Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Wie is Jehovah se Getuies?

Wie is Jehovah se Getuies?

“Ek het Mike al jare lank geken. Hy is een van Jehovah se Getuies. Maar ek kon glad nie sy godsdiens verstaan nie. Wie is Jehovah? Waarom vier Getuies nie vakansiedae nie? Is Mike betrokke by ’n kultus?”—Becky, Kalifornië, VSA.

“Toe my bure die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ek gewonder: ‘Wat beteken die naam Jehovah se Getuies? Wat ’n snaakse naam vir ’n godsdiens!’”—Zenon, Ontario, Kanada.

“Ek en my vrou het gedink dat Jehovah se Getuies ons kom besoek het om ons skuldig te laat voel, aangesien ons nie by die kerk was nie. En ons het gereken: As die hoofstroomkerke nie het waarna ons soek nie, sal ’n vreemde sekte soos Jehovah se Getuies dit beslis ook nie hê nie.”—Kent, Washington, VSA.

“Ek het eerlikwaar nie geweet wie hulle is en wat hulle glo nie.”—Cecilie, Esbjerg, Denemarke.

Jy het hulle waarskynlik al gesien terwyl hulle van deur tot deur of op openbare plekke preek, Bybellektuur versprei en gratis Bybelstudies aanbied. Dalk het jy hierdie tydskrif by een van hulle gekry. Maar jy wonder moontlik nog steeds wie Jehovah se Getuies werklik is. Miskien voel jy net soos een van die persone wat hierbo aangehaal is.

Waar kan jy antwoorde vind as jy sulke vrae het? Hoe kan jy uitvind wat Jehovah se Getuies werklik glo, hoe hulle bediening en plekke van aanbidding gefinansier word en waarom hulle jou by jou huis besoek en jou op openbare plekke nader?

“Ek het baie omtrent Jehovah se Getuies op die Internet gelees”, sê Cecilie, wat vroeër aangehaal is. “Ek het gerugte gehoor en na talle bevooroordeelde mense geluister. Gevolglik het ek ’n baie negatiewe beskouing van Jehovah se Getuies gekry.” Maar later het sy self met Jehovah se Getuies gepraat en bevredigende antwoorde op haar vrae gevind.

Wil jy graag betroubare antwoorde op jou vrae oor Jehovah se Getuies vind? Ons spoor jou aan om te gaan na die beste bron van inligting oor Jehovah se Getuies—Jehovah se Getuies self, wat hierdie tydskrif uitgee (Spreuke 14:15). Ons hoop dat die volgende artikels jou sal help om te sien wie ons is en wat ons glo en om die werk wat ons doen, te verstaan.