Spring na inhoud

Is die Lykkleed van Turyn Jesus se grafdoek?

Is die Lykkleed van Turyn Jesus se grafdoek?

Die Bybel se antwoord

 Die Lykkleed van Turyn word nie in die Bybel genoem nie. Dit is ’n laken wat volgens baie mense die grafdoek van Jesus is. Daarom beskou party mense dit as een van die Christendom se heiligste voorwerpe wat vereer word. Die Lykkleed word nou in ’n spesiale kas in ’n katedraal in Turyn, Italië, gehou waar dit beskerm word.

 Is daar bewyse in die Bybel dat die Lykkleed van Turyn regtig Jesus se grafdoek is? Nee.

 Kom ons kyk na drie dinge oor die Lykkleed wat nie ooreenstem met wat die Bybel sê nie.

  1.   Die Lykkleed is ’n enkele stuk materiaal van 442 by 113 sentimeter met ’n stuk van 8 sentimeter wat in die lengte vasgewerk is.

     Wat die Bybel sê: Jesus se lyk was nie net met een stuk materiaal toegedraai nie, maar met verskeie stukke materiaal. Sy kop was met ’n aparte doek toegedraai. Nadat Jesus opgewek is, het een van sy apostels na die leë graf gegaan en “die verbande [daar] sien lê” sowel as “die doek wat op sy kop was, wat nie by die verbande gelê het nie maar afsonderlik op een plek opgerol was”. — Johannes 20:6, 7.

  2.   Die Lykkleed het bloedvlekke daarop, blykbaar van ’n lyk wat nie gewas is nie.

     Wat die Bybel sê: Toe Jesus gesterf het, het sy dissipels sy liggaam voorberei, “net soos die Jode die gebruik [gehad] het om vir ’n begrafnis voor te berei” (Johannes 19:39-42). Die Jode het gewoonlik die lyk gewas en olie en speserye daarop gesit voordat dit begrawe is (Matteus 26:12; Handelinge 9:37). Daarom sou Jesus se dissipels sy liggaam gewas het voordat hulle dit in doeke toegedraai het.

  3.   Die Lykkleed bevat ’n beeld van ’n man wat “in die lengte op die een helfte van die Lykkleed gelê is, terwyl die ander helfte oor sy kop gevou is en die voorkant van sy liggaam bedek”, sê die Encyclopædia Britannica.

     Wat die Bybel sê: Jesus se dissipels het sy dood bespreek sowel as sy leë graf en die ooggetuienis van vroue wat “’n bonatuurlike gesig gesien het van engele wat gesê het dat hy lewe” (Lukas 24:15-24). As die Lykkleed in Jesus se graf was, sou sy dissipels dit en die beeld daarop sekerlik bespreek het. Maar die Bybel sê niks oor so ’n bespreking nie.

Moet die Lykkleed vereer word?

 Nee. Selfs as dit regtig Jesus se lykkleed was, sou dit verkeerd wees om dit te vereer. Kyk na Bybelwaarhede wat wys hoekom dit verkeerd sou wees.

  1.   Dit is nie nodig nie. Jesus het gesê: “God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Ware aanbidding sluit nie die gebruik van godsdienstige voorwerpe of beelde in nie.

  2.   Dit is verkeerd. Die Tien Gebooie sê dat afgodediens verkeerd is (Deuteronomium 5:6-10). Die Bybel sê ook vir Christene: “Bewaar julle van afgode” (1 Johannes 5:21). Party mense sê dat die Lykkleed nie ’n afgod is nie, maar dat dit ’n simbool van hulle geloof is. Maar as ’n mens ’n voorwerp vereer, maak jy ’n afgod daarvan. a Daarom sal ’n persoon wat God gelukkig wil maak geen voorwerp, insluitende die Lykkleed, vereer nie.

a ’n Afgod is ’n beeld, afbeelding of ’n simbool wat vereer word.