Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wysheid vir gesinsgeluk

Wysheid vir gesinsgeluk

Die huwelik en kinders is kosbare geskenke van ons Skepper. Hy wil hê dat ons ’n gelukkige gesinslewe moet hê. So deur middel van ’n ou heilige boek het hy vir ons raad gegee wat ons gesinslewe beter en gelukkiger kan maak. Kyk na die volgende wyse raad.

Mans, wees lief vir julle vrouens

“Mans [moet] hulle vrouens liefhê soos hulle eie liggame. ’n Man wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen man het al ooit sy eie liggaam gehaat nie, maar hy voed dit en versorg dit.” – EFESIËRS 5:28, 29.

Die man is die hoof van die gesin (Efesiërs 5:23). Maar ’n goeie man is nie ongevoelig of veeleisend nie. Hy waardeer sy vrou en maak seker dat daar goed voorsien word in haar materiële en emosionele behoeftes. Hy probeer ook hard om haar gelukkig te maak, en hy dring nie altyd daarop aan om te doen wat hy wil doen nie (Filippense 2:4). Hy kommunikeer openlik en luister wanneer sy praat. Hy word nie “bitter kwaad” vir haar of maak haar fisies of emosioneel seer nie. – Kolossense 3:19.

Vrouens, respekteer julle mans

“Die vrou moet diep respek vir haar man hê.” – EFESIËRS 5:33.

Wanneer ’n vrou haar man respekteer en sy besluite ondersteun, bevorder sy vrede in die gesin. As hy ’n fout maak, verkleineer sy hom nie, maar sy bly sagmoedig en respekvol (1 Petrus 3:4). Wanneer sy met hom oor ’n probleem moet praat, kies sy ’n goeie tyd om dit te doen en praat sy respekvol met hom. – Prediker 3:7.

Wees getrou aan jou huweliksmaat

“’n Man . . . sal sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees word.” – GENESIS 2:24.

Wanneer ’n man en ’n vrou trou, vorm hulle ’n sterk gesinsband. So ’n getroude paartjie moet hard daaraan werk om hulle huwelik sterk te hou deur gereeld uit die hart met mekaar te praat en liefdevolle dinge vir mekaar te doen. Hulle moet ook getrou aan mekaar bly deur nie seks buite die huwelik te hê nie. Ontrouheid aan ’n huweliksmaat kan groot pyn veroorsaak. Dit vernietig vertroue en kan die gesin opbreek. – Hebreërs 13:4.

Ouers, lei julle kinders op

“Lei ’n kind op in die weg wat hy moet volg. Selfs as hy oud word, sal hy dit nie verlaat nie.” – SPREUKE 22:6.

God het ouers die verantwoordelikheid gegee om hulle kinders op te lei. Dit sluit in dat ouers hulle kinders leer hoe om hulleself te gedra en deur ’n goeie voorbeeld vir hulle te stel (Deuteronomium 6:6, 7). ’n Wyse ouer oorreageer nie wanneer sy kind ongehoorsaam is nie. Hy of sy is “gou . . . om te hoor, stadig om te praat, stadig om kwaad te word” (Jakobus 1:19). As die ouer besluit dat dissipline nodig is, dan sal hy of sy dit uit liefde doen en nie omdat hy of sy kwaad is nie.   

Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers

“Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers . . . ‘Eer jou pa en jou ma.’” – EFESIËRS 6:1, 2.

Kinders moet gehoorsaam wees aan hulle ouers en diep respek vir hulle hê. Wanneer kinders hulle ouers eer, maak dit almal gelukkig en dra dit by tot vrede en eenheid in die gesin. Volwasse kinders eer hulle ouers deur seker te maak dat hulle alles het wat hulle nodig het. Dit sluit dalk in dat die kinders die ouers help om hulle huis goed in stand te hou of om hulle die nodige finansiële bystand te gee. – 1 Timoteus 5:3, 4.