Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

INDONESIË

’n Vreeslose pionier

André Elias

’n Vreeslose pionier
  • GEBORE 1915

  • GEDOOP 1940

  • PROFIEL ’n Moedige pionier wat standvastig gebly het ondanks herhaaldelike ondervragings en dreigemente.

GEDURENDE die Tweede Wêreldoorlog het broer Elias en sy vrou, Josephine, verskyn voor beamptes van die gevreesde Kempeitai, die Japannese militêre polisie, by hulle hoofkwartier in Sukabumi, Wes-Java. André was eerste aan die beurt, en hy is met vrae gebombardeer. “Wie is Jehovah se Getuies? Staan julle die Japannese regering teë? Is jy ’n spioen?”

“Ons is knegte van God die Almagtige en ons het niks verkeerds gedoen nie”, het André geantwoord. Die bevelvoerende offisier het ’n samoerai-swaard van die muur afgeruk en dit in die lug gehou.

“En as ek jou nou doodmaak?” het hy woedend gevra. André het sy kop op die lessenaar gesit en ’n stille gebed gedoen. Ná ’n lang stilte het die offisier uitgebars van die lag. “Jy is dapper!” het hy gesê. Daarna het hy vir Josephine ingeroep. Toe haar verklaring met André s’n ooreengestem het, het die offisier gesê: “Julle is nie spioene nie. Maak dat julle wegkom!”

’n Hele paar maande later is André deur “valse broers” verraai en in die tronk gegooi (2 Kor. 11:26). Hy het maande lank aan die lewe gebly deur afvalkos te eet wat hy in die tronksel se drein gevind het. Maar die tronkbewaarders kon hom nie kry om sy onkreukbaarheid prys te gee nie. Toe Josephine hom kon besoek, het hy deur die tronktralies vir haar gefluister: “Moenie bekommerd wees nie. Of hulle my doodmaak of vrylaat, ek sal aan Jehovah getrou bly. Hulle kan my hier uitdra as ’n lyk, maar nie as ’n verraaier nie.”

Ná ses maande in die tronk het André hom voor Djakarta se Hooggeregshof verdedig en is hy vrygelaat.

Sowat 30 jaar later, toe die Indonesiese regering weer ’n verbod op Jehovah se Getuies geplaas het, het die distriksprokureur in Manado, Noord-Sulawesi, André na sy kantoor ontbied. “Weet jy dat daar ’n verbod op Jehovah se Getuies is?” het hy gevra.

“Ja”, het André geantwoord.

“Is jy nou bereid om van godsdiens te verander?” het die offisier gevra.

André het vorentoe geleun en dramaties op sy bors geslaan. “Jy kan my hart uit my liggaam skeur, maar jy kan my nooit dwing om van godsdiens te verander nie”, het hy met ’n harde stem gesê.

Die distriksprokureur het André laat gaan en het hom van toe af in vrede gelaat.

André is in die jaar 2000 op die ouderdom van 85 oorlede, ná sowat 60 jaar van ywerige pionierdiens.