Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sagmoedigheid​​—⁠Die wyse weg

Sagmoedigheid​​—⁠Die wyse weg

Toñi, ’n professionele versorger, het die deurklokkie gelui en ’n middeljarige vrou het die deur oopgemaak. Die vrou het Toñi uitgeskel en beledig omdat sy nie vroeër gekom het om na die vrou se bejaarde moeder om te sien nie. Toñi was nie laat vir werk nie. Tog het sy kalm om verskoning gevra vir die misverstand.

MET die volgende besoek het die vrou weer teen haar uitgevaar. Hoe het Toñi gereageer? “Dit was ’n baie moeilike situasie”, het sy erken. “Haar beledigings was ongegrond.” Toñi het nietemin weer om verskoning gevra en vir die vrou gesê dat sy besef watter moeilike tyd sy deurmaak.

Hoe sou jy gereageer het as jy in Toñi se situasie was? Sou jy ’n sagmoedige gees probeer openbaar het? Sou dit vir jou moeilik gewees het om jou humeur in toom te hou? Dit is beslis nie maklik om kalm te bly in sulke situasies nie. Wanneer ons gespanne is of iemand ons sleg behandel, kan dit baie moeilik wees om sagmoedig te bly.

Die Bybel spoor Christene egter aan om sagmoedig te wees. Trouens, God se Woord verbind sagmoedigheid met wysheid. “Wie is wys en verstandig onder julle?” vra Jakobus. “Laat hom uit sy goeie gedrag sy werke toon met ’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort” (Jak. 3:13). Hoe hou sagmoedigheid verband met die wysheid van bo? En wat kan ons help om hierdie goddelike eienskap aan te kweek?

DIT IS WYS OM SAGMOEDIG TE WEES

Sagmoedigheid kan help wanneer ’n situasie gespanne is. “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom.”Spr. 15:1.

As ’n mens kwaad word, kan dit ’n onaangename situasie vererger omdat dit soos olie op die vuur is (Spr. 26:21). In teenstelling hiermee het ’n sagte antwoord dikwels ’n kalmerende uitwerking. Dit kan selfs iemand met ’n vyandige houding laat sag word.

Toñi het dit sien gebeur. Die vrou wat haar beledig het, het begin huil toe Toñi haar ’n sagte antwoord gegee het. Sy het verduidelik dat sy baie persoonlike en gesinsprobleme het. Toñi kon ’n goeie getuienis gee, en ’n Bybelstudie is met die vrou begin—alles omdat Toñi kalm was en die vrede wou bewaar.

Sagmoedigheid kan ons gelukkig maak. “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf.”Matt. 5:5.

Waarom is die saggeaardes gelukkig? Baie mense wat voorheen aggressief was, is nou gelukkig omdat hulle hulle met sagmoedigheid beklee het. Hulle lewe het verbeter en hulle weet dat ’n wonderlike toekoms op hulle wag (Kol. 3:12). Adolfo, ’n kringopsiener in Spanje, vertel hoe sy lewe was voordat hy in die waarheid gekom het.

“My lewe het geen doel gehad nie”, sê Adolfo. “Ek kon glad nie my humeur in toom hou nie. Dit was so erg dat sommige van my vriende my woedeuitbarstings gevrees het. My lewe het uiteindelik ’n keerpunt bereik. Ek is ses keer in ’n bakleiery gesteek en het my amper doodgebloei.”

Maar nou leer Adolfo ander deur middel van sy woorde en sy voorbeeld om sagmoedig te wees. Baie voel aangetrokke tot hom weens sy liefdevolle en aangename persoonlikheid. Adolfo sê dat hy baie bly is oor die veranderinge wat hy kon aanbring. En hy is baie dankbaar teenoor Jehovah omdat hy hom gehelp het om sagmoedigheid aan te kweek.

Sagmoedigheid maak Jehovah se hart bly. “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.”Spr. 27:11.

Jehovah word in werklikheid deur sy aartsvyand, die Duiwel, uitgetart. God het alle rede om woedend te wees oor hierdie moedswillige beledigings, en tog sê die Bybel dat Jehovah “nie gou toornig” word nie (Eks. 34:6). Wanneer ons God probeer navolg deur nie gou kwaad te word nie en sagmoedig te wees, tree ons wys op en maak ons Jehovah se hart baie bly.—Ef. 5:1.

Ons lewe vandag in ’n vyandige wêreld. Ons kom dalk mense teë wat “aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, . . . kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig” is (2 Tim. 3:2, 3). Maar dit moenie keer dat ’n Christen sagmoedigheid aankweek nie. God se Woord herinner ons daaraan dat “die wysheid van bo . . . vredeliewend, redelik” is (Jak. 3:17). As ons vredeliewend en redelik is, toon dit dat ons goddelike wysheid verkry het. Hierdie wysheid sal ons help om sagmoedig op te tree wanneer ander ons kwaad maak. Dit sal ons ook help om nog nader te kom aan die Bron van oneindige wysheid, Jehovah.