Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Spreuke 17:17 – “Die vriend het altyd lief”

Spreuke 17:17 – “Die vriend het altyd lief”

“’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17, Nuwe Wêreld-vertaling.

“Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood.” – Spreuke 17:17, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Spreuke 17:17

 Ware vriende is betroubaar. Soos broers en susters wat baie na aan mekaar is, is hulle lojaal en gee hulle om, veral gedurende moeilike tye.

 “’n Ware vriend betoon altyd liefde.” Hierdie woorde kan ook “vriende wys altyd hulle liefde” beteken. Die Hebreeuse woord vir “liefde” wat hier gebruik word, sluit meer as net ’n emosie of ’n gevoel vir ’n persoon in. Dit is ’n onselfsugtige liefde wat aan ander deur dade gewys word (1 Korintiërs 13:4-7). Vriende wat mekaar op hierdie manier liefhet, bly lojaal aan mekaar selfs wanneer hulle vriendskap getoets word, dalk deur misverstande of die uitdagings van die lewe. Hulle vergewe mekaar ook vryelik (Spreuke 10:12). En ’n vriend word nie jaloers wanneer dit goed gaan met die ander persoon nie. Hy is eerder bly saam met sy vriend. – Romeine 12:15.

 “’n Ware vriend . . . is ’n broer gedurende moeilike tye.” Die spreekwoord is gebaseer op die idee dat broers en susters veral na aan mekaar kan wees. So wanneer ons ons heel beste doen vir ’n vriend wat deur ’n stresvolle tyd gaan, tree ons net soos ’n ware broer of suster op. Wat meer is, die band wat sulke vriende saambind, word nie deur toetse verswak nie. Dit word eerder sterker omdat hulle liefde en respek vir mekaar groei.

Konteks van Spreuke 17:17

 Die boek Spreuke bevat diep wysheid in die vorm van kort gesegdes wat die leser laat dink. Koning Salomo het ’n groot deel van hierdie Bybelboek geskryf. Sy skryfstyl is tipies van Hebreeuse digkuns. In plaas daarvan om ’n rympatroon te gebruik, gebruik dit parallelle sowel as teenstellende gedagtes, waar een reël dalk op die ander bou of in teenstelling daarmee is. Spreuke 17:17 is ’n voorbeeld van parallelle digkuns, met ander woorde die tweede deel van die vers bou op die eerste deel. Spreuke 18:24 is ’n voorbeeld van teenstellende gedagtes. “Daar is vriende wat mekaar verwoes, maar daar is ’n vriend wat lojaler is as ’n broer.”

 Toe Salomo Spreuke 17:17 geskryf het, het hy dalk gedink aan die hegte vriendskap wat sy pa, Dawid, met Jonatan, ’n seun van koning Saul, gehad het (1 Samuel 13:16; 18:1; 19:1-3; 20:30-34, 41, 42; 23:16-18). Al was Dawid en Jonatan nie familie van mekaar nie, was hulle nader aan mekaar as broers. Jonatan het selfs sy lewe vir sy jong vriend gewaag. a

Ander vertalings van Spreuke 17:17

 “’n Ware vriend bly altyd getrou, en ’n broer is daar om ’n mens te help as jy in die moeilikheid kom.” – Die Lewende Bybel.

 “’n Vriend is te alle tye liefdevol en word ’n broer gedurende moeilike tye.” – The Bible in Basic English.

 “’n Vriend is altyd ’n vriend, hy is ’n broer wat gebore is vir moeilike tye.” – The Moffatt Translation of the Bible.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Spreuke te kry.

a Sien die artikel “’n Sterk band van vriendskap”.