Spring na inhoud

Wat beteken dit om heilig te wees?

Wat beteken dit om heilig te wees?

Die Bybel se antwoord

 Om heilig te wees verwys na die toestand waarin iets of iemand afgesonder is van onreinheid. Die Hebreeuse woord wat met “heilig” vertaal word, kom van ’n woord wat “afgeskeie” beteken. Wat heilig is, is dus afgeskeie van alledaagse gebruik, of word as heilig beskou, veral omdat dit suiwer en rein is.

 God is heilig in die hoogste graad. Die Bybel sê: “Niemand is heilig soos Jehovah a nie” (1 Samuel 2:2). God het dus die reg om die standaard vir heiligheid te stel.

 Die woord “heilig” kan toegepas word op enigiets wat direk met God verband hou, veral dinge wat afgesonder is vir uitsluitlike gebruik in aanbidding. Byvoorbeeld, die Bybel praat van:

  •   Heilige plekke: God het naby die brandende bos vir Moses gesê: “Die plek waar jy staan, is heilige grond.” — Eksodus 3:2-5.

  •   Heilige geleenthede: Die eertydse Israeliete het Jehovah aanbid by gereelde godsdienstige feeste, wat “heilige byeenkomste” genoem is. — Levitikus 23:37.

  •   Heilige voorwerpe: Voorwerpe wat in God se aanbidding by die eertydse tempel in Jerusalem gebruik is, is “heilige voorwerpe” genoem (1 Konings 8:4). Sulke heilige voorwerpe moes met baie respek behandel word, maar dit moes nooit self aanbid word nie. b

Kan ’n onvolmaakte mens heilig wees?

 Ja. God beveel Christene: “Julle moet heilig wees, want ek is heilig” (1 Petrus 1:16). Onvolmaakte mense kan natuurlik nooit aan God se volmaakte standaard vir heiligheid voldoen nie. Maar mense wat God se regverdige wette gehoorsaam, kan as “heilig en vir God aanneemlik” beskou word (Romeine 12:1). Iemand wat hard probeer om heilig te wees, toon dit in sy woorde en dade. Hy of sy volg byvoorbeeld die Bybel se raad om heilig te wees en om hulle te “onthou van hoerery” en om “in julle hele gedrag heilig” te wees. — 1 Tessalonisense 4:3; 1 Petrus 1:15.

Kan ’n heilige posisie voor God verloor word?

 Ja. As iemand ongehoorsaam is aan God se standaarde vir gedrag, sal God daardie persoon nie meer as heilig beskou nie. Die Bybelboek Hebreërs is byvoorbeeld geskryf aan “heilige broers”, maar dit waarsku dat hulle “’n goddelose hart met ’n gebrek aan geloof [kan] ontwikkel deurdat [hulle hulle] van die lewende God terugtrek”. — Hebreërs 3:1, 12.

Wanopvattings oor heiligheid

 Wanopvatting: Heiligheid kan verkry word deur middel van selfonthouding.

 Feit: Die Bybel sê dat “’n streng behandeling van die liggaam,” of uiterste selfonthouding, “geen waarde” vir God het nie (Kolossense 2:23). God wil eerder hê dat ons goeie dinge moet geniet. “Elke mens [moet] eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God.” — Prediker 3:13.

 Wanopvatting: Om selibaat te bly maak ’n mens heiliger.

 Feit: ’n Christen kies dalk om ongetroud te bly, maar om selibaat te bly, gee ’n mens nie ’n heilige posisie voor God nie. Dit is so dat mense wat ongetroud bly, hulle onverdeelde aandag aan aanbidding kan gee (1 Korintiërs 7:32-34). Maar die Bybel wys dat persone wat getroud is, ook heilig kan wees. Ten minste een van Jesus se apostels — Petrus — was getroud. — Matteus 8:14; 1 Korintiërs 9:5.

a Jehovah is God se persoonlike naam. Honderde Bybelverse assosieer hierdie naam met die woorde “heilig” en “heiligheid”.

b Die Bybel veroordeel die aanbidding van godsdiensrelieke. — 1 Korintiërs 10:14.