Spring na inhoud

“God se geskenk aan die mens” uitgestal in die Stad van Skatte

“God se geskenk aan die mens” uitgestal in die Stad van Skatte

Cluj-Napoca is een van die grootste stede in Roemenië en word ook die Stad van Skatte genoem. Gedurende die Gaudeamus-boekeskou, wat van 20 tot 24 April 2016 in die stad gehou is, het Jehovah se Getuies die sedelike en geestelike waardes van die Bybel beklemtoon. Hulle het ’n stalletjie by die skou gehad en met duisende mense gepraat wat meer wou weet oor die video’s, Bybelpublikasies en Bybels wat uitgestal is.

’n Hele paar skole het kinders op ’n uitstappie na die skou gebring en ook die Getuies se stalletjie besoek. Die skoolkinders het dit veral geniet om na die geanimeerde video’s in die reeks Word Jehovah se vriend te kyk, en baie van hulle wou die boek My boek met Bybelverhale en die brosjure Leer jou kinders hê. ’n Kinderoppasser wat die video’s gesien het, het vir ’n werksmaat gesê: “Ons moet die webadres [www.pr418.com] neerskryf sodat ons vir die kinders al die video’s kan wys.”

Tieners het baie gehou van die witbord-tekenprente wat op tablette gewys is. Dit het video’s ingesluit soos Is dit liefde of verliefdheid?, Werk slim met sosiale netwerke en Sit ’n boelie op sy plek sonder om te baklei.

’n Ortodokse priester en sy vrou het die stalletjie ’n hele paar keer besoek en die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif asook ’n paar brosjures geneem. Die priester het gesê dat hy beïndruk is deur die “Indeks van Bybelwoorde” wat ’n kenmerk van die vertaling is en die hoeveelheid betroubare bronne wat deur die vertalers gebruik is. Hy het vir die Getuies sy telefoonnommer gegee en gevra dat hulle hom bel sodat hulle die Bybel verder kan bespreek.

Die priester se vrou het gevra waar sy op die webwerf jw.org inligting vir kinders kan kry, en hulle het toe vir haar die “Kinders”-afdeling gewys. Sy het na die video Wees eerlik gekyk en dit baie geniet. Nadat haar man die webwerf besoek het, het hy dit “God se geskenk aan die mens” genoem.