Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | GOD SE GROOTSTE GESKENK—SAL JY DIT AANVAAR?

God se grootste geskenk—Waarom is dit so kosbaar?

God se grootste geskenk—Waarom is dit so kosbaar?

Wat maak ’n geskenk vir jou werklik kosbaar? Vier faktore is waarskynlik hierby betrokke: (1) wie het die geskenk gegee, (2) waarom is dit gegee, (3) wat is opgeoffer om die geskenk moontlik te maak en (4) of die geskenk iets is wat jy regtig nodig gehad het. As ons oor hierdie dinge nadink, kan dit ons help om dieper waardering te hê vir die losprys—God se grootste geskenk.

WIE HET DIT GEGEE?

Party geskenke is kosbaar omdat ’n belangrike persoon of iemand vir wie ons groot respek het, dit vir ons gegee het. Maar ander geskenke, al is dit nie baie duur nie, is vir ons kosbaar omdat ’n geliefde familielid of ’n goeie vriend dit vir ons gegee het. Dit was die geval met Russell se geskenk aan Jordan, wat in die vorige artikel genoem is. Hoe is dit van toepassing op die geskenk van die losprys?

Eerstens, die Bybel sê dat “God . . . sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur [het] sodat ons deur hom die lewe kan verkry” (1 Johannes 4:9). Hierdie feit maak dié geskenk werklik kosbaar. Niemand het groter gesag as God nie. ’n Hebreeuse psalmis het die volgende oor God geskryf: “U, wie se naam Jehovah is, U alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde” (Psalm 83:18). Ons kon nie ’n geskenk van ’n hoër bron af gekry het nie.

Tweedens, God is “ons Vader” (Jesaja 63:16). Hoe so? Hy het ons die lewe gegee. En hy sorg lojaal vir ons soos ’n toegewyde pa vir sy kinders sorg. God het party wat deel van sy eertydse volk was, Efraim genoem en hy het gevra: “Is Efraim vir my ’n dierbare seun of ’n lieflingskind? . . . My ingewande [het] onstuimig geraak oor hom. Ek sal my beslis oor hom ontferm” (Jeremia 31:20). God voel dieselfde oor sy aanbidders van vandag. Hy is nie net ons almagtige Skepper nie, maar ook ons lojale Vader en Vriend. Maak dit nie enige geskenk wat van hom af kom baie kosbaar nie?

WAAROM IS DIT GEGEE?

Party geskenke is kosbaar omdat dit nie uit plig gegee is nie, maar uit opregte liefde. Iemand wat iets op ’n onselfsugtige wyse gee, verwag nie iets in ruil vir sy goedhartigheid nie.

God het sy Seun vir ons opgeoffer omdat hy vir ons lief is. “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur”, sê die Bybel. Waarom? “Sodat ons deur hom die lewe kan verkry” (1 Johannes 4:9). Was God verplig om dit te doen? Glad nie! “Die losprys wat deur Christus Jesus betaal is”, is ’n bewys van God se “onverdiende goedhartigheid”.Romeine 3:24.

Waarom is God se geskenk ’n daad van “onverdiende goedhartigheid”? Die Bybel verduidelik: “Hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). Onselfsugtige liefde het God beweeg om swak, hulpelose, sondige mense te help. Ons het hierdie liefde nie verdien nie en ons kan hom nooit terugbetaal nie. Sy geskenk is die grootste bewys van liefde in die geskiedenis.

WATTER OPOFFERING IS GEMAAK?

Party geskenke is kosbaar omdat die persoon wat dit gegee het, ’n groot opoffering moes maak om dit vir jou te gee. Wanneer iemand bereid is om iets vir ons te gee wat vir hom baie waardevol is, is die geskenk vir ons baie kosbaar omdat hy soveel opgeoffer het.

God het “sy enigverwekte Seun gegee” (Johannes 3:16). Daar was niemand wat vir hom dierbaarder was wat hy vir ons kon opoffer nie. Gedurende die eeue dat God die heelal geskep het, het Jesus saam met hom gewerk, en Jesus het “die een geword vir wie hy . . . besonder lief was” (Spreuke 8:30). Jesus is God se geliefde Seun, of “die Seun van sy liefde”, en “die beeld van die onsigbare God” (Kolossense 1:13-15). Dit is die sterkste band wat daar al ooit tussen twee intelligente wesens was.

Maar God het “selfs sy eie Seun nie gespaar . . . nie” (Romeine 8:32). Jehovah het sy heel beste vir ons gegee. Geen ander geskenk het hom duurder te staan gekom nie.

IETS WAT ONS DRINGEND NODIG HET

Party geskenke is kosbaar omdat dit iets is wat jy regtig, selfs dringend, nodig het. Sê nou iemand betaal uit vrye wil vir lewensreddende mediese behandeling wat jy nie kan bekostig nie. Sou jy nie baie dankbaar teenoor hierdie persoon wees nie? Sou daardie geskenk nie vir jou van onskatbare waarde wees nie?

“Net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word” (1 Korintiërs 15:22). As nakomelinge van Adam “sterf” ons almal en kan ons nie die angel van siekte en die dood vryspring nie. Ons kan ook nie onsself met God versoen en vry van skuld voor hom staan nie. En as blote mense kan ons nie onsself of enigiemand anders “lewend” maak nie. Die Bybel sê: “Nie een van hulle kan ooit selfs ’n broer loskoop of aan God ’n losprys vir hom gee nie . . . Dit [ontbreek] tot onbepaalde tyd” (Psalm 49:7, 8). Ons het hulp dringend nodig omdat ons die losprys nie kan bekostig nie. Op ons eie sou ons hulpeloos gewees het.

Uit sy groot liefde het Jehovah gewillig vir die lewensreddende “behandeling” betaal wat ons nodig het sodat almal deur Jesus “lewend gemaak [sal] word”. Hoe maak die losprys dit moontlik? “Die bloed van Jesus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” Ja, as ons geloof in die gegote bloed van Jesus toon, kan ons sondes vergewe word en kan ons die ewige lewe verkry (1 Johannes 1:7; 5:13). En wat sal die losprys beteken vir ons geliefdes wat gesterf het? “Aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dooies ook deur ’n mens [Jesus].”—1 Korintiërs 15:21. *

Geen geskenk het al van ’n hoër bron gekom of is al weens groter liefde gegee as die offerande van Jesus nie. Niemand het al ooit soveel vir ons opgeoffer as wat Jehovah God vir ons opgeoffer het nie. En daar is nie ’n geskenk wat ons nodiger het as die een offerande wat ons van sonde en die dood bevry nie. Ja, daar is geen geskenk wat eens naby die onbeskryflike waarde van die losprys kom nie.

 

^ par. 19 Vir meer inligting oor God se voorneme om die dooies op te wek, sien hoofstuk 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies en beskikbaar by www.pr418.com/af.