Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae wat dikwels gevra word

Vrae wat dikwels gevra word

Waarom praat party mense teen Jehovah se Getuies?

Baie mense is eenvoudig verkeerd ingelig. Ander hou dalk nie van die Getuies se evangelisasiewerk nie. Maar die feit is dat die Getuies hierdie werk uit liefde vir hulle naaste doen, in die wete dat ‘elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, gered sal word’.—Romeine 10:13.

Is Jehovah se Getuies Protestante, Fundamentaliste of ’n sekte?

Jehovah se Getuies is Christene, maar hulle is nie Protestante nie om dieselfde rede dat hulle nie Katolieke is nie—hulle besef dat sekere leringe van hierdie godsdienste onskriftuurlik is. Byvoorbeeld, die Bybel leer nie dat God—die verpersoonliking van liefde—mense vir ewig in ’n brandende hel folter nie. Dit leer ook nie dat mense ’n onsterflike siel het of dat Christene hulle met die politiek moet bemoei nie.—Esegiël 18:4; Johannes 15:19; 17:14; Romeine 6:23. *

“Fundamentalisme is ’n breë beweging binne Protestantisme in die Verenigde State”, sê The World Book Encyclopedia. Party Fundamentalistiese organisasies “het maatskaplike en politieke standpunte ingeneem wat gegrond is op ’n letterlike gebruik van Bybelverse”. Hierdie omskrywing pas nie by Jehovah se Getuies nie. Soos genoem is, raak hulle nie betrokke by die politiek nie en dwing hulle nie hulle beskouing op ander af deur die politiek of enigiets anders te gebruik nie. Hulle praat eerder met mense, gewoonlik persoonlik, en gebruik rede en oortuigende bewyse, in navolging van die vroeë Christene.—Handelinge 19:8.

’n Sekte is ’n afwykende groep binne ’n godsdiensgemeenskap of een wat wegbreek om ’n nuwe godsdiens te vorm. Jehovah se Getuies het nie van enige kerk weggebreek nie. Hulle is nie ’n sekte nie.

Wat gebeur by die Getuies se vergaderinge?

Hulle vergaderinge, wat oop is vir die publiek, is hoofsaaklik Bybelstudies, wat dikwels gehoordeelname insluit. Een van hulle weeklikse vergaderinge, die Teokratiese Bedieningskool, help gemeentelede om hulle onderrig-, lees- en navorsingsvermoë te ontwikkel. Nog ’n vergadering is ’n Bybeltoespraak van 30 minute oor ’n onderwerp wat diegene wat nie Getuies is nie, moontlik baie interessant sal vind. Dit word gewoonlik gevolg deur ’n studie van die Bybel met behulp van die tydskrif Die Wagtoring. Vergaderinge  begin en eindig met lied en gebed; daar word nie versoeke om geld gedoen nie, en geen kollektebord word omgestuur nie.—2 Korintiërs 8:12.

Hoe word Jehovah se Getuies gefinansier?

Hulle werk word deur vrywillige bydraes gefinansier. Die Getuies vra nie geld vir doopplegtighede, troues, begrafnisse of enige ander dienste nie. Hulle vra ook nie tiendes nie. Enigiemand wat ’n donasie wil maak, kan dit doen deur geld in ’n bydraebussie te gooi wat op ’n onopsigtelike plek in die Koninkryksaal geplaas is. Jehovah se Getuies druk self die Bybellektuur wat hulle gebruik, wat koste laag hou, en hulle beskeie Koninkryksale en takfasiliteite word meestal deur vrywilligers gebou.

Aanvaar Jehovah se Getuies mediese behandeling?

Ja. Trouens, hulle probeer die bes moontlike sorg vir hulle en hulle geliefdes kry. Wat meer is, baie Getuies werk in die mediese veld as verpleegsters, paramedici, dokters en chirurge. Jehovah se Getuies weier egter om bloedoortappings te aanvaar. ‘Julle moet julle onthou van bloed’, sê die Bybel (Handelinge 15:28, 29). Interessant genoeg, ’n toenemende aantal dokters beskou bloedlose mediese sorg as die “goue standaard”, want daardeur word al die gesondheidsrisiko’s vermy wat met die gebruik van bloedprodukte verband hou.

^ par. 5 Die Bybelse beskouing van hierdie en talle ander belangrike onderwerpe kan gevind word in die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.