Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mans wat angstig is – Hoe die Bybel kan help

Mans wat angstig is – Hoe die Bybel kan help

 Wanneer jy aan ’n persoon dink wat angstig a is, dink jy dalk aan iemand wat so bang is dat hy niks kan doen nie, iemand wat skaars kan opstaan in die oggend of iemand wat die heeltyd oor sy bekommernisse praat.

 Party mense tree dalk wel so op wanneer hulle angstig is. Maar navorsers het gevind dat ander mense – veral mans – geneig is om anders op te tree. Een verslag sê dat mans “meer geneig is om alkohol en dwelms te gebruik om angstigheid te hanteer, so wat dalk soos ’n drankprobleem lyk, kan eintlik ’n teken wees dat die persoon baie angstig is. En mans wat angstig is, is ook baie keer kwaad en geïrriteerd.”

 Alle mans reageer natuurlik nie op dieselfde manier nie. Maar ongeag wat die persoon se reaksie is, angstigheid is ’n probleem wat al hoe erger word in hierdie “swaar tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Kan die Bybel jou help as jy angstig is?

Praktiese Bybelraad oor angstigheid

 Die Bybel bevat raad wat betroubaar is en wat ons kan help wanneer ons angstig is. Kyk na drie voorbeelde.

  1.  1. “Moet . . . nooit bekommerd wees oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie bekommernisse hê. Elke dag het genoeg van sy eie probleme.” – Matteus 6:34.

     Betekenis: Dit sal goed wees as ons nie te bekommerd is oor wat dalk (of dalk nie) in die toekoms kan gebeur nie. Dikwels gebeur dinge nie soos ons dink dit sal nie. In party gevalle draai dinge onverwags heel goed uit.

     Probeer die volgende: Dink aan tye in die verlede toe jy seker was dat iets slegs sou gebeur, maar toe het dit nie. Kyk dan na die dinge waaroor jy nou bekommerd is en probeer so realisties as moontlik wees oor of dit regtig ’n groot probleem sal word.

  2.  2. “Soos yster deur yster geslyp word, so vorm vriende mekaar.” – Spreuke 27:17.

     Betekenis: Ander mense kan ons help wanneer ons angstig is – as ons hulle toelaat om dit te doen. Hulle kan dalk vir ons ’n paar praktiese voorstelle gee wat hulle uit hulle eie ondervinding gekry het. Hulle kan ons ten minste help om die situasie uit ’n ander perspektief te sien.

     Probeer die volgende: Dink aan iemand wat dalk goeie raad het, soos ’n vriend wat al deur ’n soortgelyke probleem gegaan het. Vra hom wat vir hom gewerk het.

  3.  3. “Gee al julle bekommernisse oor aan God, want hy gee om vir julle.” – 1 Petrus 5:7.

     Betekenis: God gee baie om vir dié wat swaarkry. Hy nooi ons om tot hom te bid oor enigiets waaroor ons bekommerd is.

     Probeer die volgende: Maak ’n lys van die dinge wat jou angstig maak. Bid dan tot God oor hierdie bekommernisse, verduidelik elke probleem en vra hom vir sy hulp om dit te hanteer.

Wanneer angstigheid nie meer daar sal wees nie

 Die Bybel gee meer as net raad oor hoe om angstigheid te hanteer. Dit belowe ’n tyd in die nabye toekoms wanneer die bekommernisse wat ons vandag het, vir ewig sal verdwyn. Hoe sal dit gebeur?

 God se Koninkryk sal die dinge verwyder wat angstigheid veroorsaak (Openbaring 21:4). Om die waarheid te sê, wanneer hierdie Koninkryk regeer, sal ons nie eers meer terugdink aan die angstighede en bekommernisse wat ons pyn veroorsaak het nie. – Jesaja 65:17.

 Dit is die toekoms wat “die God wat vrede gee” vir jou wil hê (Romeine 16:20). Hy verseker ons: “Ek weet goed wat ek vir julle in gedagte het . . . Ek wil julle vrede gee, nie rampspoed nie. Ek wil julle ’n toekoms en ’n hoop gee.” – Jeremia 29:11.

a In hierdie artikel verwys die woord “angstigheid” nie na ’n ernstige mediese toestand nie, maar na die stres of bekommernisse wat ’n mens daagliks het en wat ’n persoon kan oorweldig. Mense wat ’n mediese toestand het, moet dalk professionele hulp kry. – Lukas 5:31.