Spring na inhoud

Ons leer om vure dood te slaan

Ons leer om vure dood te slaan

“Dit brand! Daar is ’n vuur!” Sandra was besig om ontbyt by haar skoonouers se huis te eet, toe sy sien hoe vlamme onder die deur van die skuur langsaan die huis uitkom. Sy en haar man, Thomas, het vinnig iets gedoen. Terwyl Sandra die brandblusser gegryp het, het Thomas na die skuur gehardloop om te gaan kyk wat aangaan. Sandra het die brandblusser gou vir Thomas geneem, en hy het die brand geblus. Sy sê: “As ons nie iets gedoen het nie, sou die hele skuur afgebrand het.”

Wat het Thomas en Sandra gehelp om nie paniekerig te wees nie en so gou op te tree? Hulle het saam met  1 000 ander wat by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Selters, Duitsland, werk, geleer wat om te doen wanneer ’n brand uitbreek.

Die fasiliteit in Selters wat 30 hektaar groot is, sluit nie net kantore en woongeboue in nie, maar ook ’n wassery, ’n drukkery en verskillende werkswinkels — plekke waar daar unieke brandgevare is. Daarom het die takkantoor se Veiligheids- en Omgewingsafdeling ’n program opgestel wat mense oor brandveiligheid leer. Eerstens oefen ’n groep wat as die Noodreaksie-span bekend staan, saam met die plaaslike brandweer. Tweedens moet alle vrywilligers by die takkantoor die volgende gereeld doen:

  • Deelneem aan oefensessies om te ontruim.

  • Deelneem aan lesse oor brandveiligheid.

  • Leer hoe om ’n brand in die beginstadium te blus.

Op hierdie manier leer vrywilligers wat om gedurende noodgevalle te doen.

Oefensessies oor brandveiligheid

Gedurende oefensessies leer mense hoe om brande op ’n veilige manier te blus. Christin, wat laas oor brandveiligheid in laerskool geleer het, beskryf wat gebeur het tydens ’n oefensessie by die takkantoor: “Ek het die brandblusser gegryp en dit gereed gekry om te gebruik. Ek het nader aan die brand beweeg en seker gemaak dat ek op die regte plek staan. Toe het ek die brand op my eie geblus! Ek het ook geleer hoe om ’n brand te bestry in ’n span van vier of vyf mense.”

Daniel, wat by die takkantoor opleiding gee oor brandveiligheid, sê: Oefensessies “verminder mense se vrees vir vuur”. Hy verduidelik: “Wanneer ’n brand uitbreek, is mense dikwels geskok. Hulle is bang en dink: ‘Wat is ons veronderstel om te doen? Hoe werk ’n brandblusser?’ Maar as hulle weet wat om te doen, kan hulle maklik ’n klein brand blus voordat dit buite beheer raak.” Hy sê dat “mense [gedurende opleiding] leer hoe om ’n brandblusser in ’n noodgeval op die regte manier vas te hou en ’n vuur te blus. Hulle kry selfvertroue en word dapper genoeg om iets te doen wanneer dit nodig is.”

Opleiding is die moeite werd

Baie mense waardeer die opleiding. Christin, wat vroeër aangehaal is, erken: “Ek het ’n brandblusser vir die eerste keer vasgehou. Ek dink dat almal sulke opleiding moet kry.” Nadja, ’n deeltydse vrywilliger by die takkantoor en wat ook by ’n lughawe werk, vertel: “Oor die afgelope tien jaar het ek net op papier oor brandveiligheid by die lughawe geleer. Maar die praktiese opleiding by die takkantoor het my meer selfvertroue gegee. As daar ’n brand is, sal ek weet wat om te doen.”

Sandra glo dat haar opleiding by die takkantoor haar gehelp het om vinnig iets te doen by haar skoonouers se huis. Sy sê: “Ek is nie meer so bang om ’n brandblusser te gebruik nie. Dis goed om elke jaar opleiding te kry. Dit het my beslis gehelp.”

Oefensessies saam met die plaaslike brandweer

Die plaaslike brandweer hou gereeld oefensessies by die takkantoor. Die hoofbrandweerman, Theo Neckermann, verduidelik hoekom: “Ons brandweerstasie is verantwoordelik vir die munisipaliteit van Selters, ’n gebied in die platteland. Ons hanteer gewoonlik brandnoodgevalle in huise of woonstelle. Die fasiliteite by die takkantoor is uniek in die gebied as gevolg van hoe groot die eiendom en die geboue is en omdat daar industriële werk gedoen word. As gevolg hiervan moet ons leer hoe om noodgevalle by hierdie plek te hanteer. En daarom is ons bly en dankbaar om oefensessies hier te hou.”

Die meer as 100 lede van die takkantoor se Noodreaksie-span doen reddingswerk en brandweeroefeninge saam met die brandweer. Mnr. Neckermann sê: “Ons bewonder julle Noodreaksie-span. Sonder hulle hulp sou brandweeroefeninge en brandnoodgevalle baie moeiliker gewees het.”

’n Demonstrasie wat wys hoe gevaarlik dit is om oliebrande met water te blus

Die brandweer en die Noodreaksie-span het een aand in Februarie 2014 gewys waarvan hulle gemaak is. Daar het rook uitgekom by ’n woonstel in een van die woongeboue van die takkantoor. Daniel, wat vroeër aangehaal is, sê: “Die rook was so dik dat ons nie ons hande voor ons gesig kon sien nie. Ons het dadelik die brandweer gebel en al die mense in die 88 woonstelle gevra om die gebou te verlaat. Toe die brandweer daar aankom, was die gebou reeds leeg.” Mnr. Neckermann sê: “Ek dink nie dis moontlik om so ’n groot gebou so vinnig in ’n stad soos Frankfurt te ontruim nie. Julle mense was baie gedissiplineerd, en julle Noodreaksie-span was ongelooflik!” Die brandweermanne het die probleem gekry en dit reggestel. Niemand het seergekry nie, en daar was geen ernstige skade nie.

Almal by die takkantoor in Selters hoop dat daar nooit ’n ernstige brandnoodgeval sal gebeur nie. Maar as so iets gebeur, is die vrywilligers gereed omdat hulle geleer het hoe om vure dood te slaan.