Spring na inhoud

Hulle het hulle gewillig aangebied – In Albanië en Kosovo

Hulle het hulle gewillig aangebied – In Albanië en Kosovo

 “Ek het nooit gedink dat ek so baie vir Jehovah sou kon doen nie.” Dit is hoe Gwen, wat oorspronklik van Engeland af kom, haar gevoelens beskryf toe sy gaan dien waar daar hulp nodig is in Albanië. a

 Gwen is een van baie Getuies wat na Albanië toe getrek het om te help om “die kosbare dinge van al die nasies” bymekaar te maak (Haggai 2:7). Wat motiveer hierdie verkondigers van die goeie nuus? Watter veranderinge het hulle gemaak sodat hulle kon trek? En watter vreugdevolle dinge het hulle gehelp om te volhard ten spyte van die uitdagings?

Verskillende omstandighede, een doel

 Alle verkondigers wat in Albanië gaan help, doen dit vir dieselfde rede: Hulle is lief vir Jehovah, en hulle wil ander help om hom te leer ken.

 Voordat hulle getrek het, het hulle stappe geneem om hulle bediening uit te brei. Dit het hulle gehelp met die uitdagings om in ’n ander land te dien. Gwen sê: “Ek het eers by ’n Albanese groep in my tuisdorp aangesluit. Toe het ek Albanië besoek vir ’n streekbyeenkoms. Later het ek vir ’n kort rukkie na Albanië toe teruggegaan om die taal beter te leer ken.”

Gwen

 Toe Manuela 23 jaar oud was, het sy na ’n ander streek in haar geboorteland, Italië, getrek om ’n klein gemeente te help. Sy sê: “Ek het vier jaar lank daar gedien. Toe het ek gehoor dat daar baie is om te doen in Albanië. So ek het my dinge so gereël dat ek ’n paar maande daar kon pionier.”

Manuela (In die middel)

 Federica was net sewe jaar oud toe sy ’n verslag oor Albanië gehoor het by ’n streekbyeenkoms. Sy sê: “Die broer wat die verslag gegee het, het gesê dat die verkondigers in Albanië baie Bybelstudies begin en dat die belangstellendes na die vergaderinge toe kom. Ek het my ouers vertel dat ek graag na Albanië toe wil gaan. My begeerte het hulle verbaas, maar my pa het gesê: ‘Bid daaroor, en as dit Jehovah se wil is, sal hy luister.’ ’n Paar maande later was ons genooi om as ’n gesin in Albanië te dien!” Baie jare is al verby, en Federica is nou met Orges getroud. Hulle dien saam as voltydse bedienaars in Albanië.

Orges and Federica

 Nadat Gianpiero afgetree het, het hy saam met sy vrou, Gloria, na Albanië toe getrek. Hy sê: “Ons het ons seuns in Italië grootgemaak. Drie van hulle het na ’n ander land toe getrek om te gaan dien waar daar hulp nodig is. Ons harte was geraak deur ’n Wagtoring-artikel met die titel ‘Kan jy oorkom na Masedonië?’ Ons het gaan sit en uitwerk hoe ons my pensioen kan gebruik om in Albanië te dien.”

Gianpiero and Gloria

Hulle het mooi beplan

 Diegene wat gaan dien waar daar hulp nodig is, moet voor die tyd mooi beplan, en hulle moet veranderinge maak om te kan trek (Lukas 14:28). Hulle moet byvoorbeeld na maniere soek om hulleself te onderhou. Gwen, wat vroeër genoem is, het eers by haar suster ingetrek om geld te spaar terwyl sy nog in Engeland gebly het. Sophia en Christopher, wat ook van Engeland af kom, vertel: “Ons het ons kar en van ons meubels verkoop. Ons wou graag ten minste ’n jaar in Albanië bly.” Gelukkig kon hulle baie langer daar bly.

Christopher and Sophia

 Party verkondigers bly in Albanië vir ’n paar maande, trek terug na hulle geboorteland om te werk en geld te spaar en gaan dan terug na Albanië. Dit is wat Eliseo en Miriam gedoen het. Eliseo verduidelik: “Miriam kom van ’n area in Italië waar baie toeriste kom besoek en waar dit baie maklik is om tydelike werk te vind. In die somer werk ons drie maande in daardie area, en in die oorblywende nege maande lewe ons van ons spaargeld in Albanië. Ons het dit vir vyf jaar gedoen.”

Miriam and Eliseo

Hoe hulle uitdagings oorkom

 Nadat mense wat gaan dien waar daar hulp nodig is, getrek het, moet hulle aanpas by hulle nuwe omstandighede. Maar die raad en voorbeeld van plaaslike Getuies help hulle om uitdagings te oorkom. Sophia, wat vroeër genoem is, sê: “Gedurende die winter is die huise in Albanië baie kouer as waaraan ek gewoond is by die huis. Ek het geleer om anders aan te trek deur na die plaaslike susters te kyk.” Grzegorz en sy vrou, Sona, het van Pole gekom om te help in die pragtige dorp Prizren, Kosovo. b Grzegorz sê: “Die plaaslike verkondigers is so nederig, liefdevol en geduldig! Hulle help ons om die taal te leer en nog meer. Byvoorbeeld, hulle het ons gewys watter winkels bekostigbare pryse het, en hulle het vir ons verduidelik hoe om inkopies by die plaaslike markte te doen.”

