het nog steeds dringend hulp nodig gehad!

 Ons kan verstaan hoekom Job nie die regte beskouing van sy situasie gehad het nie. Hy het raad nodig gehad en hy moes reggehelp word. Hy het iemand nodig gehad wat hom regtig sou aanmoedig en vertroos. Dit is iets wat sy drie vriende moes gedoen het, maar hulle het nie. Het jy al ooit gevoel dat jy raad en vertroosting dringend nodig gehad het? Is jy al ooit teleurgestel deur mense wie jy gedink het jou vriende is? As jy sien hoe Jehovah God sy kneg Job gehelp het en hoe Job gereageer het, kan dit jou hoop gee en jou help.

’n Wyse en liefdevolle man gee raad

 Dan gebeur daar iets in Job se verhaal wat ’n mens nie verwag nie. Daar was ’n ander persoon daar naby, ’n jong man met die naam Elihu. Hy was die heeltyd daar en het in stilte geluister na wat die ouer mans gesê het. En hy het glad nie gehou van wat hy gehoor het nie.

 Job het Elihu ontstel. Dit het hom seergemaak om te sien hoe die regverdige Job toegelaat het dat die drie mans hom gekry het om “sy eie siel regverdig [te] verklaar [eerder] as God”. Maar Elihu het verstaan hoe Job voel en het hom jammer gekry. Hy kon sien dat Job deur baie pyn gaan, eerlik is en dringend wyse raad en vertroosting nodig gehad het. Geen wonder Elihu het ongeduldig geraak met die drie valse vertroosters nie! Hy het gehoor hoe hulle lelike dinge vir Job sê en probeer het om sy geloof, waardigheid en lojaliteit af te breek. Die ergste van alles is dat hulle leuens vertel het wat dit laat lyk het asof God sleg is. Elihu was so opgewerk, hy kon nie meer stilbly nie! – Job 32:2-4, 18.

 Elihu het gesê: “Ek is jonk in dae en julle is bejaard. Daarom het ek my op die agtergrond gehou en was ek bang om my kennis aan julle mee te deel.” Maar hy kon nie meer stilbly nie. Hy het verder gesê: “Nie net dié wat oorvloedig in dae is, is wys nie, en ook nie net dié wat oud is, verstaan die reg nie” (Job 32:6, 9). Toe het Elihu lank gepraat en bewys dat hierdie woorde waar is. Hy het anders gepraat met Job as wat Elifas, Bildad en Sofar met hom gepraat het. Elihu het Job verseker dat hy hom nie sou verkleineer of hom nog erger sou laat voel nie. Hy het Job met respek behandel deur sy naam te gebruik en deur te erken dat hy sleg behandel is. a Hy het met respek gesê: “O Job, hoor asseblief my woorde.” – Job 33:1, 7; 34:7.

Elihu het Job se naam gebruik en hom met liefde en respek behandel

 Elihu het reguit vir Job gesê: “U het voor my ore gesê, . . . ‘Ek is suiwer, sonder oortreding; rein is ek, en ek het geen ongeregtigheid nie. Kyk! [God] vind rede vir teenstand teen my.’” Elihu het reguit tot die punt gekom en gevra: “Is dit wat u as geregtigheid beskou het? U het gesê: ‘My regverdigheid is groter as dié van God.’” Hy kon nie toelaat dat Job aanhou om so te dink nie. Daarom het die jong man gesê: “Hierin was u nie reg nie” (Job 33:8-12; 35:2). Elihu het geweet dat Job baie kwaad was oor alles wat hy verloor het en omdat sy valse vriende hom so sleg behandel het. Maar Elihu het Job gewaarsku: “Pas op dat woede u nie tot kwaadwillige handegeklap verlok nie.” – Job 36:18.

Elihu beklemtoon Jehovah se liefde

 Die belangrikste van alles is dat Elihu Jehovah God verdedig het. Met hierdie eenvoudige maar kragtige woorde het hy ’n baie belangrike feit verduidelik: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel! . . . Die Almagtige verdraai nie die reg nie” (Job 34:10, 12). As ’n voorbeeld van Jehovah se genade en regverdigheid het Elihu Job daaraan herinner dat Jehovah Job kon gestraf het omdat hy disrespekvolle dinge gesê het sonder om te dink, maar Jehovah het nie (Job 35:13-15). En Elihu het nie gemaak asof hy al die antwoorde het nie. Hy was nederig en het gesê: “God is meer verhewe as wat ons kan weet.” – Job 36:26.

