Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Markus 11:24 – “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het”

Markus 11:24 – “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het”

 “Daarom sê ek vir julle: Glo dat julle alles waarvoor julle bid en vra, reeds ontvang het, en julle sal dit hê.” – Markus 11:24, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” – Markus 11:24, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Markus 11:24

 Met hierdie woorde het Jesus vir sy volgelinge gewys hoe belangrik dit vir hulle is om sterk geloof in die krag van gebed te hê. Hy verseker hulle dat God nie net na hulle gebede luister nie, maar dit ook beantwoord. ’n Persoon wat opreg in ooreenstemming met God se wil bid, kan seker wees dat die dinge waarvoor hy bid, beslis waar sal word. Dit is asof die gebed alreeds beantwoord is.

 Jesus beklemtoon hoe belangrik dit is om met geloof te bid. Hy verduidelik dat die persoon wat bid, “nie in sy hart [moet] twyfel nie maar geloof [moet hê]” (Markus 11:23). Hoekom? Want iemand wat twyfel, kan nie “verwag dat hy enigiets van Jehovah a sal ontvang nie”. – Jakobus 1:5-8.

 ’n Persoon met geloof bid in verskillende situasies (Lukas 11:9, 10; Romeine 12:12). Op hierdie manier wys hy dat hy die dinge waarvoor hy bid, werklik nodig het en dat hy regtig glo dat God sy gebed kan beantwoord. Hy besef ook natuurlik dat God kan kies om sy gebed op ’n ander manier of tyd te beantwoord as wat hy verwag. – Efesiërs 3:20; Hebreërs 11:6.

 Maar Jesus se woorde beteken nie dat ’n persoon kan verwag dat hy alles sal ontvang wat hy in gebed vir God vra nie. Jesus het met sy volgelinge gepraat, wat manne van geloof was wat hulle bes probeer het om Jehovah God op ’n aanvaarbare manier te aanbid. Die Bybel sê dat Jehovah net na gebede luister wat ooreenstem met sy wil (1 Johannes 5:14). Hy luister nie na die gebede van diegene wat doelbewus sy standaarde ignoreer en wat slegte dinge doen sonder om berou te toon nie (Jesaja 1:15; Miga 3:4; Johannes 9:31). Kyk na hierdie kort video om uit te vind na watter soort gebede God luister.

Konteks van Markus 11:24

 In die laaste dae van sy aardse bediening het Jesus met sy dissipels bespreek hoe belangrik dit is om sterk geloof in God te hê. Hy het ’n illustrasie gebruik om hierdie les te beklemtoon. Terwyl hy na Jerusalem op pad was, het hy ’n vyeboom gesien wat vroeg blare gehad het. Maar die boom het nie vrugte gedra nie, en daarom het Jesus dit vervloek (Markus 11:12-14). Die bedrieglike voorkoms van daardie boom het geïllustreer hoe dit gelyk het asof die eertydse nasie Israel God aanbid het, maar eintlik ’n gebrek aan geloof gehad het (Matteus 21:43). Kort daarna het die vyeboom uitgedroog, wat gewys het wat binnekort met die ontroue Israel sou gebeur. – Markus 11:19-21.

 Maar Jesus was oortuig dat sy volgelinge die geloof kon ontwikkel wat nodig was om uitdagings te oorkom en ongelooflike dinge te doen (Markus 11:22, 23). Jesus se raad oor gebed was veral gepas omdat sy volgelinge se geloof binnekort getoets sou word. Hulle sou Jesus se dood moes verwerk en sou al hoe meer teenstand in hulle bediening kry (Lukas 24:17-20; Handelinge 5:17, 18, 40). Net so vandag kan Jesus se volgelinge uitdagende omstandighede oorkom wanneer hulle geloof in God en in die krag van gebed toon. – Jakobus 2:26.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Markus te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?