Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE PAD VAN GELUK

Liefde

Liefde

ALMAL WIL LIEFDE HÊ. Geen huwelik, familie of vriendskap kan sonder liefde suksesvol wees nie. Daarom is dit veilig om te sê dat ons liefde nodig het om ’n gesonde verstand te hê en gelukkig te wees. Maar wat beteken die woord “liefde”?

Die liefde waarna ons hier verwys, is nie romantiese liefde nie, alhoewel dit ook belangrik is. Ons verwys eerder na die belangrikste vorm van liefde. Die soort liefde wat maak dat ’n mens ander eerste stel. Hierdie liefde word deur die Bybel se standaarde gelei en is nie koud en gevoelloos nie.

’n Mooi beskrywing van liefde is: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, . . . hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie.” — 1 Korintiërs 13:4-8.

Hierdie liefde “faal nooit nie”, met ander woorde, dit sal vir altyd bestaan. Dit kan selfs sterker word. En omdat hierdie liefde jou help om geduldig en vriendelik te wees en ander te vergewe, is dit “’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Al maak ons almal foute, sal ’n mens veilig en gelukkig voel as jou verhoudings deur hierdie band van liefde vasgebind is. Kom ons kyk byvoorbeeld na die huwelik.

SAAMGEBIND DEUR “’N VOLMAAKTE BAND VAN EENHEID”

Jesus Christus het ons belangrike waarhede oor die huwelik geleer. Hy het byvoorbeeld gesê: “‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’ . . . Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:5, 6). Ons leer ten minste twee belangrike waarhede hieruit:

“DIE TWEE SAL EEN VLEES WEES.” Die huwelik is die intiemste verhouding wat twee mense kan hê, en liefde sal hulle help om getrou aan mekaar te bly. As ’n man of vrou egbreuk pleeg, word hulle dan “een liggaam” met iemand wat nie hulle huweliksmaat is nie (1 Korintiërs 6:16; Hebreërs 13:4). Hierdie ontrouheid kan hulle vertroue in mekaar en dalk hulle huwelik vernietig. As kinders betrokke is, kan die skade selfs erger wees. Die kinders voel dalk onseker, kwaad of dat niemand vir hulle lief is nie.

“WAT GOD . . . SAAMGEVOEG HET.” Die huwelik is ook spesiaal omdat dit van God af kom. As ’n man en vrou dit besef, sal hulle hard werk om hulle huwelik sterker te maak. Hulle soek nie na maniere om uit die huwelik te kom wanneer dinge moeilik word nie. Hulle liefde is sterk en dit verdwyn nie vinnig nie. Hierdie liefde “verduur alles”. Dit help ons om ons probleme op te los sodat ons geluk en vrede in ons huwelik kan hê.

As ouers op hierdie manier vir mekaar lief is, sal die kinders ook daarby baat vind. ’n Jong vrou met die naam Jessica het gesê: “My ma en pa is regtig lief vir mekaar en respekteer mekaar. As ek sien hoe my ma my pa respekteer, veral voor ons, wil ek net soos sy wees.”

Liefde is God se belangrikste eienskap. Die Bybel sê selfs: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Daarom verbaas dit ons nie dat Jehovah ook “die gelukkige God” genoem word nie (1 Timoteus 1:11). Ons sal ook gelukkig wees as ons hard werk om ons Skepper se eienskappe na te volg — veral sy liefde. Efesiërs 5:1, 2 sê: “Word dan navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel.”