 Elihu het vir Job reguit raad gegee, maar hy was nog steeds liefdevol. Hy het van ’n wonderlike hoop gepraat, dat Jehovah Job weer gesond sou maak. God sou van sy lojale kneg sê: “Laat sy vlees frisser word as in die jeug; laat hy terugkeer na die dae van sy jeugdige krag.” Nog ’n liefdevolle ding wat Elihu gedoen het, was om Job te vra om hom te antwoord. Hy het nie net die heeltyd vir Job gesê wat hy moet doen nie. Hy het vir Job gesê: “Praat, want ek het behae geskep in u regverdigheid” (Job 33:25, 32). Maar Job het nie geantwoord nie. Miskien was Elihu se woorde so liefdevol en aanmoedigend dat Job nie gevoel het dat dit nodig was om homself te verdedig nie. Dalk het Job gehuil omdat hy besef het dat Elihu regtig vir hom omgee.

 Ons kan baie belangrike lesse by altwee hierdie getroue manne leer. By Elihu leer ons hoe om raad te gee en hoe om mense te vertroos wat dit nodig het. ’n Ware vriend sal nie bang wees om vir jou te sê as jy ’n ernstige swakheid het of as jy op die punt staan om ’n fout te maak nie (Spreuke 27:6). Ons wil ’n eerlike vriend wees vir ander. Ons wil liefdevol en aanmoedigend bly teenoor mense wat dit nodig het selfs al sê hulle dinge sonder om daaroor te dink of omdat hulle emosioneel is. En wanneer ons self raad nodig het, wys Job se voorbeeld ons hoe om nederig na raad te luister in plaas van om dit te ignoreer. Ons almal het raad nodig en moet reggehelp word. As ons dit aanvaar, kan dit ons lewe red. – Spreuke 4:13.

“Uit die windstorm”

 Terwyl Elihu gepraat het, het hy baie keer na wind, wolke, donderweer en weerlig verwys. Hy het van Jehovah gesê: “Luister aandagtig na die gedreun van sy stem.” ’n Rukkie later het Elihu van ’n “stormwind” gepraat (Job 37:2, 9). Dit lyk asof ’n storm op pad was terwyl hy gepraat het. Dit het al hoe sterker geword. Uiteindelik het ’n windstorm losgebreek. En toe het iets baie meer dramaties gebeur. Jehovah het gepraat! – Job 38:1.

Stel jou voor wat ’n voorreg dit sou wees om ’n klas by te woon waar die Skepper van die heelal jou oor die natuur leer!

 Wanneer ons die boek Job lees, is ons bly om by hierdie wonderlike hoofstukke te kom waar Jehovah met Job praat. Dit is asof ’n windstorm van waarheid al hierdie valse, leë woorde van Elifas, Bildad en Sofar weggewaai het. Jehovah het eers later met hierdie manne gepraat. Hy het eers net op Job gefokus. Hy het sy geliefde kneg op ’n reguit maar liefdevolle manier reggehelp soos ’n pa sy seun sou reghelp.

 Jehovah het Job se pyn verstaan. En hy het die man jammer gekry, net soos hy altyd sy geliefde kinders jammer kry wanneer hulle swaarkry (Jesaja 63:9; Sagaria 2:8). Maar hy het ook geweet dat Job “woorde sonder kennis” gebruik het en sy eie probleme erger gemaak het. Daarom het Jehovah Job reggehelp deur hom baie vrae te vra wat hom sou laat dink. Jehovah het gevra: “Waar was jy toe ek die aarde gegrondves het? Vertel my, as jy verstand het.” Aan die begin van die skepping het “die môresterre”, God se gesin van engele, van vreugde uitgeroep oor hoe wonderlik die skepping is (Job 38:2, 4, 7). Job kon natuurlik nie antwoord nie, want hy was nie daar nie.

