Spring na inhoud

Hoekom kies Jehovah se Getuies om nie deel te neem aan nasionalistiese seremonies nie?

Hoekom kies Jehovah se Getuies om nie deel te neem aan nasionalistiese seremonies nie?

 Jehovah se Getuies respekteer regerings en hulle nasionale simbole. Ons aanvaar die feit dat ander dalk sal besluit om ’n eed van getrouheid af te lê, ’n vlag te salueer of ’n volkslied te sing.

 Maar Jehovah se Getuies kies om nie aan sulke seremonies deel te neem nie omdat ons glo dit nie ooreenstem met die dinge wat ons in die Bybel leer nie. Ons is dankbaar wanneer ander die dinge wat ons glo, respekteer net soos ons hulle respekteer vir die dinge wat hulle glo.

In hierdie artikel

 Watter Bybelbeginsels is betrokke?

 Die volgende twee belangrike Bybelbeginsels affekteer ons besluit:

  •   God alleen verdien ons aanbidding. Die Bybel sê: “Jy moet Jehovah jou God aanbid en hom alleen dien” (Lukas 4:8). ’n Eed van getrouheid en volksliedere bevat baie keer beloftes dat ’n persoon sy land meer as enige iets anders sal lief hê. So Jehovah se Getuies voel dat dit vir hulle verkeerd is om aan sulke seremonies deel te neem.

     Jehovah se Getuies voel ook dat om die vlag te salueer, ’n daad van aanbidding of afgodediens is, en dit is iets wat die Bybel verbied (1 Korintiërs 10:14). Party geskiedkundiges erken dat nasionale vlae eintlik godsdienssimbole is. Die geskiedkundige Carlton J.H. Hayes het geskryf: “Nasionalisme is soos ’n godsdiens waarvan die vlag die hoofsimbool en vernaamste voorwerp van aanbidding is.” a Die skrywer Daniel P. Mannix het oor die vroeë Christene gesê: “Christene het geweier om . . . offerandes te bring aan die [Romeinse] keiser se beskermgees – wat vandag min of meer dieselfde is as om te weier om die vlag te salueer.” b

    Jehovah se Getuies salueer nie die vlag nie, maar ons sal dit nie beskadig of verbrand nie. En ons sal ook nie op enige ander manier disrespekvol teenoor dit of enige ander nasionale simbool wees nie.

  •   Alle mense is gelyk voor God (Handelinge 10:34, 35). Die Bybel sê dat God “uit een mens elke nasie van die mensdom gemaak” het (Handelinge 17:26). Vir hierdie rede glo Jehovah se Getuies dat dit verkeerd sal wees om een etniese groep of nasionaliteit bo ’n ander te stel. Ons respekteer alle mense, maak nie saak waar hulle bly of waar hulle vandaan kom nie. – 1 Petrus 2:17.

 Wat as die wet sê dat ons aan sulke aktiwiteite moet deelneem?

 Jehovah se Getuies is nie teen regerings nie. Ons glo dat die regerings “God se reëling” is, en hy laat hulle toe om te bestaan (Romeine 13:1-7). Ons glo ook dat Christene sekulêre owerhede moet gehoorsaam. – Lukas 20:25.

 Maar wat as sekulêre wette met God se wette bots? In sommige gevalle is dit moontlik om die regering amptelik te vra om ’n aanpassing aan die wette te maak. c Wanneer dit nie moontlik is nie, sal Jehovah se Getuies nog steeds respekvol kies om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense”. – Handelinge 5:29.

 Kies Jehovah se Getuies kant wanneer dit kom by maatskaplike of politieke sake?

 Nee. Jehovah se Getuies kies nie kant in maatskaplike en politieke sake nie. Wanneer ons besluit om nie ’n eed van getrouheid af te lê, ’n vlag te salueer of ’n volkslied te sing nie, beteken dit nie dat ons politieke aktiviste is nie. Ons bly eerder by wat die Bybel sê oor daardie seremonies.

a Essays on Nationalism, bladsy 107-108.

b The Way of the Gladiator, bladsy 212.