Spring na inhoud

Het Jesus aan ’n kruis gesterf?

Het Jesus aan ’n kruis gesterf?

Die Bybel se antwoord

 Baie beskou die kruis as die algemeenste simbool van die Christelike godsdiens. Maar die Bybel beskryf nie die instrument van Jesus se teregstelling nie; daarom kan niemand met absolute sekerheid weet watter vorm dit gehad het nie. Die Bybel voorsien egter bewyse dat Jesus nie aan ’n kruis gesterf het nie, maar aan ’n regop paal.

 Die Bybel gebruik gewoonlik die Griekse woord stau·rosʹ wanneer dit na die instrument van Jesus se teregstelling verwys (Matteus 27:40; Johannes 19:17). Hoewel vertalings dikwels hierdie woord met “kruis” vertaal, is baie geleerdes dit eens dat dit basies “regop paal” beteken. a Volgens A Critical Lexicon and Concordance to the English and Greek New Testament verwys stau·rosʹ “nooit na twee stukke hout wat teen enige hoek oor mekaar geplaas is nie”.

 Die Bybel gebruik ook die Griekse woord xuʹlon as ’n sinoniem vir stau·rosʹ (Handelinge 5:30; 1 Petrus 2:24). Hierdie woord beteken “hout”, “balk”, “paal” of “boom”. b The Companion Bible kom dus tot hierdie gevolgtrekking: “Daar is niks in die Grieks van die N[uwe] T[estament] wat eers sinspeel op twee stukke hout nie.”

Is die gebruik van die kruis in aanbidding vir God aanneemlik?

’n Crux simplex​—die Latynse term vir ’n enkele paal waaraan ’n misdadiger gehang is

 Ongeag die vorm van die instrument waaraan Jesus gesterf het, toon die volgende feite en Bybelverse dat ons nie die kruis in aanbidding moet gebruik nie.

  1.   God verwerp aanbidding wat beelde of simbole, insluitende die kruis, gebruik. God het die Israeliete beveel om nie “die gedaante van enige simbool” in hulle aanbidding te gebruik nie, en Christene word eweneens aangesê om te “vlug vir die afgodediens”.—Deuteronomium 4:15-19; 1 Korintiërs 10:14.

  2.   Eerste-eeuse Christene het nie die kruis in aanbidding gebruik nie. c Die leringe en voorbeeld van die apostels dien as ’n voorbeeld wat alle Christene moet volg.—2 Tessalonisense 2:15.

  3.   Die gebruik van die kruis in aanbidding het ’n heidense oorsprong. d Honderde jare ná Jesus se dood, toe die kerke van sy leringe afgewyk het, is nuwe kerklidmate “toegelaat om grotendeels hulle heidense tekens en simbole te behou”, insluitende die kruis (The Expanded Vine’s Expository Dictionary of New Testament Words). Maar volgens die Bybel is dit verkeerd om heidense simbole aan te neem om nuwe bekeerlinge te help maak.—2 Korintiërs 6:17.

a Sien New Bible Dictionary, derde uitgawe, geredigeer deur D.R.W. Wood, bladsy 245; Theological Dictionary of the New Testament, Deel VII, bladsy 572; The International Standard Bible Encyclopedia, hersiene uitgawe, Deel 1, bladsy 825; en The Imperial Bible-Dictionary, Deel II, bladsy 84.

b Sien The Expanded Vine’s Expository Dictionary of New Testament Words, bladsy 1165; A Greek-English Lexicon, deur Liddell en Scott, negende uitgawe, bladsye 1191-​1192; en Theological Dictionary of the New Testament, Deel V, bladsy 37.

c Sien Encyclopædia Britannica, 2003, inskrywing “Cross”; The Cross​—Its History and Symbolism, bladsy 40; en The Companion Bible, Oxford University Press, aanhangsel 162, bladsy 186.

d Sien The Encyclopedia of Religion, Deel 4, bladsy 165; The Encyclopedia Americana, Deel 8, bladsy 246; en Symbols Around Us, bladsye 205-​207.