Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

2 Timoteus 1:7 – “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie”

2 Timoteus 1:7 – “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie”

 “Want die gees wat God ons gegee het, maak ons nie lafhartig nie, maar gee ons krag, liefde en gesonde verstand.” – 2 Timoteus 1:7, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” – 2 Timoteus 1:7, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van 2 Timoteus 1:7

 God kan ’n persoon help om moedig te wees en om die regte ding te doen. God wil nie hê dat enigiemand “lafhartig” moet wees nie – dit is ’n ongesonde vrees wat iemand kan keer om die dinge te doen wat God se hart bly maak.

 Kom ons kyk na die drie eienskappe in hierdie vers wat God ons gee en wat ons kan help om vrees of lafhartigheid te oorkom.

 “Krag.” Christene kon God al moedig dien ten spyte van gevaarlike vyande en situasies. Hulle het nie weggehardloop omdat hulle bang is nie (2 Korintiërs 11:23-27). Hoe het hulle dit reggekry? Die apostel Paulus het gesê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:13). God kan sy aanbidders “die krag wat bo die normale is,” gee om enige uitdaging te oorkom. – 2 Korintiërs 4:7.

 “Liefde.” Sterk liefde vir God help ’n Christen om moedig op te staan vir wat reg is. Net so moet liefde vir ander ’n Christen motiveer om meer vir ander om te gee as vir homself, selfs wanneer daar teenkanting of gevaar is. – Johannes 13:34; 15:13.

 “Gesonde verstand.” In die Bybel verwys gesonde verstand gewoonlik na ’n Christen se vermoë om wyse besluite te maak wat op die Bybel gebaseer is. Iemand met gesonde verstand kan verstandig en redelik bly selfs al gaan hy deur moeilike tye. Hy kan besluite maak wat wys dat hy soos God dink, want hy weet dat sy verhouding met God baie belangriker is as ander se opinies.

Konteks van 2 Timoteus 1:7

 Die Bybelboek Tweede Timoteus is deur die apostel Paulus geskryf en is ’n brief aan sy dierbare vriend en medewerker Timoteus. In hierdie brief het Paulus die jong man Timoteus op ’n liefdevolle manier aangemoedig om hard te werk in die bediening (2 Timoteus 1:1, 2). Timoteus was dalk ’n bietjie skaam en teruggetrokke, wat hom kon terughou in sy bedrywighede in die Christengemeente (1 Timoteus 4:12). Maar Paulus het Timoteus herinner dat hy ’n gawe ontvang het – ’n spesiale toewysing van diens in die gemeente. Hy het Timoteus aangemoedig om nie bang te wees wanneer hy sy gesag as ’n gemeentelike opsiener uitoefen, wanneer hy die goeie nuus verkondig en wanneer hy deur moeilike tye gaan ter wille van sy geloof nie. – 2 Timoteus 1:6-8.

 Hierdie woorde is oorspronklik vir Timoteus geskryf. Maar dit verseker almal wat God vandag wil dien dat hy hulle die hulp sal gee wat hulle nodig het om dit suksesvol te doen, maak nie saak wat die uitdaging is nie.