Spring na inhoud

Selfopofferend ten spyte van gesondheidsprobleme

Selfopofferend ten spyte van gesondheidsprobleme

 Maria Lúcia, wat in Brasilië bly, ly aan Usher se sindroom. Dit is ’n oorerflike siekte wat veroorsaak dat baie mense doof word en geleidelik hulle sig verloor. Sy was doof gebore en het gebaretaal geleer toe sy ’n kind was. Toe sy omtrent 30 jaar oud was, het sy haar sig begin verloor. Ten spyte van haar uitdagings het Maria Lúcia haarself nie afgesonder nie. Sy is nou meer as 70 jaar oud, en sy het nog steeds ’n gelukkige en betekenisvolle lewe.

 In 1977 het Maria Lúcia met Jehovah se Getuies in kontak gekom. Dit was voordat sy haar sig begin verloor het. Sy sê: “Ek het ’n ou skoolmaat met die naam Adriano raakgeloop, wat onlangs ’n Getuie geword het. Hy het my vertel van God se belofte van ’n toekomstige aardse paradys waar almal volmaakte gesondheid sal geniet. Ek was so beïndruk deur wat hy my vertel het dat ek ’n Bybelstudie aanvaar het. Kort daarna het ek vergaderinge by ’n gemeente in Rio de Janeiro begin bywoon, waar party vergaderinge in gebaretaal vertolk was. Met Jehovah se hulp het ek geestelike vordering gemaak, en ek is in Julie 1978 gedoop.

 Later het Maria Lúcia na ’n gemeente toe getrek waar nie een van die Getuies gebaretaal geken het nie. Aan die begin was dit ’n uitdaging omdat sy nie kon verstaan wat by die vergaderinge gesê word nie. Twee medegelowiges het haar gehelp. Gedurende vergaderinge het hulle by haar gesit en notas gemaak wat verduidelik het wat gesê was. Maria Lúcia sê: “By die huis kon ek die notas oor en oor lees sodat ek die inligting kon verstaan. Later het die twee susters gebaretaal geleer en my tolke geword.”

 Hoe meer Maria Lúcia haar sig verloor het, hoe minder kon sy die gebare sien wat die tolke gebruik het. Daarom het sy tasbare gebaretaal begin gebruik om te kommunikeer. Wat is dit? Sy verduidelik: “Ek sit my hande oor die hande van die persoon wat vir my tolk. Op hierdie manier kan ek die tolk se gebare herken.”

 Maria Lúcia is dankbaar vir die hulp wat haar tolke vir haar gee. Sy sê: “Hulle is ’n kosbare geskenk van Jehovah. Met hulle hulp kan ek die meeste kry uit gemeentelike vergaderinge en byeenkomste.”

 Maria Lúcia bly besig in die bediening. Sy gebruik tasbare gebaretaal om vir die dowes te getuig. Hulle is baie verbaas oor haar pogings om hulle met die goeie nuus te bereik. Gedurende die COVID-19-pandemie het Maria Lúcia baie briewe vir die dowes geskryf met die hulp van haar broer, José Antônio, wat ook doof en blind is. a

 Hoe doen sy dit? Sy sê: “Ek gebruik ’n plat stuk plastiek wat in die vorm van ’n L is. Dit help my om in ’n reguit lyn te skryf en om by die vorm van ’n paragraaf te bly. José Antônio het ’n uitstekende geheue. Hy stel onderwerpe en Bybeltekste voor wat ek dan in my briewe gebruik. Ek probeer om op ’n manier te skryf wat dowe mense sal verstaan. Nie alle dowe mense ken geskrewe taal nie.”

 Alhoewel Maria Lúcia nou al heeltemal blind is, hou sy aan om hard te werk. Karoline, een van haar tolke, sê: “Maria Lúcia doen haar eie huiswerk en hou haar huis skoon en netjies. Sy hou daarvan om kos te maak en om dit met haar vriende te deel.”

 Jefferson, ’n ouerman in Maria Lúcia se gemeente, sê: “Maria Lúcia is baie lief vir Jehovah. En sy is lief vir mense. Sy probeer altyd om ander mense te help. Sy is ’n selfopofferende persoon.” – Filippense 2:4.

a José Antônio het ná Maria Lúcia ’n Getuie geword en is in 2003 gedoop. Soos Maria Lúcia, is hy doof gebore en het hy uiteindelik blind geword.