Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Galasiërs 6:9 – “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie”

Galasiërs 6:9 – “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie”

 “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons oes as ons nie moeg word nie.” – Galasiërs 6:9, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” – Galasiërs 6:9, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Galasiërs 6:9

 Die apostel Paulus moedig Christene aan om aan te hou om dinge te doen wat God as goed beskou. As hulle dit doen, kan hulle seker wees dat God hulle sal beloon.

 “Laat ons . . . nie ophou . . . nie.” Hierdie woorde kan ook vertaal word as “laat ons nie moeg word . . . nie”. Die term in die oorspronklike taal kan ook die gedagte oordra om nie mismoedig te word nie of om nie jou entoesiasme te verloor nie. Deur homself by hierdie woorde in te sluit, het die apostel Paulus erken dat daar tye was toe hy ook mismoedig gevoel het. – Romeine 7:21-24.

 “Wat goed is” sluit al die dinge in wat ’n Christen moet doen as deel van sy diens aan God. Dit sluit die dinge in wat ’n persoon doen om sy medegelowiges en ander te help. – Galasiërs 6:10.

 “Op die regte tyd sal ons oes as ons nie moeg word nie.” Paulus herinner sy lesers dat dit dalk tyd sal neem voordat hulle die voordele sien van die goeie dinge wat hulle doen, net soos dit tyd neem vir ’n boer se oes om te groei. Deur na die oeswerk te verwys, verbind Paulus hierdie vers met die basiese waarheid in vers 7: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes.” Met ander woorde, wanneer ’n Christen doen wat goed is in God se oë, sal hy ’n groot beloning kry, wat die ewige lewe insluit. – Romeine 2:6, 7; Galasiërs 6:8.

Konteks van Galasiërs 6:9

 Die apostel Paulus het hierdie brief in ongeveer 50-52 HJ geskryf aan die Christene wat in Galasië gewoon het. Hy het dit gedoen om Christene te beskerm teen die invloed van individue wat beweer het dat hulle Christene was, maar wat eintlik die waarheid oor Jesus verdraai het (Galasiërs 1:6, 7). Hierdie valse onderrigters het gestry en gesê dat Christene die Wet moet gehoorsaam wat God aan die nasie Israel deur Moses gegee het (Galasiërs 2:15, 16). Paulus het verduidelik dat die Wet sy doel gedien het en nie meer op God se aanbidders van toepassing is nie. – Romeine 10:4; Galasiërs 3:23-25.

 Toe Paulus mede-Christene aangemoedig het “om te doen wat goed is”, het hy nie bedoel dat hulle die Wet van Moses moet gehoorsaam nie. Hy het hulle eerder aangemoedig om “die wet van die Christus [te] vervul”, wat alles insluit wat Jesus ander geleer het oor die doen van goeie dinge vir ander. – Galasiërs 6:2; Matteus 7:12; Johannes 13:34.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Galasiërs te kry.