Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe het Romeinse burgerskap die apostel Paulus tot voordeel gestrek?

Paulus het gesê: “Ek beroep my op die Keiser!”

’n Romeinse burger kon op sekere regte en voorregte aanspraak maak waar hy ook al in die ryk gegaan het. Hy was onderworpe aan die Romeinse wet, nie die wette van die stede in die provinsies nie. Wanneer hy aangekla is, kon hy instem om volgens die plaaslike wet verhoor te word, maar hy het nog steeds die reg behou om deur ’n Romeinse hof verhoor te word. As hy die doodstraf ontvang het, het hy die reg gehad om hom op die keiser te beroep.

Op grond van hierdie regte, het Cicero, ’n Romeinse staatsman van die eerste eeu VHJ, gesê: “Dit is onwettig om ’n Romeinse burger vas te bind; om hom te gesel, is goddeloos; om hom dood te maak, is feitlik familiemoord”, dit wil sê om jou eie ma of pa of ’n familielid dood te maak.

Die apostel Paulus het dwarsdeur die Romeinse Ryk gepreek. Daar is drie opgetekende gevalle waar hy van sy regte as ’n Romeinse burger gebruik gemaak het: (1) Hy het die magistrate in Filippense in kennis gestel dat hulle sy regte geskend het deur hom te slaan. (2) Hy het sy status bekend gemaak sodat hy nie in Jerusalem gegesel sou word nie. (3) Hy het hom beroep op die keiser, wat in Rome was, sodat sy saak direk deur hom verhoor kon word.—Handelinge 16:37-39; 22:25-28; 25:10-12.

Watter betaling het herders in Bybeltye ontvang?

’n Kontrak in spykerskrif vir die aankoop van skape en bokke, omstreeks 2050 VHJ

Die aartsvader Jakob het sy oom Laban se kuddes 20 jaar lank opgepas. Die eerste 14 jaar het Jakob vir Laban gewerk sodat hy met sy twee dogters kon trou, en die oorblywende 6 jaar is hy met vee betaal (Genesis 30:25-33). “Eertydse skrywers en lesers van die Bybelteks sou goed bekend gewees het met ooreenkomste om herderswerk te doen, soos dié tussen Laban en Jakob”, sê die tydskrif Biblical Archaeology Review.

Voorbeelde van sulke ooreenkomste kan gesien word in eertydse kontrakte wat by Nuzi, Larsa en op ander plekke in hedendaagse Irak opgegrawe is. Gewoonlik het ’n kontrak van een jaarlikse skeertyd tot die volgende geduur. Herders het die verantwoordelikheid aanvaar om na ’n spesifieke aantal diere om te sien wat volgens hulle ouderdom en geslag op ’n lys aangegee is. ’n Jaar later het die eienaar ’n voorafbepaalde minimum wol, suiwelprodukte, jong vee, ensovoorts ontvang. Enige oorskot het aan die herder behoort.

Die groei van die kudde het afgehang van die aantal ooie wat aan die herder toevertrou is. Daar was oor die algemeen verwag dat 100 ooie 80 lammers sou voortbring. Die herder moes vergoed vir enige tekort, of verlies. Dit was dus vir hom ’n groot motivering om goed om te sien na die diere wat aan hom toevertrou is.