Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Prediker 3:11 – “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd”

Prediker 3:11 – “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd”

 “Hy het alles mooi gemaak op die regte tyd. Hy het selfs die ewigheid in hulle hart gesit. Tog sal die mensdom nooit die werke van die ware God ten volle verstaan nie.” – Prediker 3:11, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.” – Prediker 3:11, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Prediker 3:11

 “Hy het alles mooi gemaak op die regte tyd.” Die Hebreeuse woord wat hier met “mooi” vertaal word, verwys nie net na iets wat mooi lyk nie. Dit kan ook vertaal word met “ordelik” of “gepas” (Prediker 3:11, voetnoot). God se mooi werke sluit nie net al die dinge in wat hy gemaak het nie, maar ook alles wat hy doen om sy wil te laat gebeur. – Daniël 2:21; 2 Petrus 3:8; Openbaring 4:11.

 “Hy het selfs die ewigheid in hulle hart gesit.” God het die mens geskep om vir ewig te lewe (Psalm 37:29). Dit maak dan sin dat hy hulle met hierdie begeerte om vir ewig te lewe, gemaak het. Maar die eerste mensepaar, Adam en Eva, was ongehoorsaam aan God en het die dood oor hulleself en hulle nageslag gebring (Genesis 3:17-19; Romeine 5:12). Tog het God belowe om “die begeerte van alles wat lewe [te bevredig]”, insluitende die mens se begeerte om vir ewig te lewe (Psalm 145:16). Die Bybel verduidelik hoe Jehovah dit moontlik gemaak het vir mense om weer die vooruitsig op die ewige lewe te hê. – Romeine 6:23.

 “Tog sal die mensdom nooit die werke van die ware God ten volle verstaan nie.” God se wysheid is so diep en ontsaglik dat die Bybel sê dat ‘niemand [dit] ten volle kan begryp nie’ (Romeine 11:33). Maar God is bereid om sy doel te openbaar aan diegene wat hom gelukkig wil maak. – Amos 3:7.

Konteks van Prediker 3:11

 Die boek Prediker is deur koning Salomo van eertydse Israel geskryf, ’n man wat bekend was vir sy godgegewe wysheid. Dit bevat praktiese raad oor wat regtig saak maak in die lewe en wat waardeloos is (Prediker 1:2, 3; 2:1, 17; 7:1; 12:1, 13). In hoofstuk 3 beskryf Salomo party van die dinge wat algemeen is in die lewe. ’n Hele paar verskillende bedrywighede of werke word genoem (Prediker 3:1-8, 10). God het die mens die vryheid gegee om te kies aan watter van hierdie bedrywighede hulle wil deelneem en wanneer hulle dit wil doen (Deuteronomium 30:19, 20; Josua 24:15). Salomo verduidelik dat net wanneer mense saam met God se doel werk en respek het vir Sy “vasgestelde tyd” – sy rooster – hulle regtig die resultate van hulle harde werk kan geniet. Salomo noem dit “die gawe van God”. – Prediker 3:1, 12, 13.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Prediker te kry.