Spring na inhoud

Links: Duisende het broer Joseph F. Rutherford se woorde gehoor om die Koning en sy Koninkryk te adverteer by die geskiedkundige streekbyeenkoms van nege dae in Cedar Point, Ohio, VSA. Regs: Broer Rutherford gebruik ’n mikrofoon om sy stem harder te maak vir ’n gehoor wat buite is gedurende die streekbyeenkoms

6 OKTOBER 2022
VERENIGDE STATE

Streekbyeenkoms in Cedar Point word 100 jaar gelede gehou

Nuwe uitstalling by museum vestig die aandag op geskiedkundige gebeure

Streekbyeenkoms in Cedar Point word 100 jaar gelede gehou

Eenhonderd jaar gelede op 5-13 September 1922 het een van die belangrikste gebeure in ons hedendaagse geskiedenis plaasgevind. Jehovah se Getuies het ’n streekbyeenkoms van nege dae in Cedar Point, Ohio, VSA, gehou. Afgevaardigdes van regoor die Verenigde State, Kanada en Europa het die streekbyeenkoms bygewoon. Daar was elke dag ongeveer 10 000 mense wat dit bygewoon het, en die toesprake was gelyktydig in soveel as 11 tale gegee.

’n Nuwe uitstalling oor hierdie geskiedkundige byeenkoms en hoe dit die predikingswerk geraak het, is by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies geopen. Op die oomblik is die uitstalling net oop vir die Bethelgesin, en dit sal vir die publiek oop wees sodra daar weer toere gedoen word.

Die hoogtepunt van die Cedar Point-streekbyeenkoms was op 8 September. Op daardie dag het ongeveer 8 000 mense by die ouditorium op die pragtige Erie-meer aangekom. Hulle het na broer Joseph F. Rutherford se toespraak “Die Koninkryk” kom luister.

Nadat broer Rutherford omtrent 90 minute gepraat het, het hy in ’n harde stem die gehoor gevra of hulle glo dat Christus regeer. Die gehoor het sonder om te huiwer uitgeroep: “Ja!” Broer Rutherford het toe gesê: “Julle het die toewysing om almal hiervan te vertel. So, adverteer, adverteer, adverteer.” Net toe hy dit gesê het, het ’n groot doek afgerol met die woorde: “Adverteer die Koning en die Koninkryk.”

Toe dié wat die byeenkoms bygewoon het, hierdie woorde hoor, was hulle ywerig om aan die bediening deel te neem. Baie van die mense in die gehoor het alreeds deelgeneem aan die predikingswerk. Maar broer Rutherford se toespraak het hulle aangespoor om meer in die predikingswerk te doen op ’n stadium toe die huis-tot-huis-werk meer georganiseerd geword het. Suster Ethel Bennecoff, wat toe amper 30 jaar oud was, het verduidelik dat die Bybelstudente ná daardie treffende toespraak “meer ywer en liefde in [hulle] hart as ooit tevore” gehad het. Suster Odessa Tuck, wat 18 jaar oud was in 1922, het gesê: “Ek wou soos Jesaja wees, wat gesê het: ‘Hier is ek! Stuur my!’”

Mense word gedoop by die Cedar Point-streekbyeenkoms vir 1922

Twee dae ná broer Rutherford se toespraak het die Internasionale Bybelstudente-vereniging ’n resolusie aangeneem. ’n Gedeelte van die resolusie het gesê: “As ’n groep Christene wat vasbeslote is om ons Heer en Redder Jesus Christus te gehoorsaam en te volg, is ons daarteen gekant om aan oorlog, opstande, wetteloosheid of enige vorm van geweld deel te neem. En ons is daarteen gekant dat die Woord van God verkeerd voorgestel word om mense te bedrieg en te mislei. Ons begeer opreg vrede.” Hierdie resolusie het dit duidelik gemaak dat die Bybelstudente anders is as ander godsdienste. Hierdie godsdienste het kort tevore die gevegte van die Eerste Wêreldoorlog ondersteun en sou dit ’n paar jaar later weer gedurende die Tweede Wêreldoorlog doen.

Die Wagtoring van 15 Junie 1922 het gesê: “Ons sal alles doen wat ons kan om die algemene streekbyeenkoms vir 1922 die beste een te maak wat nog ooit gehou is. . . . Ons hoop dat dit ’n onvergeetlike geleentheid sal wees in die verstand van die duisende vriende wat dit sal bywoon.”

Hulle het beslis hulle doelwit bereik. Eenhonderd jaar later seën Jehovah nog steeds die werk om die Koning en sy Koninkryk te adverteer. – Matteus 24:14.