Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om ’n meer toegewyde huweliksmaat te wees

Hoe om ’n meer toegewyde huweliksmaat te wees

DIE UITDAGING

Op jou troudag het jy ’n gelofte afgelê. Daardie plegtige belofte was ’n lewenslange verbintenis—dit was ’n vaste voorneme om by jou huweliksmaat te bly en die probleme wat julle sou ondervind, op te los.

Maar deur die jare heen het konflik in julle huwelik geleidelik julle verhouding ondermyn. Voel jy nog steeds so toegewyd aan jou huweliksmaat?

WAT JY MOET WEET

Toegewydheid is soos ’n anker wat julle huwelik stabiliteit kan gee

Toegewydheid in die huwelik is die oplossing, nie die probleem nie. Vandag is baie mense skepties oor toegewydheid in die huwelik. Party sal hierdie toegewydheid vergelyk met ’n swaar gewig wat jou aan ’n slegte besluit vasketting. Dink eerder daaraan as ’n anker wat julle huwelik stabiliteit kan gee. ’n Getroude vrou met die naam Megan sê: “Wanneer ons stry, is een van die beste dinge omtrent toegewydheid in die huwelik dat ’n mens weet dat nie jy of jou maat die huwelik sal beëindig nie.” * Die vertroue dat julle huwelik veilig is, al is daar ernstige probleme, kan julle help om julle probleme op te los.—Sien die venster “ Toegewydheid en lojaliteit.

Die slotsom: As julle probleme in julle huwelik ondervind, is dit nou die tyd om julle toegewydheid aan mekaar te versterk, nie die tyd om dit te ondermyn nie. Hoe kan jy dit doen?

WAT JY KAN DOEN

Ondersoek jou beskouing. “Lewenslank getroud.” Laat hierdie woorde jou vasgekeer voel of laat dit jou veilig voel? Beskou jy egskeiding altyd as ’n moontlike uitweg wanneer probleme ontstaan? As jy jou toegewydheid wil versterk, is dit noodsaaklik dat jy die huwelik as ’n permanente verbintenis beskou.—Bybelbeginsel: Matteus 19:6.

Ondersoek jou verlede. Jou beskouing van toegewydheid word dalk beïnvloed deur wat jou ouers gedoen het. “My ouers het geskei toe ek nog jonk was”, sê ’n getroude vrou met die naam Lea, “en ek is bekommerd dat hulle ondervinding my dalk ’n negatiewe beskouing van toegewydheid gegee het.” Wees verseker dat jy dinge anders kan doen in jou huwelik. Jy hoef nie jou ouers se foute te herhaal nie!—Bybelbeginsel: Galasiërs 6:4, 5

Ondersoek jou spraak. Wanneer jy en jou maat stry, moet jy nie dinge sê waaroor jy later spyt sal wees, soos “Ek gaan jou los!” of “Ek gaan iemand vind wat my waardeer!” nie. As jy sulke dinge sê, ondermyn jy toegewydheid. In plaas van die probleem aan te pak, raak julle eerder verwikkel in ’n woordestryd. Moenie kwetsende woorde gebruik nie, sê eerder iets soos: “Dit is duidelik dat ons al twee ontsteld is. Hoe kan ons saam werk om hierdie probleem op te los?”—Bybelbeginsel: Spreuke 12:18.

Stuur ’n duidelike boodskap uit dat jy aan jou maat toegewyd is. Hou ’n foto van jou huweliksmaat op jou lessenaar by die werk. Wees positief wanneer jy met ander oor jou huwelik praat. Stel jou dit ten doel om jou huweliksmaat elke dag te bel as jy vir ’n tyd lank weggaan. Praat dikwels van “ons” en gebruik frases soos “ek en my vrou” of “ek en my man”. As jy dit doen, sal jy dit vir ander duidelik maak—en jouself herinner—dat jy aan jou huweliksmaat toegewyd is.

Vind goeie rolmodelle. Kyk na die voorbeeld van volwasse egpare wat huweliksprobleme met welslae oorkom het. Vra hulle: “Wat beteken toegewydheid vir julle, en hoe het dit julle in julle huwelik gehelp?” Die Bybel sê: “Deur yster word yster geslyp. So slyp een man die aangesig van ’n ander” (Spreuke 27:17). Pas gerus hierdie beginsel toe sodat jy kan baat vind by die raad van diegene wat ’n sukses van hulle huwelik gemaak het.

^ par. 7 Die Bybel laat ’n getroude persoon toe om ’n huwelik te beëindig as ’n huweliksmaat hom aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het. Sien die artikel “Die Bybel se beskouing—Egbreuk” in hierdie nommer van die Ontwaak!