Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

3 Hoe om met probleme saam te lewe

3 Hoe om met probleme saam te lewe

Daar is probleme wat nie nou vermy of opgelos kan word nie. Byvoorbeeld, as jy ’n geliefde deur die dood verloor het of as jy chronies siek is, het jy dalk geen keuse as om met die pyn te probeer saamlewe nie. Kan die Bybel ons help wanneer ons deur sulke moeilike tye gaan?

OM CHRONIES SIEK TE WEES

Rose sê: “Ek het ’n oorerflike siekte wat veroorsaak dat ek die heeltyd verskriklike pyn het. Ek geniet nie meer die lewe nie.” Een van die dinge waaroor sy haar die meeste bekommer het, was dat sy dit soms nie kon regkry om op haar studie van die Bybel en haar aanbidding te konsentreer nie. Maar Jesus se woorde in Matteus 19:26 het haar baie gehelp: “By God is alles moontlik.” Rose het besef dat daar meer as een manier is waarop sy kon studeer. Omdat haar pyn dit partykeer vir haar amper onmoontlik gemaak het om te lees, het sy begin om na opnames van die Bybel en Bybelpublikasies te luister. * Sy sê: “Ek weet nie wat ek sonder hierdie opnames sou doen nie. Dit het my gehelp om my verhouding met God sterk te hou.”

Wanneer Rose hartseer is oor die dinge wat sy nie meer kan doen nie, vertroos die woorde in 2 Korintiërs 8:12 haar: “As die bereidheid eerste daar is, is dit veral aanneemlik volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie.” Hierdie woorde herinner Rose dat God gelukkig is met wat sy doen omdat sy haar beste gee al is sy beperk.

OM DEUR GROOT HARTSEER TE GAAN

Delphine, wat vroeër genoem is, onthou: “Nadat my 18-jarige dogter gesterf het, was my hart so seer dat ek gedink het dat ek nie meer met my lewe sou kon aangaan nie. Niks sou meer dieselfde wees nie.” Maar sy is baie vertroos deur die woorde in Psalm 94:19, waar die psalmis vir God sê: “Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het u vertroostinge my siel begin streel.” Sy sê: “Ek het vir Jehovah gebid om my te help om dinge te kry wat ek kon doen sodat ek nie meer so hartseer sou wees nie.”

Sy het haar besig gehou deur betekenisvolle werk as ’n vrywilliger te doen. As gevolg van hierdie werk het sy haarself later met ’n kind se vetkryt vergelyk: jy kan selfs met een wat gebreek is, inkleur. Hoewel sy gevoel het dat sy ook gebreek is, het sy besef dat sy ander mense nog altyd kan help. Sy sê: “Ek het begin agterkom dat wanneer ek mense vertroos deur die Bybel met hulle te studeer, dit eintlik Jehovah se manier was om my te vertroos.” Sy het ’n lysie gemaak van mense in die Bybel wat ook deur groot hartseer gegaan het en besef dat hulle almal mense was wat op gebed staatgemaak het. Sy het ook agtergekom dat jy net met jou probleme kan saamlewe as jy die Bybel lees.

Delphine het nog iets geleer uit haar studie van die Bybel: fokus op die toekoms, nie die verlede nie. Die hoop in Handelinge 24:15 het haar vertroos: “Daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees.” Hoe seker is sy dat Jehovah haar dogter weer sal laat lewe? Delphine antwoord: “Ek sien my dogter in die toekoms. Ons volgende kuiertjie is klaar gereël, asof dit reeds op my Vader se kalender gemerk is. Ek sien ons twee saam in ons tuin net so duidelik as wat ek haar gesien het en haar liefgekry het op die dag toe sy gebore is.”

^ par. 4 Daar is baie van hierdie opnames op die webwerf jw.org beskikbaar.

Die Bybel kan jou help om selfs in die donkerste tye beter te voel