Spring na inhoud

Ons het besluit om ons lewe te vereenvoudig

Ons het besluit om ons lewe te vereenvoudig

 Madián en Marcela het ’n gemaklike lewe in Medellín, Colombia, geniet. Madián het ’n goeie werk gehad wat hulle gehelp het om in ’n pragtige woonstel te woon. Maar iets het hulle beweeg om weer na hulle prioriteite te kyk as knegte van Jehovah God. Hulle verduidelik: “In 2006 het ons die ‘Hou jou oog eenvoudig’-kringbyeenkoms bygewoon. Baie van die toesprake het beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons ons lewe moet vereenvoudig sodat ons God ten volle kan dien. Aan die einde van die byeenkoms het ons besef dat ons eintlik die teenoorgestelde doen. Ons het die gewoonte gehad om die heeltyd dinge te koop al kon ons dit nie bekostig nie, en daarom het ons baie skuld gehad.”

 Die toesprake by die byeenkoms het Madián en Marcela laat besef dat hulle veranderinge moet maak, en daarom het hulle hulle lewe vereenvoudig. Hulle sê: “Ons het begin deur ons uitgawes te verminder. Ons het na ’n kleiner woonstel getrek, ons kar verkoop en ’n motorfiets gekoop.” Hulle het ook opgehou om na winkelsentrums toe te gaan sodat hulle nie in die versoeking sou kom om dinge te koop nie. Hulle het meer tyd daaraan spandeer om met hulle bure oor die Bybel te praat. En hulle het met vriende geassosieer wat Jehovah God ywerig as spesiale pioniers gedien het. a

 Kort voor lank het Madián en Marcela besluit om hulle bediening uit te brei deur te trek na ’n klein plattelandse gemeente waar daar hulp nodig was. Madián het sy werk bedank sodat hulle kon trek. Sy bestuurder het gedink dat hy mal is. Madián het toe met haar geredeneer en gevra: “Jy verdien baie geld, maar is jy gelukkig?” Sy het erken dat sy nie gelukkig is nie omdat sy baie probleme het wat sy nie kon oplos nie. Hy het toe vir haar gesê: “So dit gaan nie oor hoeveel geld jy maak nie. Dit gaan oor wat jou regtig gelukkig maak. Dit maak vir my en my vrou gelukkig om mense oor God te leer, en ons wil selfs nog gelukkiger wees deur meer tyd aan hierdie werk te spandeer.”

 Madián en Marcela is regtig tevrede en gelukkig omdat hulle geestelike doelwitte nastreef. Vir die afgelope 13 jaar het hulle gedien waar daar hulp nodig is in gemeentes in Noordwes-Colombia. En hulle het nou die voorreg om as spesiale pioniers te dien.

a Spesiale pioniers word aangestel deur die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies om die goeie nuus voltyds te verkondig in spesifieke gebiede. Hulle kry ’n klein bedrag geld om in hulle basiese behoeftes te voorsien.