Jehovah het uit die windstorm gepraat en Job liefdevol gehelp om sy gesindheid te verander

 Jehovah het toe verder gepraat oor sy skepping. Jehovah het Job toe ’n bietjie vertel oor onderwerpe wat ons nou natuurwetenskappe noem. Hierdie onderwerpe sluit astronomie, biologie, geologie en fisika in. Jehovah het verskillende diere beskryf wat in die gebied voorgekom het waar Job gebly het. Diere soos die leeu, die raaf, die bergbok, die sebra, die wilde bul, die volstruis, die perd, die valk, die arend, Behemot (heel moontlik die seekoei) en laastens Leviatan (heel moontlik die krokodil). Stel jou voor wat ’n voorreg dit sou wees om ’n klas by te woon waar die Skepper van die heelal jou oor die natuur leer! b

’n Les oor nederigheid en liefde

 Wat was die punt? Dit was nodig vir Job om te leer om nederig te wees. Job het gekla dat Jehovah hom onregverdig behandel het. Deur dit te doen, het dit groot skade aan Job sy verhouding met sy liefdevolle Vader veroorsaak wat sy situasie selfs erger gemaak het. So Jehovah het oor en oor gevra waar Job was toe Hy al die wonderlike dinge in die heelal geskep het. En Jehovah het Job ook gevra of hy al die diere wat Jehovah gemaak het, kon voer en beheer. As Job nie eers die dinge kon beheer wat Jehovah geskep het nie, hoe kon hy dink dat hy die reg gehad het om vir die Skepper te sê wat om te doen? Jehovah weet baie meer as wat Job ooit kon weet en verstaan.

Job het nie met Jehovah gestry, homself geregverdig of verskonings gemaak nie

 Alles wat Jehovah gesê het, het gewys hoe lief hy vir Job was. Dit is asof Jehovah met Job geredeneer het: ‘My seun, as ek al hierdie dinge kan skep en daarvoor kan sorg, dink jy nie dat ek vir jou ook kan sorg nie? Sal ek jou regtig verlaat, jou kinders, jou toekoms en jou gesondheid van jou af wegneem? Is ek nie die enigste Een wat alles aan jou kan teruggee wat jy verloor het en jou vreeslike pyn kan wegneem nie?’

 Job het Jehovah net twee keer geantwoord. Hy het nie gestry, homself regverdig of verskonings gemaak nie. Hy het nederig erken hoe min hy regtig geweet het, en hy was jammer oor wat hy gesê het (Job 40:4, 5; 42:1-6). Hier sien ons ’n uitstekende voorbeeld van Job se geloof. Ná alles wat hy deurgemaak het, was hy nog steeds ’n man van groot geloof. Hy het Jehovah se raad aanvaar en sy gesindheid verander. Dit beweeg ons dalk om ons af te vra: ‘Is ek nederig as ek reggehelp word en aanvaar ek die raad?’ Ons almal het sulke hulp nodig. Wanneer ons dit aanvaar, volg ons Job se geloof na.

“Julle het nie die waarheid oor my gepraat . . . nie”

 Jehovah het geweet dat Job baie swaarkry, en daarom het hy iets gedoen om hom te vertroos. Jehovah het vir Elifas, heel moontlik die oudste van die drie valse vertroosters, gesê: “My toorn het teen jou en jou twee metgeselle ontvlam, want julle het nie die waarheid oor my gepraat soos my kneg Job nie” (Job 42:7). Dink aan hierdie woorde. Het Jehovah gesê dat alles wat daardie drie manne gesê het, ’n leuen was of dat elke woord wat Job gesê het, reg was? Natuurlik nie. c Maar daar was ’n groot verskil tussen Job en sy beskuldigers. Job se hart was gebreek, hy was in pyn as gevolg van droefheid en hy was baie moedeloos as gevolg van die valse beskuldigings. Daarom is dit verstaanbaar dat hy soms gepraat het sonder om te dink. Maar Elifas en sy twee vriende was nie in dieselfde moeilike situasie as Job nie. Hulle het aspris sulke wrede dinge gesê omdat hulle trots was en swak geloof gehad het. Hulle het nie net ’n onskuldige man aangeval nie. Die ergste van alles was dat hulle dit laat lyk het asof Jehovah wreed en selfs sleg is!

