Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Kolossense 3:23 – “Wat julle ook al doen, doen dit van harte”

Kolossense 3:23 – “Wat julle ook al doen, doen dit van harte”

 “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie.” – Kolossense 3:23, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.” – Kolossense 3:23, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Kolossense 3:23

 ’n Christen moet daarna streef om ’n harde werker te wees, want sy gesindheid teenoor werk hou verband met sy aanbidding van Jehovah God.

 “Wat julle ook al doen.” Diegene wat Jehovah wil aanbid, probeer om die Bybel te volg in alles wat hulle doen. Hulle streef daarna om hardwerkend, eerlik en betroubaar te wees in hulle daaglikse lewe by die huis, by die werk en by die skool. – Spreuke 11:13; Romeine 12:11; Hebreërs 13:18.

 “Doen dit van harte.” Die uitdrukking “van harte” is ’n vertaling van ’n Griekse uitdrukking wat “’n persoon se vasbeslotenheid beskryf om God se wil met sy hele krag te doen”. a

 Daarom gebruik so ’n werker al sy fisiese en verstandelike vermoëns om ’n taak so goed as moontlik te doen. ’n Ander Bybelvertaling vertaal hierdie uitdrukking met “heelhartig” (New Catholic Bible).

 “Vir Jehovah en nie vir mense nie.” Ongeag watter werk hulle doen, Christene beskou dit as ernstig omdat hulle besef dat hulle verhouding met Jehovah God hierby betrokke is. Hulle stel hoofsaaklik daarin belang om hom gelukkig te maak, nie ’n werkgewer of enige iemand anders nie. Wanneer ’n Christen hard werk en ’n positiewe gesindheid het, sal mense nie net goed dink van hom nie, maar ook van die God wat hy aanbid. Daarom doen ’n Christen alles wat hy kan “sodat daar nooit sleg gepraat sal word van die naam van God” nie. – 1 Timoteus 6:1; Kolossense 3:22.

Konteks van Kolossense 3:23

 Die Bybelboek Kolossense was geskryf deur die apostel Paulus vir Christene in die eertydse stad Kolosse. b Hy het dit blykbaar geskryf teen die einde van sy eerste gevangenskap in Rome, ongeveer 60-61 HJ.

 Kolossense bevat raad wat Christene van alle agtergronde en omstandighede help om God in eenheid te aanbid (Kolossense 3:11). Dit moedig hulle aan om God se eienskappe, soos liefde, goedhartigheid en genade, na te volg (Kolossense 3:12-14). Dit verduidelik ook hoe dit elke aspek van ’n persoon se lewe moet raak as hy God aanbid. – Kolossense 3:18–4:1.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Kolossense te kry.

a Uit die Exegetical Dictionary of the New Testament, 1993, Deel 3, bladsy 502.

b ’n Stad wat nou in hedendaagse Turkye is.