Spring na inhoud

Duisende besoek die takkantoor in Sentraal-Amerika

Duisende besoek die takkantoor in Sentraal-Amerika

In 2015 was daar amper 175 000 besoekers by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko, Sentraal-Amerika—dit is omtrent 670 besoekers elke werksdag! Groot groepe besoekers het dae lank met busse gery om daar uit te kom. Party het hulle besoek al maande voor die tyd beplan.

“Die Bethel-projek”

Party moes groot opofferings maak sodat hulle die takkantoor, wat Bethel genoem word, kon besoek. Byvoorbeeld, in ’n sekere gemeente in die Mexikaanse staat Veracruz kon baie mense nie die busrit van 550 kilometer bekostig nie. Hulle het toe ’n plan gemaak wat hulle die “Bethel-projek” genoem het. Hulle het gekookte etes voorberei en verkoop, asook plastiekbottels herwin. Ná drie maande het hulle genoeg geld verdien sodat hulle die buskaartjies kon koop.

Was dit alles die moeite werd? Hulle dink dit was. Byvoorbeeld, Lucio, ’n jong man in die gemeente, sê: “Ons besoek aan Bethel het my aangespoor om verdere geestelike doelwitte te stel, en ek doen nou meer in die gemeente.” En die 18-jarige Elizabeth sê: “By Bethel kon ek regtig die ware liefde sien wat ’n kenmerk is van almal wat Jehovah dien. Dit het my aangespoor om meer vir God te doen, en daarom het ek hom voltyds begin dien.”

Duisende het gekom

Partykeer kom daar duisende besoekers op een dag. Diegene wat in die Toerafdeling werk, probeer hard om almal gasvry te verwelkom. Lizzy sê: “Dit is aanmoedigend om te sien dat so baie mense kom. My geloof word versterk wanneer ek die besoekers se waardering sien, en wanneer ek hoor wat hulle alles deurgemaak het sodat hulle die takkantoor kan besoek.”

Omdat daar duisende besoekers is, gee party met ander werkstoewysings by Bethel ook toere. Al beteken dit meer werk vir hulle, geniet hulle dit. Juan sê: “Nadat ek ’n toer gegee het, sien ek hoe bly die besoekers is, en dan weet ek dat dit alles die moeite werd is.”

“Die kinders is mal daaroor”

Kinders geniet dit ook om by Bethel te toer. Noriko, wat in die Rekenaarafdeling werk, sê: “Ek vra die kinders in die toergroepe of hulle daarvan sal hou om by Bethel te werk. Hulle almal sê: ‘Ja!’” Die meeste kinders hou van “Caleb se hoekie”. Daar kan hulle foto’s neem saam met groot kartonprente van Caleb en Sophia. Hulle is die karakters in die geanimeerde videoreeks Word Jehovah se vriend. Noriko sê: “Die kinders is mal daaroor.”

Baie van die kinders sê dat hulle al die werk wat by Bethel gedoen word, waardeer. Henry, ’n klein seuntjie van Mexiko, het byvoorbeeld geld gespaar in sy spaarvarkie wat hy as ’n bydrae gegee toe hy Bethel besoek het. In ’n briefie, wat hy saam met sy bydrae gegee het, skryf hy: “Gebruik asseblief hierdie geld om nog boeke te maak, en dankie dat julle vir Jehovah werk.”

Ons nooi jou om te kom

Jy kan gratis ’n begeleide toer geniet van enige van Jehovah se Getuies se kantore en drukfasiliteite regoor die wêreld. As jy ’n takkantoor wil besoek, nooi ons jou graag om te kom. Ons is seker dat jy dit sal geniet. Jy kan meer inligting omtrent hierdie toere kry onder OMTRENT ONS > KANTORE & TOERE.