Baie redes om gelukkig te wees

 Wanneer dié wat na ’n ander land trek, sterk vriendskappe met die plaaslike Getuies vorm en hulle agtergrond leer ken, help dit hulle. Sona verduidelik: “Ek het gesien hoe kragtig Jehovah se liefde is. Die broers en susters versterk my geloof omdat hulle hulle lewe en die dinge wat hulle glo, heeltemal verander het toe hulle Jehovah leer ken het. Ons sien dat ons nodig is in die gemeente en dat ons daar hoort. Ons dien saam met broers en susters wat ons vriende geword het” (Markus 10:29, 30). Gloria sê: “Ek ken baie susters wat gewelddadige teenstand verduur het van mense in die gemeenskap wat teen die Getuies is. Dit moedig my baie aan om hulle liefde vir Jehovah te sien.”

Grzegorz and Sona

 Diegene wat dien waar daar hulp nodig is, het ook die geleentheid om belangrike lesse te leer wat hulle dalk nie by die huis geleer het nie. Byvoorbeeld, hulle sien dat wanneer hulle uit hulle gemaksone kom om meer vir Jehovah te doen, dit hulle gelukkig maak. Stefano stel dit so: “In my geboorteland het ek gewoonlik oor interkomstelsels gepreek en kort aanbiedings gebruik. Maar mense van Albanië hou daarvan om te praat, veral wanneer hulle koffie drink. Omdat ek baie skaam is, was dit aan die begin vir my moeilik en het ek nie geweet wat om te sê nie. Maar met tyd het ek geleer om in mense belang te stel, en nou geniet ek dit om met hulle te gesels. Die bediening bring my nou baie meer vreugde.”

Alida and Stefano

 Leah het saam met haar man, William, van die Verenigde State na Albanië toe getrek. Sy sê: “Om hier te dien, het ons geleer om op nuwe maniere te dink en te lewe. Ons het so baie geleer oor gasvryheid, respek en vriendskap! Ons het nuwe maniere geleer om te preek, om uit die Bybel te redeneer en om onsself uit te druk.” William sê: “Die meeste mense wat Albanië besoek, raak verlief op die pragtige strande. Ek persoonlik is lief daarvoor om in die rotsagtige Albanese Alpe te gaan stap. Maar dit is as gevolg van die mense dat ek regtig van die land begin hou het! Baie dorpies in ons gebied het net ’n kort getuienis gekry gedurende spesiale kampanjes. Wanneer ons daarheen gaan, spandeer ons partykeer die hele dag daar, maar ons praat net met ’n paar gesinne.”

William and Leah

 Dit bring diegene wat dien waar daar hulp nodig is, die grootste vreugde wanneer hulle sien dat mense op die goeie nuus reageer (1 Tessalonisense 2:19, 20). Laura, wat as ’n jong ongetroude suster na Albanië toe getrek het, gee ’n voorbeeld: “Ek het ’n tyd lank in Fier gedien. In net twee en ’n half jaar het 120 nuwelinge gekwalifiseer om vir ander te preek! Ek het met 16 van hulle gestudeer!” ’n Ander suster met die naam Sandra onthou: “Ek het vir ’n vrou by die mark getuig. Sy het ’n Getuie geword en terug na haar tuisdorp toe getrek. Die laaste keer wat ek van haar gehoor het, het sy 15 Bybelstudies gehad!”

Laura

Sandra

Jehovah seën hulle volharding

 Party wat jare terug na Albanië toe getrek het omdat daar hulp nodig was, is nog steeds daar en hulle geniet hulle diens baie. Hulle is verbaas wanneer hulle uitvind dat mense vir wie hulle lank terug getuig het, later die waarheid aanvaar het (Prediker 11:6). Christopher, wat vroeër genoem is, sê: “Ek het ’n man raakgeloop met wie ek die Bybel studeer het toe ek net in Albanië aangekom het. Ek was verbaas toe hy alles omtrent ons eerste gesprekke oor die Bybel onthou het. Nou is hy en sy vrou gedoopte Getuies van Jehovah.” Federica, wat vroeër genoem is, sê: “In een gemeente het ’n suster na my toe gekom en my gevra of ek haar onthou. Sy het vir my gesê dat ek nege jaar terug vir haar gepreek het. ’n Hele ruk nadat ek na ’n ander dorp getrek het, het sy die Bybel begin studeer en tot doop gevorder. Ek het altyd gedink dat ons geen resultate gekry het gedurende ons eerste jare in Albanië nie. Ek was verkeerd!”

 Broers en susters wat na Albanië en Kosovo getrek het, is dankbaar om te sien hoe Jehovah hulle pogings geseën het en hulle ’n wonderlike lewe gegee het. Ná baie jare in Albanië som Eliseo sy ondervinding op deur te sê: “As mense word ons baie maklik oortuig dat ons ’n stabiele lewe kan hê deur te vertrou op wat die wêreld as stabiel beskou. Maar dit is ’n leuen. Jehovah se beginsels gee ons stabiliteit en ’n doel in die lewe. Omdat ek dien waar daar hulp nodig is, onthou ek dit. Ek voel dat ek nodig is en waardeer word. Ek het ware vriende om my wat dieselfde doelwitte as ek het.” Sandra stem saam: “Toe ek getrek het na waar daar meer hulp nodig is, het ek gevoel dat Jehovah my ’n geleentheid gegee het om te doen wat ek nog altyd wou – om ’n sendeling te wees. Ek was nog nooit spyt daaroor om Albanië toe te trek nie. Ek is gelukkiger as ooit tevore.”

a Jy kan meer leer omtrent die geskiedenis van ons predikingswerk in Albanië in die Jaarboek van Jehovah se Getuies vir 2010.

b Kosovo is noordoos van Albanië. In hierdie streek praat baie ’n Albanese dialek. Getuies van Albanië, verskillende Europese lande en die Verenigde State het na Kosovo getrek om die goeie nuus te verkondig aan mense wat daar woon en die Albanese dialek praat. Teen 2020 was daar 256 verkondigers wat in agt gemeentes, drie groepe en twee tentatiewe groepe dien.