Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Romeine 10:13 – ‘Roep die Naam van die Here aan’

Romeine 10:13 – ‘Roep die Naam van die Here aan’

“Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.” – Romeine 10:13, Nuwe Wêreld-vertaling.

“Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” – Romeine 10:13, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Betekenis van Romeine 10:13

God is onpartydig, en hy gee alle mense die geleentheid om gered te word en die ewige lewe te kry, maak nie saak wat hulle nasionaliteit, ras of sosiale status is nie. Maar om hierdie geleentheid te kry, moet ons die naam van Jehovah aanroep, wat die persoonlike naam van die Almagtige God is. aPsalm 83:18.

In die Bybel beteken die uitdrukking om “die naam van Jehovah aan [te] roep” meer as om net God se naam te ken en dit in aanbidding te gebruik (Psalm 116:12-14). Dit sluit in dat ons op God vertrou en hom vra vir hulp. – Psalm 20:7; 99:6.

God se naam was belangrik vir Jesus Christus. Die eerste woorde in sy modelgebed is: “Ons Vader in die hemel, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Jesus het ook gewys dat ons Jehovah moet ken, gehoorsaam en liefhê as ons vir ewig wil lewe. – Johannes 17:3, 6, 26.

Hoe weet ons dat Jehovah “die Here” is wat in Romeine 10:13 genoem word in die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling? Omdat hierdie vers Joël 2:32 aanhaal, waar God se naam in die oorspronklike Hebreeus voorkom, nie die titel “Here” nie. b

Konteks van Romeine 10:13

In Romeine hoofstuk 10 wys die Bybel dat God se goedkeuring afhang van ’n persoon se geloof in Jesus Christus (Romeine 10:9). Dit word ondersteun deur ’n hele paar aanhalings uit wat bekend staan as die Ou Testament. ’n Persoon wys dat hy geloof het deur dit “in die openbaar bekend [te] maak”, wat insluit dat hy die goeie nuus oor redding aan ongelowiges verkondig. Die gevolg is dat ander die geleentheid kry om geloof te ontwikkel wat tot lewe lei. – Romeine 10:10, 14, 15, 17.

Lees Romeine hoofstuk 10 saam met verduidelikende voetnote en kruisverwysings.

a God se naam verskyn omtrent 7 000 keer in ou Bybelmanuskripte. In Hebreeus word God se naam met vier letters geskryf, wat bekend staan as die Tetragrammaton. Die naam word gewoonlik in Afrikaans as “Jehovah” vertaal, maar party geleerdes verkies die vertaling “Jahweh”.

b Dit is moontlik dat Christenbybelskrywers God se naam gebruik het wanneer hulle verse met daardie naam in die “Ou Testament” aangehaal het. The Anchor Bible Dictionary sê: “Daar is bewyse dat die Tetragrammaton, God se Naam, Jahweh, in party of in al die N[uwe] T[estament] se aanhalings uit die O[u] T[estament] verskyn het toe die dokumente van die NT aanvanklik geskryf is” (Deel 6, bladsy 392). Vir meer inligting sien “God se naam in die Christelike Griekse Geskrifte” in Aanhangsel A5 van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel. Aanhangsel C2 in die Engelse Studiebybel het ’n lys van Bybelvertalings wat God se naam in Romeine 10:13 gebruik.