Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Filippense 4:13 – “Ek is tot alles in staat deur Christus”

Filippense 4:13 – “Ek is tot alles in staat deur Christus”

 “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” – Filippense 4:13, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” – Filippense 4:13, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Filippense 4:13

 Hierdie woorde is deur die apostel Paulus geskryf. Dit gee mense wat God aanbid, die versekering dat hulle krag sal kry om Sy wil te doen.

 Party Bybelvertalings sê dat Christus die een is wat Paulus krag gegee het. Maar in die oudste Griekse manuskripte kom die woord “Christus” nie hier voor nie. Daarom is daar baie moderne vertalings wat bewoording gebruik soos “deur hom wat my krag gee” (Nuwe Wêreld-vertaling) en “deur Hom wat my krag gee” (Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983); Nuwe Lewende Vertaling). So na wie het Paulus hier verwys?

 Wat Paulus vroeër in dieselfde brief geskryf het, wys dat hy na God verwys het (Filippense 4:6, 7, 10). Paulus het aan die Filippense geskryf: “Dit is God wat julle versterk . . . en die krag [gee] om op te tree” (Filippense 2:13). En in 2 Korintiërs 4:7 het hy geskryf dat dit God was wat hom die krag gegee het om sy bediening uit te voer. (Vergelyk 2 Timoteus 1:8.) Daarom is daar goeie redes om tot die gevolgtrekking te kom dat Paulus na God verwys het toe hy gepraat het van “hom wat my krag gee”.

 Wat het Paulus bedoel toe hy geskryf het dat hy “vir alles” krag sou kry? Die dinge waarna Paulus verwys het, was blykbaar die verskillende situasies waarin hy was terwyl hy God se wil gedoen het. Of hy nou baie of min materiële dinge gehad het, hy het op God vertrou om vir hom te sorg. So Paulus het geleer om tevrede te wees met wat hy het, wat ook al sy omstandighede was. – 2 Korintiërs 11:23-27; Filippense 4:11.

 Paulus se woorde kan God se aanbidders vandag gerusstel. God sal hulle die krag gee wat hulle nodig het om deur moeilike tye te kom en om sy wil te doen. God kan hulle krag gee deur middel van sy heilige gees, of werkende krag, sowel as deur mede-aanbidders en sy Woord, die Bybel. – Lukas 11:13; Handelinge 14:21, 22; Hebreërs 4:12.

Konteks van Filippense 4:13

 Hierdie woorde kom aan die einde voor van Paulus se brief aan die Christene in Filippi. Hy het hierdie brief omtrent 60-61 HJ geskryf, gedurende sy eerste gevangenskap in Rome. Vir ’n tyd lank kon die Christene in Filippi nie die apostel Paulus materieel ondersteun nie. Maar nou het hulle geskenke aan Paulus gestuur sodat hy alles kon hê wat hy nodig gehad het. – Filippense 4:10, 14.

 Paulus het die Christene in Filippi geprys vir hulle vrygewigheid en hulle verseker dat hy alles het wat hy nodig gehad het (Filippense 4:18). Hy het ook gebruik gemaak van die geleentheid om ’n belangrike waarheid oor Christelike lewe met hulle te deel: Alle Christene, ryk of arm, kan regtig tevrede wees met wat hulle het as hulle staat maak op God se hulp. – Filippense 4:12.