Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om jaloesie in die huwelik te vermy

Hoe om jaloesie in die huwelik te vermy

 ’n Huwelik kan nie suksesvol wees as huweliksmaats agterdogtig is of mekaar nie vertrou nie. So hoe kan jy dit vermy om sonder rede jaloers te wees?

In hierdie artikel

 Wat is jaloesie?

 Die woord “jaloesie” kan verskillende dinge beteken. In hierdie artikel verwys dit na die emosie wat ons voel wanneer ons dink dat iemand romanties in ons huweliksmaat belangstel of dat ons huweliksmaat romanties in iemand anders belangstel. Ons kan voel dat ons huwelik in gevaar is. As dit regtig die geval is, dan is jaloesie normaal en gepas. Die huwelik is tog die hegste band tussen twee mense, en ’n paartjie moet alles doen wat hulle kan om dit te beskerm.

 Bybelwaarheid: “Hulle is . . . nie meer twee nie, maar een vlees. Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” – Matteus 19:6.

 “As jou huwelik in gevaar is, is jaloesie soos ’n waarskuwing dat daar ’n brand is wat jou beweeg om iets te doen.” – Benjamin.

 Onredelike jaloesie is egter gemotiveer deur agterdog en vrees sonder rede. As ons regtig lief is vir ons maat, sal ons sulke soort skadelike jaloesie vermy (1 Korintiërs 13:4, 7). Dr. Robert L. Leahy skryf: “Die optrede as gevolg [van ongegronde jaloesie] kan hierdie verhouding wat jy wil beskerm, in gevaar stel.” a

 Wat veroorsaak onredelike jaloesie?

 Jy sal dalk geneig wees om onredelik jaloers te wees as ’n vorige huweliksmaat ontrou was aan jou. Of miskien het jou ouers se huwelik misluk as gevolg van ontrouheid, en nou is jy bang dat dieselfde met jou huwelik sal gebeur.

 “Toe ek jonk was, was my pa ontrou aan my ma, en daarom is dit vir my moeilik om ander te vertrou. Dit het my emosioneel beskadig, en as gevolg hiervan is dit soms vir my moeilik om my man te vertrou.” – Melissa.

 Nog ’n faktor: As jy geneig is om onseker oor jouself te voel, is dit dalk maklik vir jou om te dink dat ander jou huwelik probeer vernietig. Jy kan selfs begin glo dat jou maat jou maklik sal verlaat om saam met iemand anders te wees.

 “My man was gevra om ’n strooijonker by sy vriend se troue te wees, wat beteken het dat hy op sekere tye saam met ’n strooimeisie moes wees. Ek het nie daarvan gehou nie. Hy moes nee sê.” – Naomi.

 Gebruike by troues verskil van land tot land, en Christene moet deur Bybelbeginsels gelei word. Was Naomi redelik by daardie geleentheid? As sy nou terugdink, erken sy dat sy nie rede gehad het om jaloers te wees nie. Sy sê: “Op daardie stadium het ek onseker oor myself gevoel. Ek het gedink dat my man my met ander vrouens vergelyk, maar dit was alles net in my verbeelding.”

 Dit maak nie saak wat die oorsaak is nie, ongepaste jaloesie kan veroorsaak dat jy agterdogtig is en dat jy selfs jou maat onregverdig beskuldig van ontrouheid. Sulke gevoelens sal probleme veroorsaak wat jou huwelik beskadig en moontlik selfs jou gesondheid.

 Bybelwaarheid: “Jaloesie vreet ’n mens op.” – Spreuke 14:30.

 Hoe kan jy jou jaloesie beheer?

 Versterk jou vertroue. Eerder as om te soek vir tekens van ontrouheid, dink aan maniere hoekom jy jou maat kan vertrou.

 “Ek dink aan my man se goeie eienskappe. Wanneer hy aandag aan iemand anders gee, is dit omdat hy regtig omgee, nie omdat hy verkeerde motiewe het nie. Ek moet myself herinner dat my ouers se huwelik nie my huwelik is nie.” – Melissa.

 Bybelwaarheid: “Liefde . . . glo alles.” – 1 Korintiërs 13:4, 7.

 Bevraagteken hoekom jy agterdogtig is. Dr. Leahy, wat vroeër aangehaal is, skryf: “Partykeer glo ons dat as ons iets dink, dit die waarheid moet wees. Net omdat ons seker is dat iets waar is, dink ons dat dit bewys dat dit die waarheid is. Maar net omdat jy glo dat iets die waarheid is, beteken nie dat dit so is nie, en ons oortuiging is nie regtig bewys daarvan nie.” b

 “Wanneer ons meer lees in ’n situasie en tot die verkeerde gevolgtrekking kom, kan ons onnodig ’n probleem skep.” – Nadine.

 Bybelwaarheid: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.” – Filippense 4:5.

 Praat oor jou bekommernisse. Dit maak nie saak hoekom jy jaloers is nie, praat met jou maat en sê vir hom of haar wat jou pla. Dit sal dan goed wees as julle saam kan besluit oor watter gedrag redelik en aanvaarbaar is.

 “In hierdie soort gesprekke moet jy aanneem dat jou maat jou nie wil seermaak nie en dat hy of sy ook probeer om goeie besluite te neem. Gee mekaar die voordeel van die twyfel. Miskien is jy oorsensitief en verwag jy te veel. Of miskien besef jou maat nie dat hy of sy nie vir jou die aandag gee wat jy nodig het nie.”Ciara.

 Bybelwaarheid: “Laat elkeen nie sy eie voordeel bly soek nie, maar dié van die ander persoon.” – 1 Korintiërs 10:24.

a b Uit die boek The Jealousy Cure.