 So dit maak sin dat Jehovah vereis het dat daardie mans ’n duur offerande moes bring. Hulle moes sewe bulle en sewe ramme opoffer. En dit was nie iets kleins nie, want later in die Wet van Moses is die bul gekies as die offerande wat die hoëpriester moes bring as hy gesondig het en skuld oor die volk gebring het (Levitikus 4:3). Dit was die duurste offerande van al die diere wat onder die Wet geoffer was. En Jehovah het gesê dat hy net die offerande sou aanvaar as Job eers vir sy beskuldigers gebid het (Job 42:8). d Dit moes Job se hart baie vertroos het dat God hom verdedig het en om Jehovah se geregtigheid ook te sien!

“My kneg Job sal vir julle bid.” – Job 42:8

 Jehovah het vertrou dat Job sou doen wat hy van hom verwag. Dit sou wys dat Job daardie mans wat hom so diep seergemaak het, vergewe het. En Job het nie sy Vader teleurgestel nie (Job 42:9). Sy gehoorsaamheid was die grootste bewys van sy lojaliteit wat selfs kragtiger was as enigiets wat hy kon sê. En omdat Job gehoorsaam was, het Jehovah groot seëninge vir Job gegee.

“Baie teer in geneentheid”

 Jehovah was “baie teer in geneentheid en barmhartig” teenoor Job (Jakobus 5:11). Hoe? Jehovah het Job weer gesond gemaak. Dink net hoe Job gevoel het toe hy besef het dat sy vlees beslis ‘frisser geword het as in die jeug’ net soos Elihu voorspel! Sy familie en vriende het hom uiteindelik die ondersteuning gegee wat hy nodig gehad het. Jehovah het Job weer ryk gemaak en het hom twee keer soveel besittings gegee as wat hy gehad het. En wat van sy grootste pyn – die dood van sy kinders? Job en sy vrou het ’n mate van vertroosting gekry omdat hulle nog tien kinders gehad het! En Jehovah het Job se lewe wonderdadig langer gemaak. Job het nog 140 jaar bly lewe. Lank genoeg om vier generasies van sy nageslag gelukkig te sien. “Job het uiteindelik gesterf, oud en versadig van dae” (Job 42:10-17). En in die Paradys sal Job en sy vrou weer saam met hulle familie wees, insluitende die tien kinders wat Satan van hulle af weggeneem het. – Johannes 5:28, 29.

 Hoekom het Jehovah Job op so ’n wonderlike manier geseën? Die Bybel sê: “Julle het gehoor van die volharding van Job” (Jakobus 5:11). Job het deur baie erger dinge gegaan as wat ons ons ooit kan voorstel. Die woord “volharding” sê vir ons dat Job meer gedoen het as om net deur hierdie moeilike tye te gaan. Hy het volhard en sy geloof en liefde vir Jehovah het sterk gebly. Eerder as om kwaad en bitter te bly, was hy bereid om mense te vergewe wat hom aspris seergemaak het. En hy het nooit sy kosbare hoop opgegee nie en het altyd die belangrikste ding beskerm, sy lojaliteit aan Jehovah. – Job 27:5.

 Ons almal moet volhard. Ons kan seker wees dat Satan sal probeer om ons moedeloos te maak, soos hy met Job gedoen het. Maar as ons volhard in die geloof, nederig bly, bereid is om ander te vergewe en vasbeslote is om ons lojaliteit te beskerm, dan kan ons uitsien na ’n wonderlike toekoms (Hebreërs 10:36). En as ons lojaal is soos Job, sal dit Satan frustreer en Jehovah, wat ons liefhet, baie bly maak!

a Elifas, Bildad en Sofar het lank met Job gepraat. Hulle het genoeg gesê om nege hoofstukke van die Bybel vol te maak, maar hulle het nie een keer Job se naam gebruik nie.

b Jehovah slaan soms oor van realistiese beskrywings na meer figuurlike of poëtiese uitdrukkings sonder enige moeite. (Sien byvoorbeeld Job 41:1, 7, 8, 19-21.) Of God nou letterlike of poëtiese woorde gebruik het, sy doel was om Job te help om dieper respek vir sy Skepper te hê.

c Die apostel Paulus het later iets wat Elifas gesê het, as ’n waarheid aangehaal (Job 5:13; 1 Korintiërs 3:19). Wat Elifas gesê het, was die waarheid, maar hy het dit verkeerdelik op Job toegepas.

d Daar staan nêrens dat Job ’n soortgelyke offerande vir sy vrou moes offer nie.