Spring na inhoud

Wat leer die Bybel oor die vermoë om in tale te praat?

Wat leer die Bybel oor die vermoë om in tale te praat?

Die Bybel se antwoord

 Om ‘in tale te praat’ verwys na ’n wonderdadige vermoë wat party eertydse Christene gehad het en wat hulle in staat gestel het om ’n taal te praat sonder om dit eers te leer (Handelinge 10:46). Die persoon wat gepraat het, kon maklik verstaan word deur enigiemand wat daardie taal geken het (Handelinge 2:4-8). Om in tale te praat was een van die gawes van die heilige gees wat God aan party eerste-eeuse Christene gegee het. – Hebreërs 2:4; 1 Korintiërs 12:4, 30.

 Waar en wanneer het mense in tale begin praat?

 Die eerste wonderwerk het plaasgevind in Jerusalem op die oggend van die Joodse Pinksterfees in 33 HJ. Ongeveer 120 van Jesus se dissipels het bymekaargekom toe ‘hulle almal met heilige gees vervul is en in ander tale begin praat het’ (Handelinge 1:15; 2:1-4). ’n Groot skare “uit elke nasie van dié onder die hemel” het bymekaargekom, en “elkeen het hulle in sy eie taal hoor praat”. – Handelinge 2:5, 6.

 Wat was die doel daarvan om in tale te praat?

  1.   Om te toon dat God Christene ondersteun. In die verlede het God wonderdadige tekens voorsien om te bewys dat hy getroue mense soos Moses ondersteun (Eksodus 4:1-9, 29-31; Numeri 17:10). Om in tale te praat het ’n soortgelyke doel gedien en het getoon dat God die nuutgevormde Christengemeente ondersteun. Die apostel Paulus het geskryf: “Tale [is] nie daar as ’n teken vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges.” – 1 Korintiërs 14:22.

  2.   Om Christene in staat te stel om ’n deeglike getuienis te gee. Dié wat Jesus se volgelinge op Pinkster gehoor het, het gesê: “Ons hoor hulle in ons tale oor die luisterryke dinge van God praat” (Handelinge 2:11). Nog ’n belangrike doel van hierdie wonderwerk was dus om Christene in staat te stel “om ’n deeglike getuienis te gee” en om “dissipels van mense van al die nasies [te maak]” soos hulle deur Jesus beveel is (Handelinge 10:42; Matteus 28:19). Ongeveer 3 000 wat die wonderwerk gesien het en na die getuienis geluister het, het op daardie selfde dag dissipels geword. – Handelinge 2:41.

 Sou mense permanent in tale praat?

 Nee. Die gawe van die heilige gees, insluitende dié om in tale te praat, was ’n tydelike voorsiening. Die Bybel het voorspel: “Of daar nou gawes van profesie is—hulle sal weggedoen word; of daar nou tale is—hulle sal ophou.” – 1 Korintiërs 13:8.

 Wanneer het mense opgehou om in tale te praat?

 Die gawes van die heilige gees is oor die algemeen aan ander Christene oorgedra in die teenwoordigheid van die apostels, gewoonlik wanneer die apostels hulle hande op mede-gelowiges gelê het (Handelinge 8:18; 10:44-46). Dit wil voorkom asof dié wat die gawes van die gees van die apostels af ontvang het, dit nie aan ander oorgedra het nie (Handelinge 8:5-7, 14-17). Om toe te lig: ’n Regeringsamptenaar kan ’n bestuurderslisensie aan iemand uitreik, maar daardie persoon het nie die wetlike gesag om ’n lisensie aan enigiemand anders uit te reik nie. Die vermoë om in tale te praat, het waarskynlik geëindig toe al die apostels en dié wat die gawe persoonlik by hulle ontvang het, dood is.

 Wat van vandag?

 Die wonderdadige gawe om in tale te praat, het blykbaar min of meer aan die einde van die eerste eeu HJ geëindig. Niemand wat vandag lewe, kan met reg sê dat hulle deur God se krag in tale praat nie. a

 Hoe kan ware Christene geïdentifiseer word?

 Jesus het gesê dat sy dissipels geïdentifiseer sou word aan hulle selfopofferende liefde vir mekaar (Johannes 13:34, 35). En die apostel Paulus het gesê dat liefde ’n permanente kenmerk van ware Christene sou wees (1 Korintiërs 13:1, 8). Hy het gesê dat Christene deur middel van God se gees eienskappe sou ontwikkel wat gesamentlik “die vrugte van die gees” genoem word, en die eerste eienskap daarvan is liefde. – Galasiërs 5:22, 23.

a Sien die artikel “Talespraak—Kom dit van God af?