Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor Paasfees?

Wat sê die Bybel oor Paasfees?

Die Bybel se antwoord

 Die viering van Paasfees is nie op die Bybel gebaseer nie. As jy egter die geskiedenis daarvan ondersoek, sal jy sien wat die ware betekenis van Paasfees is—dit is ’n tradisie wat op eertydse vrugbaarheidsritusse gebaseer is. Kyk na die volgende.

  1.   Naam: Die Encyclopædia Britannica sê: “Die oorsprong van die Engelse naam Easter is nie bekend nie; ’n Angel-Saksiese priester, die eerbiedwaardige Beda, het dit in die 8ste eeu aan die Angel-Saksiese lentegodin Eostre ontleen.” Ander verbind dit met Astarte, die Fenisiese vrugbaarheidsgodin wat deur die Babiloniërs Isjtar genoem is.

  2.   Hase, konyne: Dit is simbole van vrugbaarheid “wat oorgeneem is uit die eertydse ritusse en simbolisme van Europese en Midde-Oosterse heidense lentefeeste”.—Encyclopædia Britannica.

  3.   Eiers: Volgens Funk & Wagnalls Standard Dictionary of Folklore, Mythology and Legend is die soektog na Paaseiers wat kwansuis deur die Paashaas gebring is, “nie bloot ’n kinderspeletjie nie, maar die oorblyfsel van ’n vrugbaarheidsritus”. Party kulture het geglo dat die versierde Paaseier “op bonatuurlike wyse geluk, voorspoed, gesondheid en beskerming kon bring”.—Traditional Festivals.

  4.   Nuwe Paasuitrusting: “Daar is gemeen dat dit onbeleef was, en gevolglik teëspoed sou meebring, om die Skandinawiese godin van die lente, of Eastre, in enigiets anders as nuwe klere te begroet.”—The Giant Book of Superstitions.

  5.   Sonsopkomsdienste: Dit is verbind met ritusse van eertydse sonaanbidders “wat op die lentenagewening gehou is ter verwelkoming van die son en sy groot krag om nuwe lewe te gee aan alles wat groei”.—Celebrations—The Complete Book of American Holidays.

 The American Book of Days gee ’n goeie beskrywing van die oorsprong van Paasfees: “Daar bestaan geen twyfel dat die Kerk in sy vroeë dae die ou heidense gebruike oorgeneem en ’n Christelike betekenis daaraan geheg het nie.”

 Die Bybel waarsku ons om God nie te aanbid deur tradisies of gebruike te volg wat hom mishaag nie (Markus 7:6-8). Tweede Korintiërs 6:17 sê: “‘Sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak.’” Paasfees is ’n heidense vakansiedag, en almal wat God wil behaag, sal dit vermy.