Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Moet ons saambly voordat ons trou?

Moet ons saambly voordat ons trou?

 Baie paartjies bly saam voordat hulle trou. Party paartjies doen dit omdat hulle wil toets of hulle bymekaar pas. En hulle hoop ook dat dit hulle kanse sal vergroot om ’n suksesvolle huwelik te hê. Is dit ’n goeie idee om saam te bly voordat julle trou?

In hierdie artikel

 Wat sê die Bybel?

  •   Die Bybel sê dat dit verkeerd is om seks buite die huwelik te hê. Byvoorbeeld, dit sê dat ons “van seksuele onsedelikheid moet wegbly” (1 Tessalonisense 4:3; 1 Korintiërs 6:18). Dit sluit in seks tussen ’n man en vrou wat saambly, selfs al beplan hulle om later te trou. a Die Bybel se standaarde beskerm ’n paartjie teen buite-egtelike swangerskappe en ander slegte gevolge wat kan gebeur wanneer mense saambly voordat hulle trou.

  •   Die huweliksreëling is deur God ingestel. Toe hy dit gedoen het, het hy gesê: “’n Man [sal] sy pa en sy ma verlaat, en hy sal sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees word” (Genesis 2:24). ’n Huweliksverbintenis voorsien die beste grondslag vir ’n liefdevolle en stabiele gesin.

 Sal dit julle help om gereed te wees vir die huwelik as julle saambly?

 Party sê ja. Hulle dink dat ’n paartjie waardevolle ondervinding kry as hulle huishoudelike takies saam doen en mekaar se persoonlike gewoontes sien. Maar ’n huweliksverbintenis is nodig om ’n gelukkige huwelik te hê.

 Hoe kan ’n paartjie leer om gedurende goeie en slegte tye by mekaar te bly? Nie deur middel van ’n “toetslopie” waar die man of die vrou die verhouding as iets beskou wat op enige tyd beëindig kan word nie. Verhoudings is eerder suksesvol wanneer albei maats heeltemal lojaal is aan mekaar en saam werk om probleme te oorkom.

 Die slotsom: In plaas daarvan om vir die huwelik te oefen, is paartjies wat kies om saam te bly, eintlik besig om te oefen om uit mekaar te gaan.

 Bybelwaarheid: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes.” – Galasiërs 6:7.

 Sal dit julle help om geld te spaar as julle saambly?

 Party sê ja. Volgens ’n opname deur die Pew-navorsingsentrum het vier uit tien volwassenes in die Verenigde State saam begin bly omdat hulle gedink het dat dit hulle sou help om geld te spaar. Maar nadat baie mense wat aan die opname deelgeneem het, ’n hele ruk lank saamgebly het, het hulle gesê dat hulle nog steeds nie gereed is vir die huwelik nie as gevolg van finansiële probleme.

 Om voor die huwelik saam te bly kan ander gevolge hê, veral vir vroue. Byvoorbeeld, nadat ’n verhouding beëindig word, is dit gewoonlik die vrou wat die verantwoordelik het om die kinders groot te maak.

 Die slotsom: Die nadele daarvan om voor die huwelik saam te bly, kan baie meer wees as enige sogenaamde voordele.

 Bybelwaarheid: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel.” – Jesaja 48:17.

 Sal dit keer dat jy met die verkeerde persoon trou as julle saambly?

 Party sê ja. Maar die boek Fighting for Your Marriage sê: “Mense wat saambly voordat hulle trou, besef dikwels nie dat om saam te bly dit moeiliker maak om die verhouding te beëindig nie.” Hoekom? Party paartjies wat saambly, ontdek dalk dat hulle regtig nie goed oor die weg kom nie. Maar hulle bly by mekaar as gevolg van verantwoordelikhede soos dat hulle ’n troeteldier het vir wie hulle albei omgee, of saam ’n huis huur of onverwags swanger word. Navorsers het opgelet dat paartjies saam bly net omdat hulle aan mekaar gewoond is en nie ’n verandering kan maak wat goed vir hulle sou wees nie. Met ander woorde “party mense wat andersins uitmekaar sou gaan, trou op die ou end net omdat dit makliker is om bymekaar te bly”, volgens Fighting for Your Marriage.

 Die slotsom: Om saam te bly kan eintlik dit moeiliker maak om ’n slegte verhouding te beëindig eerder as om jou te help om ’n goeie besluit te maak.

 Bybelwaarheid: “Die verstandige sien die gevaar en vermy dit, maar die onervarene gaan voort en moet die gevolge dra.” – Spreuke 22:3.

 Is daar ’n beter keuse?

 Jy kan die risiko’s van saambly vermy en jou kanse op ’n suksesvolle huwelik vergroot. Hoe? Deur by die Bybel se standaard vir die huwelik te bly. Neem genoeg tyd om die persoon te leer ken met wie jy wil trou voordat julle as ’n getroude paartjie saamwoon. Dit is beter om ’n huweliksmaat te kies omdat julle dieselfde waardes en oortuigings het eerder as om iemand te kies net omdat julle seksueel aangetrokke tot mekaar is.

 Die Bybel bevat raad wat jou kan help om ’n gelukkige en stabiele huwelik te ontwikkel. b Byvoorbeeld, die Bybel bevat beginsels wat jou kan help om . . .

 Om meer oor hierdie onderwerpe uit te vind, sien die deel “Die huwelik en die gesin” op jw.org.

 Bybelwaarheid: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig.” – 2 Timoteus 3:16.

a Sien die artikel “Regverdig romantiese liefde voorhuwelikse seks?

b In party kulture is dit algemeen vir ouers om ’n huweliksmaat vir hulle seun of dogter te help kies. Wanneer dit die geval is, kan die Bybel ouers help om te weet watter eienskappe om na te soek.